Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia gekies om akademici by internasionale konferensie toe te spreek

Gepubliseer op: 19 Junie 2018

Vyf akademici van die privaat hoëronderwysinstelling, Akademia, is genooi om voorleggings by die 43ste Verbetering van Universiteitsonderrig-konferensie aan te bied wat vanaf 27 tot 29 Junie 2018 by die Charles Sturt-Universiteit in Port Macquarie, Australië, plaasvind. Vanjaar se konferensietema is getiteld “Nuwe ruimtes vir leer: Geleenthede en uitdagings vir innoverende onderrig”. Met inagname van haar unieke hoëtegnologiese onderrig­leermodelle is Akademia se deelname aan hierdie konferensie uiters gepas.

Akademia-dosente sal drie referate by die konferensie lewer wat handel oor verskeie digitale onderrig-relevante temas, naamlik “Die Akademia-model: Eersteklas innovasie in ʼn Derdewêreld land”, “Die skep van geleenthede uit leerruimte-uitdagings” en “Die verbetering van opleiding deur innoverende assesserings in ʼn gemengde omgewing te gebruik”.

Deur ʼn werklike klaservaring by Akademia aan konferensiegangers te simuleer, hoop die instelling om nie nét te spog met haar digitale onderrigleermodelle nie, maar ook om suksesse en uitdagings met mede-akademici te deel. Tydens die besoek aan Australië gaan Akademia ook by ander universiteite se deure aanklop, onder andere die Universiteit van Adelaide, Universiteit van Sydney, en die Universiteit van Wes-Australië. Die doel van hierdie universiteitsbesoeke is om Akademia se onderrigmodelle verder uit te bou en ʼn selfs meer innoverende onderrigervaring vir Afrikaanssprekende studente te skep.

“Ons is trots op ons akademici wat die instelling by hierdie konferensie gaan verteenwoordig. Akademia se hoëtegnologiese onderrigmodelle is oor die afgelope sewe jaar as ʼn wenresep bewys. Dat daar drie onderskeie referate vir lewering by ʼn geagte internasionale konferensie gekeur is dien weereens as bevestiging dat Akademia op die voorpunt van innovasie in die hoëronderwysomgewing is,” stel dr. Saretha Brüssow, dekaan by Akademia.