Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-alumnus: Om te studeer verryk my menswees

Gepubliseer op: 20 November 2023

Verna Muller Nel (51) vervul vele rolle met passie en ʼn onblusbare entoesiasme. Óf dit nou as eggenoot, ma, ouma, sakebestuurder, entrepreneur óf Akademia-alumnus is, een ding is seker: dié inwoner van die Weskus wéét wat sy wil hê en skram nie weg van ʼn uitdaging nie.

As oud-BCom (Ondernemingsbestuur)-student staan Nel haar plek vol by Efficient Wealth, waar sy die hoofbestuurder van Efficient Healthcare Consulting is.  Hoewel sy reeds vir die grootste gedeelte van haar professionele loopbaan in bestuursposisies werksaam is, meen Nel dat haar huidige rol haar liefde vir mense én haar strewe na waardetoevoeging kombineer.

Nel, wat weens finansiële druk destyds nie direk na skool verder kon studeer nie, gesels geesdriftig oor haar studiereis aan Akademia. Dié reis het amptelik in 2017 begin nadat Nel ʼn insetsel oor Akademia op die gewilde ontbytprogram, Groot Ontbyt, op KykNET gesien het. “Tydens die program is dit genoem dat die instelling nog laat aansoeke aanvaar, en ek onthou dat ek net instinktief gewéét het dat dit die regte tyd vir my was om my studiedroom te verwesenlik,” sê sy.

Nel het ook onmiddellik aanklank gevind by die nauurse afstandsmodel, omdat dit haar die vryheid gebied het om voltyds op haar loopbaan te fokus terwyl sy studeer het. Sy vertel dat die aanpasbaarheid van dié onderrigleermodel dit voorts vir haar moontlik gemaak het om verskeie reisverpligtinge vir haar werk na te kom. “Dit was vir my ʼn ongelooflike ervaring om vanuit die gemak van my eie woonkamer ʼn uiters hoogstaande klaskamerervaring te kon beleef en geniet,” sê sy verder.

Nel se deursettingsvermoë en veerkragtigheid is behoorlik op die proef gestel tydens die aanbreek van die koronaviruspandemie in 2020. Verhoogde druk by die werk én komplikasies na ʼn groot operasie het haar genoop om haar studies vir ʼn wyle opsy te skuif. Nadat sy haar studies hervat het, het sy ook afgeskaal op die aantal modules wat sy per semester geneem het. “Ek het deurgedruk en hierdie uitdagings oorkom en sal in 2024 trots oor die verhoog stap tydens die kwalifikasieplegtigheid. Ek kan nie wag nie!” sê Nel.

“As ek terugkyk oor my studies by Akademia kan ek eerlikwaar sê dat elke dosent ʼn blywende indruk op my gemaak het,” vertel Nel. Sy is veral vol lof vir Berrie Stoop, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe. “Ek het nie rekeningkunde as vak op skool gehad nie, en ek onthou hoe senuweeagtig ek was om nou, jare later, as deel van my studies my hand aan rekeningkunde te moes waag. Danksy Stoop se leiding en insig is ek heelhuids daardeur en moet ek byvoeg dat ek op die ou einde nogal van die module gehou het!” meen Nel. Ander modules waarby Nel aanklank gevind het, was onderskeidelik voorsieningskettings- en projekbestuur. Sy oorweeg dit juis om haar projekbestuurskennis uit te brei met ʼn nagraadse kwalifikasie in dié rigting. Sy voeg by dat Ondernemingsbestuur die ideale pasmaat is vir enige student met ʼn entrepreneuriese ingesteldheid.

“Ek kan Akademia met selfvertroue en trots aan enige werkende individu aanbeveel. Die dosente is kundig en danksy die instelling se tegnologiese ingesteldheid is die leerproses maklik en effektief. Dit is grotendeels te danke aan die nauurse afstandsmodel dat ek die digitale era met gemak kan navigeer, dat ek in spanverband oor grense heen saam kan werk én dat ek die belangrikheid en waarde van lewenslange leer besef,” getuig Nel.

Sy sluit af deur te sê dat studentwees haar menswees verryk het, en dat sy dié lewensrol met oorgawe en diepe dankbaarheid kon vervul danksy die geleenthede wat Akademia by wyse van die nauurse afstandsmodel vir haar ontsluit het.

Akademia is trots op sy oudstudente en dit is verblydend om te sien hoe lede van die alumni-netwerk die waarde van deurlopende leer besef en aangryp. Die instelling hou Nel se beroepsimpak met afwagting dop.

Verna Muller Nel meen sy is Akademia ewig dankbaar vir die studiegeleentheid wat dié instelling se nauurse afstandsmodel vir haar ontsluit het.