Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia ontvang Daniel Hugo-literêre versameling

Gepubliseer op: 2 Junie 2016

By ‘n spesiale dinee gisteraand het Akademia die persoonlike versameling literêre dokumente van digter, vertaler, letterkundige en radioman Dr. Daniel Hugo ontvang.

Hugo het gesê hy betuig met dié skenking sy vertroue in Akademia as Afrikaanse hoëronderriginstelling: “Ek bemaak dit aan Akademia omdat hulle glo in moedertaalonderwys ook op tersiêre vlak. As professionele mense soos onderwysers, prokureurs, predikante, mediese dokters, ingenieurs, akteurs, vertalers, joernaliste en omroepers nie meer in Afrikaans opgelei word nie, verloor die taal sy hoë funksies en kan dit nie meer gereken word as ’n volwaardige kultuurtaal nie. Dan sal dit wat oor ’n tydperk van honderd jaar opgebou is, binne een generasie verdwyn en Afrikaans sal weer die status kry van straattaal en kombuistaal, terwyl dit nou ’n hoogs gesofistikeerde wetenskaps- en literêre taal is.”

Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, het Hugo vir sy vertroue bedank. “Akademia wil ’n tuiste vir groot prestasies en groot denke uit die Afrikaanse taalwêreld wees, sodat volgende geslagte op die skouers daarvan die geleentheid gebied word om verdere bydraes tot ontwikkeling in en deur Afrikaans te kan maak. Dit is vir ons ’n eer om die Daniel Hugo-versameling te huisves.”

Le Roux het bekendgemaak dat Akademia beoog om sy reeks versamelings mettertyd uit te brei: “In soverre dit binne ons vermoë is sal ons graag ook ander sulke betekenisvolle versamelings wil huisves. Ons tree graag met belangstellende skrywers en ander kunstenaars hieroor in gesprek. Tog spreek ons terselfdertyd die hoop uit dat ander tradisioneel Afrikaanse hoëronderwys- en kultuurinstellings hierdie taak saam met ons sal bly verrig.”

As deel van die geleentheid het Hugo ’n lesing oor ds. Jan Lion Cachet se 1896-gedig, “Di Afrikaanse Taal”, gelewer. Van dié gedig sê Hugo: “Dit bied ’n unieke insae in die totstandkoming van Afrikaans as ’n kultuurtaal en is beslis relevant in ons huidige situasie.”

Die dinee het plaasgevind in die Centurion Teater.

Oor die Daniel Hugo-versameling

Die versameling dek Hugo se betrokkenheid in die Afrikaanse literêre wêreld sedert die 1980’s. Dit bestaan onder meer uit privaat korrespondensie met Afrikaanse en Nederlandstalige skrywers wat oor dekades strek, manuskripte van Hugo en ander se werk, resensies, artikels, rubrieke, keurderverslae vir uitgewers, foto’s, skaars boeke, tydskrifte en klankopnames.

Video

Vir ‘n video van die geleentheid, klik hier (via Maroela Media).