Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Splinternuwe privaat koshuisverblyf vir Akademia-studente bekendgemaak

Gepubliseer op: 19 Nobember 2021

Akademia het tydens ʼn bekendstellingsfunksie op Vrydag 19 November nuus bekendgemaak dat daar vanaf 2022 bykomende privaat koshuisverblyf aan Akademia-studente in Clubview, Centurion beskikbaar gestel gaan word. Die nuwe perseel staan bekend as koshuis@Leriba (die voormalige en bekende Leriba Lodge) en bied veilige oop studenteparkering, toegang tot ʼn gimnasium, swembaddens, braaigeriewe, luukse studentekamers, Wi-Fi, ontspanningsareas, ʼn eetsaal en restaurant. Die perseel is slegs 2,5 km vanaf Akademia se voltydse Gerhardstraat-kampus in Centurion.

Senior studente sal vanaf middel-Januarie by hierdie nuwe perseel kan nesskrop, en eerstejaars sal na afloop van die eerstejaarskamp intrek. Die verblyf sal gemaklik 116 studente in dubbelkamers met aangrensende badkamers kan huisves. Kamers word ten volle toegerus met ʼn lessenaar per student, twee enkelbeddens, bedtafel, ingeboude kaste en ʼn koffiestasie met ʼn klein yskas. Daar is ook gedeelde kombuis-, was- en opdrooggeriewe op die perseel beskikbaar.

“Akademia het ʼn huurooreenkoms met die eienaars van die bekende Leriba Lodge aangegaan, om bykomende studenteverblyf vir studente daar te stel,” vertel Marthinus Visser, besturende direkteur. “Dié daarstel van bykomende privaat studenteverblyf gebeur teen die agtergrond van die omvattende residensiële kampus wat Akademia oor vyf jaar in die ooste van Pretoria wil oprig. Hierdie kampus gaan uiteindelik 5 000 voorgraadse studente kan akkommodeer en 1 500 beddens beskikbaar stel.”

Die perseel se spoggerige kamers en fasiliteite word omring met pragtige bome en struike, wat die gevoel van ʼn vakansieoord skep. Die perseel is uitstekend ingerig vir ʼn koshuisopset, en ouers kan met ʼn geruste hart hulle kinders na veilige en gerieflik geleë verblyf stuur.

Visser noem verder dat die privaat koshuisverblyf, tesame met die reeds bestaande koshuisverblyf wat tans 22 studente huisves, die uitstekende geleentheid skep om nou al te leer hoe om ʼn betekenisvolle koshuislewe van nuuts af te vestig. Die oogmerk van die verblyf is om by te dra tot ʼn gesonde en ondersteunende studentelewe vir Akademia-studente.

Daar is geen twyfel dat studente wat op koshuis@Leriba woon behoorlik geskiedenis gaan maak nie. Hier gaan studente nuwe koshuistradisies vestig, terwyl hulle deelneem aan opwindende koshuisaksies en ander buitemuurse sportgeleenthede. Klik hier vir meer inligting oor die verblyf, of maak ʼn afspraak by studenteverblyf@akademia.ac.za om die perseel te besoek.

Voornemende studente kan in Akademia se studieaansoekproses aandui of hulle in studenteverblyf belangstel. Meer inligting word aan belangstellendes via e-pos gestuur. koshuis@Leriba, hiér voel studente tuis!

koshuis@Leriba het plek vir 116 studente om hulself hier uit te leef.
Die eetsaal sal teen ʼn addisionele koste al die student se etes voorsien.
Die dubbelkamers is ingerig vir twee studente om gerieflik saam te woon.