Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Afrikaanse privaat hoëronderwysinstellings stuur navorsingsveldtog vir ouers van stapel

Gepubliseer op: 7 November 2023

 Akademia, Bo-Karoo Opleiding en Sol-Tech het kragte saamgespan en ʼn nasionale ouerveldtog van stapel gestuur. Dié veldtog, wat vanaf 7 tot 21 November sal strek, het dit ten doel om ouers toe te rus met sinvolle inligting ten einde die besluit oor hul kinders se naskoolse studies te vergemaklik. Hierdie keuse vind plaas te midde van ʼn toenemende behoefte aan moedertaalonderrig en -opleiding in Suid-Afrika.

Die betrokke instellings verstaan, en erken, die sleutelrol wat ouers in hul kinders se toekomsbeplanning speel en daarom is hierdie navorsing spesifiek gefokus op ouers van leerders in die kritiekbelangrike skolastiese ouderdomme vanaf graad sewe tot twaalf. Dit is gedurende hierdie toekomsreis wat ouers verskillende rolle, op verskillende tye, vervul. Hierdie rolle sluit onder meer dié van voorsiener, ondersteuner, studieleier, lewensafrigter, beroepsadviseur, toekomsbeplanner, finansierder en vele meer in. Hierdie rolle tree na vore soos kinders ouer word en hul behoeftes verander, maar ongeag die tydstip waarin jy jouself as ouer bevind, is dit belangrik dat jy jou rol verstaan en op die regte tyd aanwend.

Ouers word aangemoedig om die vraelys te voltooi en sodoende ʼn lig te skyn op faktore wat vir hulle belangrik is as dit kom by die keuse van naskoolse opleidingsinstellings – selfs al voel dit of hierdie besluit nog ver in die toekoms lê. Terselfdertyd sal jou deelname aan die veldtog daartoe bydra dat:

  • Elk van hierdie privaat hoëronderwysvennote se bestaansredes na die breër gemeenskap uitgedra word ter ondersteuning van Afrikaanse onderwys en opleiding.
  • Effektiewe ouerkommunikasie, aan die hand van die deelnemende instellings se reeds bestaande inisiatiewe, bevorder word.
  • Waarde toegevoeg word tot die uitbouing van effektiewe ouerondersteuning.

Opwindende pryse is op die spel vir deelnemende ouers. Hierdie pryse sluit onder meer in twee skryfbehoeftepakkette (een vir ʼn laerskool- en een vir ʼn hoërskoolleerder) ter waarde van R1 000 elk, soos geborg deur Dean’s Stationary.

“Deur aan die veldtog deel te neem en die vraelys te voltooi sal jy as ouer jouself beter kan posisioneer om impakvolle ondersteuning aan jou kind te bied as dit kom by sy/haar naskoolse opleiding. Dit is voorts vir Akademia, as ʼn gemeenskapsinstelling, belangrik om die behoeftes en hart van sy ouergemeenskap te verstaan ten einde sy verbintenis tot uitnemende opleiding en uitstaande opvoeding te verwesenlik.” – Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder: Skolemark by Akademia.

“By Bo-Karoo Opleiding dra ons studente en hul ouers se belange op die hart en om dié rede stel ons hul tevredenheid hoog op prys. Ons is baie opgewonde oor ons deelname aan die veldtog en sien daarna uit om meer te leer oor die behoeftes van ons voornemende studente se ouers en só effektiewe kommunikasie te laat seëvier!” – Carla Loots, bemarkingsbeampte by Bo-Karoo Opleiding.

“Dit is vir Sol-Tech belangrik om te weet watter inligting ouers en hul kinders verlang om ingeligte besluite oor die toekoms te neem. As ʼn opleidinginstansie kan ons slegs waardevolle ondersteuning bied as ons weet watter inligtingsgapings daar bestaan.” – Chantal Swart, bemarkingsbestuurder by Sol-Tech.

Klik hier om die vraelys te voltooi.

Die deelnemende opleidingsinstansies, verteenwoordigend van Afrikaanse privaat hoëronderwysinstellings, het dit ten doel om die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te bedien. Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms. Bo-Karoo Opleiding bied aan studente die geleentheid om as roepingsgedrewe volwassenes die arbeidsmark te betree – stewig gegrond in hulle geloof en kultuur, op pad na ʼn hoopvolle toekoms. As beroepsopleidingsinstelling het Sol-Tech dit ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.