Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-alumnus: Volpunte vir Akademia as dinamiese studietuiste

Gepubliseer op: 13 November 2023

Vir alumnus, CJ Montgomery (25), is daar nie ʼn meer voor die handliggende besluit vir ʼn voornemende student om te maak as dié van Akademia as ʼn dinamiese studietuiste nie. Dié oud-BCom (Bestuursrekeningkunde)-student droom reeds vanaf skooldae af oor ʼn loopbaan in finansies en vandag, as ʼn geregistreerde rekeningkundige klerk, sien hy opgewonde daarna uit om dié droom te verwesenlik.

Montgomery se studiereis by Akademia het in 2017 by wyse van die nauurse afstandsmodel posgevat, waarna hy in 2021 weer sy Fontie-baadjie aangetrek het en die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde suksesvol voltooi het. Vir die duurte van sy studies was hy betrokke by die Centurion-sentrum.

“Ek het as matrikulant die eerste keer oor die radio van Akademia gehoor, en ek wou onmiddellik meer weet. Gróót was my verbasing toe ek uitvind dat ek vir die verloop van my studies in Afrikaans kon studeer én dat die BCom (Bestuursrekeningkunde)-program by die Chartered Institute for Management Accountants (CIMA) geakkrediteer is. Ek het nie vir ʼn oomblik getalm om aansoek te doen nie. Die res is soos hulle sê, geskiedenis!” vertel Montgomery.

Volgens Montgomery het die nauurse afstandsmodel hom die vryheid gebied om sy tyd op só ʼn manier in te ruim dat hy sy studieskedule kon prioritiseer volgens sy behoeftes. Die feit dat die vakinhoud in Afrikaans oorgedra is, het verder gehelp dat hy nuwe konsepte baie vinnig kon baasraak.

“My gunstelingmodule was Ondernemingsbestuur en ek is tot vandag toe baie dankbaar vir my ongelooflike dosente – Rika Nieuwoudt, Roelien Botha en Nicolene Coetzee,” sê Montgomery. Hy voeg by dat dié en ander dosente altyd die ekstra myl vir hom en sy klasmaats gestap het, goed voorbereid was én moeite gedoen het om waarde tot die leerproses toe te voeg. Laasgenoemde het onder meer addisionele klasse, bykomende oefening en selfs die beskikbaarstelling van gedetailleerde opsommings ingesluit. “Die dosente doen soveel méér as net klasgee, hulle is waarlik daartoe verbind om elke student te sien slaag. Hierdie ingesteldheid beteken die wêreld vir studente,” meen Montgomery.

Alhoewel Montgomery homself nog relatief vroeg in sy professionele loopbaanreis bevind, is hy van mening dat die rol wat Akademia in sy ontwikkeling gespeel het, van “onskatbare” waarde is. “Behalwe vir die insig om meer ondersoekend na uitdagings te kyk, het die nauurse afstandsmodel my gehelp om selfdissipline te kweek. Hierdie kritiese vaardigheid stel my in staat om my tyd en verantwoordelikhede effektief te bestuur,” verduidelik Montgomery.

As alumnus is dit vir Montgomery opwindend om te sien hoe Akademia groei, en hy is dit eens dat dié groei getuig van die harde werk van ʼn roepingsgedrewe personeelkorps. “Ek is ʼn trotse Akademia-ambassadeur, en ek kan met ʼn geruste hart my alma mater aan voornemende studente voorhou as ʼn impakvolle en dinamiese studietuiste,” sluit Montgomery af.

As Akademia-alumnus is CJ Montgomery trots op sy rol as ambassadeur. Hy meen dié instelling is ʼn voor die handliggende keuse vir enige voornemende student.