Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Om te waag om te leer, is om te waag om te wen – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 6 November 2023

Geskryf deur Moreen Coetzee, ʼn dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Die Latynse frase discere aude stel dit prontuit: waag om te leer! Gedagtig hieraan, word die vraag dikwels gevra: Wat is die toppunt van akademiese sukses? Méér nog: word sukses bloot aan akademiese prestasie gemeet? My antwoord hierop is ʼn onomwonde, nee!

Tradisioneelgesproke word die BLOTE voltooiing van ʼn akademiese kwalifikasie – hetsy ʼn sertifikaat, ʼn diploma of selfs ʼn graad, as ʼn hoogtepunt van sukses beskou. In die konteks van vandag se komplekse 21ste-eeuse wêreld, omhul dit egter nie volledig die vrugte van die onderwyservaring nie, veral nie in die konteks van lewenslange leerders nie. In kort gestel: dié onderwyservaring bied aan studente ʼn multidimensionele ontwikkelingsreis na sukses en persoonlike vervulling.

Terwyl onderwysinstellings die verantwoordelikheid aanneem om studente met kennis en vaardighede toe te rus is dit voorts van kardinale belang dat hoëronderwysinstellings juis voorsiening móét maak vir die kweking van ʼn ingesteldheid van akademiese volwassenheid. Só ʼn ingesteldheid is deurslaggewend en dien as die boustene wat studente in staat stel om in hul gekose velde te floreer. Laasgenoemde berus op studente se kapasiteit en selfgerigtheid om impakvolle individue te wees.

Sodanige omvattende en gebalanseerde onderwys en opleiding bou voort op die grondliggende kennis en vaardighede wat tydens primêre en sekondêre onderwys opgedoen word. Derhalwe die vaslegging van meer gevorderde kennis en gespesialiseerde vaardighede, bevorder verdere onderwys voorts persoonlike groei en ontwikkeling terwyl dit studente blootstel aan nuwe idees en perspektiewe. Die uiteinde is die bevordering en aanmoediging van kritiese denke en intellektuele ondersoek.

ʼn Leergierige ingesteldheid bevorder beide sosiale en emosionele groei en dien as ʼn dinamiese katalisator wat die ontwikkeling van onafhanklikheid, selfbewustheid en ʼn sin van doelgerigtheid tot gevolg het. Die vraag bly egter: Wat definieer die gehalte van ʼn suksesvolle opvoedkundige ervaring? Dit is immers hierdie toegevoegde gehalte wat studente help om die toekoms sinvol te navigeer.

Verandering is aan die orde van die dag, ook op die gebied van onderrig en leer. Navorsers en opvoedkundiges is dit eens dat denkleierskap uiteindelik die bloudruk van ʼn gehalte leerervaring is. Die omvang en impak van denkleierskap kan aan die hand van die volgende ses faktore verduidelik word:

  • Kritiese denke verwys na die maniere waarop studente inligting filtreer, ontleed en bevraagteken, in watter formaat ook al. Hierdie inligting word dan gesintetiseer om by hul begrip te pas.
  • Kohesie stel studente in staat om verskeie persoonlikheidseienskappe, talente en kennis te gebruik om outentiek uitkomste te realiseer.
  • Kommunikasie lei studente om idees en inligting op ʼn duidelike en betekenisvolle manier voor te stel ten einde in te lig, te onderrig, te motiveer en te oorreed.
  • Kreatiwiteit is die vermoë om van kennis en/of talente gebruik te maak om iets innoverend en eie te skep. Kreatiwiteit word aangeleer en moet daarom van so vroeg as moontlik af aangewakker en ontwikkel word.
  • Kultuur en burgerskap stel studente in staat om in voeling te wees met hul omgewing, om te weet en te waardeer waar hulle vandaan kom, en om die geskiedenis, die waardes en die oortuigings wat mense in hul samelewing koester, te huldig.
  • Konnektiwiteit (verbintenis) en karakteropvoeding verwys na die vaardighede wat opvoedkundiges aan studente oordra en bevorder. As deel van ʼn globale wêreld waar tegnologie deel uitmaak van die alledaagse lewe, moet studente in staat wees om tegnologie heelhartig te omarm. In dié proses speel opvoedkundiges ʼn belangrike rol om ʼn ingesteldheid van verantwoordelike, sorgsame en bydraende burgers voor te hou en te bevorder.

Die bogenoemde aspekte vorm die DNS van denkleierskap en is uniek tot elke student se holistiese ontwikkeling. Dit plaas voorts opnuut die fokus op die daarstelling van ʼn nuuskierige en leergierige ingesteldheid. Die gesegde lui: Wie nie waag nie, wen nie. En nêrens is dié wysheid meer van toepassing as in die lewe van lewenslange leerders nie.

Moreen Coetzee, dosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, meen die ontwikkeling van denkleiervaardighede moet as die hoogtepunt van enige opvoedingservaring beskou word. Hierdie vaardighede stel studente in staat om die toekoms suksesvol te navigeer.

Gepubliseer op: 26 Junie 2023