Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Studie as die beste belegging in die huidige ekonomiese klimaat

Gepubliseer op: 13 November 2023

Geskryf deur Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia

Naskoolse studie word in vandag se tyd gesien as baie duur en dit neem ʼn geruime tyd om ʼn kwalifikasie agter jou naam te kry. In die VSA is studieskuld die grootste vorm van skuld – selfs groter as huisskuld. Die logiese vraag is dus of dit nog steeds die moeite en geld werd is om studie in die huidige ekonomiese klimaat aan te pak? Om die vraag in finansiële terme te formuleer: Is die opbrengs op my studiebelegging die moeite werd?

Die Amerikaanse ekonoom, Milton Friedman, was van mening dat ʼn belegging in die ontwikkeling van mense, die beste opbrengs vir ʼn onderneming is. Soveel te meer is ʼn belegging in jouself deur middel van studie, die beste belegging, met die grootste opbrengs wat jy kan maak – heelwat beter as ʼn belegging in eiendom of die aandelemark.

In Suid-Afrika is die werkloosheidskoers onder gegradueerdes baie laag en dit strook met die werkloosheidkoerse van sterk Westerse ekonomieë. Voorts is daar ʼn sterk direkte positiewe verband tussen inkomstevermoë en kwalifikasies. Mens sou hieruit kon aflei dat, oor die algemeen, mense met kwalifikasies, meer inkomste verdien as diegene daarsonder.

ʼn Bykomende aspek van studeer wat dikwels misgekyk word, is die “sagte” voordele van studentwees. Studente word geplaas in studiegemeenskappe waar hulle lewenslange kennisse, vriendskappe en netwerke vestig. Vervolgens ontwikkel studente denke en ingesteldhede wat noodsaaklik is om betekenisvol te kan lewe.

Die volgende vraag onstaan wanneer jy besluit om hierdie opwindende reis te onderneem: Waar gaan jy jou studie aanpak? Daar is verskeie redes waarom Akademia vir jou die ideale studietuiste kan wees. Die eerste rede is moedertaalonderrig. Navorsing het oor en oor bewys dat jou moedertaal die beste taal is om moeilike konsepte beter te verstaan en te bemeester.

Sommige Suid-Afrikaners glo egter dat dit beter is om in Engels te studeer weens beter geleenthede in die werksplek. In dié opsig is dit egter belangrik om ʼn onderskeid te tref tussen die taal van studie en die taal van kommunikasie. Die omvang van die woordeskat wat in die werksplek gebruik word, is meesal klein en redelik oppervlakkig. Wanneer jy jouself in die hoër onderwys begewe kry jy te doen met komplekse konsepte, begrippe en hoë volumes werk wat jy moet kan bemeester. Die woordeskat wat jy nodig het om hierdie inhoude te kan bemeester is dié van ʼn volledige taal. Hierdie woordeskat moet ook heelwat uitgebrei word tydens jou studie. As jou moedertaal dus Afrikaans is, is Akademia ʼn uitstekende keuse vir jou om akademies te kan floreer.

Die tweede rede waarom Akademia ʼn goeie studiekeuse is, is omdat die instelling ʼn baie hoë premie op gehalte plaas. Vir jou om deel te word van ʼn uitgelese groep mense wat by Akademia ʼn kwalifikasie verwerf, gaan jy hard en eerlik moet werk en die leerinhoude moet bemeester. Gehalte word ook verder verseker deur dosente aan te stel wat deurlopend goed opgelei word. Akademia huldig die siening dat die beste dosente daarvoor verantwoordelik is om hul onderskeie modules te doseer en nie as gevolg van hul navorsingsverpligtinge uit die klas gehou moet word nie.

Nóg ʼn belangrike rede waarom Akademia ʼn ideale keuse vir studie is, is die studentelewe. By Akademia is die studentelewe belyn met die instelling se waardes, visie en bestaansrede wat daarop gemik is om ons studente se menswees te help vorm. Wanneer jy deel vorm van Akademia se bruisende en lewenskragtige studentelewe word jy ook deel van ʼn sterk en aktiewe studentegemeenskap, ongeag of jy aan die voltydse kampusmodel of nauurse afstandsmodel studeer.

Aan elkeen wat Akademia as studietuiste oorweeg, baie dankie. Wanneer ʼn stemvurk geslaan word vibreer hy teen ʼn sekere frekwensie. Ons hoop dat wanneer die Akademia-stemvurk geslaan word daardie selfde frekwensie in jou hart resoneer. Jy sal dan gelukkig by Akademia wees en die meeste uit jou studie by hierdie wonderlike instelling kan put.

Marthinus Visser is die besturende direkteur van Akademia.