Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Matrikulante: Kyk terug in die eksamentruspieël om sukses te behaal

Gepubliseer op: 1 November 2023

Geskryf deur Jhani Pottas ʼn dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Die matriekeindeksamen het aangebreek en meer as 723 000 kandidate sal vanjaar die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen aflê. Indien jy jouself in dié bootjie bevind, hou goeie moed.

Vra maar vir enige matrikulant, die aflê van eksamens gaan gepaard met gemengde reaksie. Aan die een kant is jy opgewonde, maar terselfdertyd voel dié assessering soos ʼn uitmergelende Formule 1-resies. Met die uitslae van die rekordeksamen nog vars in almal se geheue en so ook die angstigheid wat hiermee gepaard gegaan het, is dit belangrik om op die waarde van dié eksamen te fokus.

Die rekordeksamen is niks anders as ʼn oefenwedren vir die eindeksamen nie. As jy die vergelyking van die Formule 1-wedren verder voer, berei die kinkels en draaie van die rekordeksamen jou voor om as ervare renjaer die laaste wedren met selfvertroue te voltooi. Kyk terug op jou ervaring van die rekordeksamen en doen ʼn bestekopname van jou strategie. Vra jouself af of jy op koers is en of jy aanpassings moet maak met die oog op die eindeksamen.

Max Verstappen, die huidige F1-wêreldkampioen, het in ʼn onderhoud met ʼn joernalis van The Race aangevoer dat hy sonder ophou moet probeer verbeter as hy die kampioen wil bly. Gedagtig hieraan kan deeglike refleksie op die rekordeksamen vir jou van groot waarde wees in jou strewe om selfs nóg beter in die eindeksamen te vaar.

Wetenskaplik gesproke verwys refleksie na die metakognitiewe herbesinning oor ʼn spesifieke taak met die doel om uitdagings en suksesse te identifiseer. Hierdie refleksieproses stel leerders, soos jy, in staat om ʼn volgende soortgelyke taak méér suksesvol aan te pak.

Refleksie ná die afloop van die graad 12-oefenreneksamen, sal jou daarom in staat stel om jou voorbereidingsproses, jou belewenis van die aflê van die eksamen en ook jou uitslae te herbedink. Refleksie sal jou ook help om die vermoë te ontwikkel om jou denke en leerproses beter te verstaan, te monitor en dienooreenkomstig aan te pas. Dit sal jou voort help om besluite te neem oor hoe jy die beste kan leer deur jou bewus te maak van wat jy doen terwyl jy leer en hoe dit bydra tot die sukses wat jy ervaar tydens leer en assessering.

Hier volg ʼn paar praktiese wenke om jou verder op die refleksiereis te help:

  • Voorbereiding

Dink na oor die uitdagings wat jy ervaar het tydens jou voorbereiding vir die rekordeksamen. Oorweeg enige afleidings wat verhoed het dat jy effektief kon leer en kon voorberei vir die eksamen. Voorbeelde hiervan is jou selfoon, die televisie, ander takies of stokperdjies wat jy eerder sou wou doen as om te leer.

Dink na oor jou tydsbestuur. Wat het jy gebruik om jou tyd te bestuur? Dalk ʼn oulike toepassing of ʼn handgeskrewe rooster? Vra jouself die vraag af of dit effektief was en dink na oor hoe jy dit kan aanpas sodat jy jou tyd beter kan bestuur vir die eindeksamen. 

Onthou dat die maksimum aandagspan slegs 90 minute is. Sluit dus gereelde breuke by jou tydsbeplanning in. Dink na oor hoe jy jou breuke benut. Probeer om ʼn draai buite te stap of ʼn rukkie te lê en na rustige musiek te luister. Vermy elektroniese toestelle, want dit kan steeds die brein stimuleer en daartoe lei dat jy nie verfris voel nie. 

Besin oor jou eetgewoontes en slaappatrone gedurende jou voorbereidingstyd. Gesonde voedsel en genoeg slaap dra by tot ʼn wakker brein wat inligting beter kan stoor en herroep. 

  • Terwyl jy eksamen geskryf het

Plaas jouself terug in die eksamenbank. Dink na oor die gevoelens wat jy ervaar het. Spanning en angs seëvier gewoonlik soos wat jy wag om jou vraestel te ontvang. Reflekteer oor die tegnieke wat jy gebruik om kalm te bly. ʼn Skietgebedjie, om diep asem te haal of om vir ʼn oomblik jou oë toe te maak en aan jou gunstelingvakansiebestemming te dink, kan bydra tot rustigheid.

Dink na oor wat jy moes saamneem na die eksamenlokaal. Het jy elke dag jou identiteitsdokument en eksamenbrief onthou? Dink na oor die skryfbehoeftes en ander instrumente wat jy nodig gehad het om die eksamen af te lê. Moes jy moontlik voor die wiskundevraestel skarrel om ʼn sakrekenaar in die hande te kry? 

Reflekteer oor jou tydsbesteding tydens die voltooiing van die vraestel. Het jy tyd afgestaan aan die deeglike bestudering van elke vraag? Dink na oor die hoeveelheid tyd wat jy oorgehad het nadat jy die vraestel voltooi het en of jy moontlik meer tyd kon spandeer om jou vrae meer volledig te beantwoord. Indien jy te min tyd gehad het om die vraestel te voltooi, dink na oor die vrae waaraan jy te veel tyd bestee het omdat jy onseker was oor hoe om dit te beantwoord. Onthou dat jy altyd later kan terugkeer na so ʼn vraag. 

  • Toe jy jou uitslae ontvang het

Reflekteer oor die punte wat jy in elke vak se vraestel/le behaal het. Is jy tevrede met jou punte? Indien jy nie tevrede is nie kan jy jou refleksie oor die voorbereiding vir, asook die aflê van die eksamen herbesoek en die faktore wat kon bydra tot jou punt/e identifiseer. Jy kan jouself ook afvra of die uitslae wat jy gekry het, die gevolg is van gebrekkige voorbereiding. Die oplossing van hierdie probleem is gelukkig baie eenvoudig; leer harder!

Besin oor die inhoud van jou vraestel en jou antwoorde op die vrae. Identifiseer die vrae wat vir jou uitdagend was en probeer om die vrae weer uit te werk. Vergelyk ook jou antwoord met die memorandum (indien jy dit ontvang het) of met die onderwyser se bespreking van die vraag tydens hersiening. Dink na oor die vrae wat jy verkeerd verstaan het, veral as jy daarvan oortuig was dat jy reg is en dan nie die verwagte punt behaal het nie. Lees hierdie vrae weer en probeer vasstel waarom jy dit verkeerd geïnterpreteer het. Onthou dat jy soos ʼn F1-renjaer, ʼn hele span het wat jou ondersteun: onderwysers, vriende en ouers kan dikwels waarde toevoeg tot refleksie. 

Ná afloop van die refleksieproses kan dit nuttig wees om ʼn opsomming te maak van die uitdagings wat jy identifiseer het, dit waaroor jy besin het, dit wat goed verloop het en hoe jy die eindeksamen anders sal aanpak. Sodoende kan jy nie anders as om sukses te behaal in die finale wedren van jou skoolloopbaan nie.

Jhani Pottas meen refleksie op vorige eksamengeleenthede, soos die rekordeksamen, kan bydra tot sukses in die matriekeindeksamen.