Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se eerste BComHons-studente stel navorsingsvaardighede ten toon

Gepubliseer op: 17 November 2023

Fonties in Akademia se eerste honneursprogram, BComHons (Ondernemingsbestuur), het die 2023-akademiese jaar op ʼn hoë noot afgesluit. Dié vyftien studente het op 11 November die geleentheid gehad om hul nuutgevonde navorsingskennis en -vaardighede tydens ʼn spesiale voorleggingsgeleentheid ten toon te stel.

ʼn Paneel kundiges, bestaande uit akademiese personeel vanuit die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia, het die onderskeie voorleggings beoordeel, vrae gestel aan die hand van die groepe se gekose navorsingsmetodes en waardevolle terugvoer gegee. Die paneellede – Elize-Mari Coetzer, Bernard Odendaal, Johann Smith, Monique Visser, Salomien Boshoff en Tho-Marie Stolz – was dit eens dat die voorleggings alle verwagtinge oortref het en dat die studente hulself uitstekend van hul taak gekwyt het.

Die volgende navorsingstemas is voorgelê:

  • Die impak van Kunsmatige intelligensie (KI) in die werksplek van regsfirmas
  • Mikrobestuur, vrees vir mislukking en individuele innoverendheid in klein- en mediumgrootte ondernemings (KMO’s) binne die Suid-Afrikaanse konteks
  • Sintuie op die spits: Die piek-einde-reël en die effek op ervarings
  • Voorsienningsketting-risikobestuur in klein- en mediumgrootte ondernemings in Suid-Afrika
  • Besluitnemingstyle versus bestuursvlakke
  • Die verhouding tussen leierskap, strategiese terugvoer en strategiese uitkomstes in mikro-ondernemings

“Die navorsingsproses kan baie uitdagend wees, veral vir onervare navorsers. Ons as dosente is egter baie opgewonde oor die toekoms van hierdie nuwe navorsers. Die standaard van die projekte was hoog en spreek tot die hartklop van navorsing, naamlik ʼn gees van leergierigheid en ʼn sterk akademiese fokus,” het Boshoff na afloop van die geleentheid gesê.

Volgens Elize-Mari Coetzer, departementshoof van Bestuurswetenskappe by Akademia, het die honneursprogram ʼn tweeledige fokus. In die eerste plek het dit ten doel om studente binne ʼn globale konteks toe te rus met die nuutste ondernemingsbestuurkennis, -vaardighede en -bevoegdhede om probleme te ontleed en op te los. Tweedens is die program daarop gerig om studente op ʼn teoretiese en praktiese wyse bloot te stel aan die navorsingsproses. Sy beklemtoon dit verder dat ʼn honneurskwalifikasie as ʼn koppeling tussen teorie en die praktyk gesien moet word. “Kontaksessies en assesserings volg die benadering waar studente die teorie en praktiese scenario’s met mekaar moet versoen en krities daarop moet reflekteer. In die werkplek is kritiese denke van kardinale belang en dit is wat ʼn Akademia-honneursstudent van ander sal onderskei, tesame met die karaktervorming wat die instelling aan studente bied,” verduidelik sy.

In die lig hiervan dien die voorleggingsgeleentheid op sigself ook as ʼn vaardigheidsontwikkelingsgeleentheid. Studente moet in groepsverband kan saamwerk, hul navorsingsproses en -bevindinge saaklik en grafies kan voorstel én met ʼn gehoor kan praat.

Die BComHons (Ondernemingsbestuur)-program word via Akademia se nauurse afstandsmodel aangebied, wat beteken dat studente steeds bedags voltyds kan werk of ander belangstellings najaag. Anelsje de Vos, ʼn student uit die Kaap, meen sy is baie dankbaar vir die praktiese aard van die program. Sy droom daarvan om in die in- en uitvoerebedryf te spesialiseer en sê dat haar navorsingsbegronding ʼn groot rol in dié strewe speel. Op haar beurt sê Nádine Grant dat sy danksy die navorsingskomponent van die program nou ʼn beter geheelbeeld van die sakeomgewing het. Beide De Vos en Grant kon ook danksy die aanpasbaarheid van die nauurse afstandsmodel voltyds werk en praktiese ervaring opdoen.

Studieaansoeke vir 2024 se BComHons (Ondernemingsbestuur)-program is steeds oop en belangstellendes het tot en met 8 Januarie 2024 tyd om aansoek te doen. Klik gerus hier vir meer inligting oor dié program.

Die eerste groep studente in die BComHons (Ondernemingsbestuur)-program het onlangs hul nuutgevonde navorsingskennis tydens ʼn voorleggingsgeleentheid ten toon gestel.
Tydens die voorleggingsgeleentheid moes studente hul navorsingsprojekte aan ʼn paneel kundiges voorlê.