Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Begrotingsrede 2024 – ʼn Tydelike pleister vir ʼn dieperliggende ekonomiese wond

Gepubliseer op: 23 Februarie 2024

Suid-Afrikaners gons behoorlik nadat die minister van finansies, Enoch Godongwana, sy nasionale begrotingsrede op Woensdag 21 Februarie gelewer het. Dié begrotingsrede het ʼn skerp debat ontketen nadat Godongwana aangekondig het dat die regering R150 miljard van die wins van die Reserwebank se gebeurlikheidsreserwerekening (GFECRA) gaan opneem.

Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het op Donderdag 22 Februarie ʼn paneelgesprek in reaksie op die begrotingsrede aangebied. Tydens hierdie geleentheid het ʼn paneel kundiges vanuit die ekonomie, politiek en belastingvelde die implikasies van die 2024-begroting vir individue en maatskappye bespreek. Die paneel het bestaan uit: Pieter Janse van Rensburg (direkteur: SA Direkte en Indirekte Belasting by AJM), Joachim Lubbe (stigter en besturende direkteur: Termite Labs 3D Printing), Nikki Kennedy (dosent: Belasting), Alida Kok (dosent: Politiek) en dr. Sandra Adendorff (dosent: Ekonomie). Rika Nieuwoudt (departementshoof: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe) het as gespreksfasiliteerder opgetree.

Die paneellede was dit eens dat die minister ʼn moeilike taak op hande gehad het om in ʼn verkiesingsjaar die begroting moes laat klop. Hulle was egter van mening dat die begroting in baie opsigte slegs ʼn tydelike pleister vir ʼn dieperliggende ekonomiese wond is, en dat ʼn vuisvoos Jan Alleman die belt steeds stywer sal moet intrek. Die realiteit is dat staatskuld net té hoog bly, dat gebrekkige infrastruktuur langtermyngroei halter, en dat hoë inflasie en rentekoerse hul tol eis.

Volgens Adendorff is die regering se voorneme om uit die Reserwebank se reserwefonds te delf kommerwekkend. Sy het verduidelik dat dié gebeurlikheidsfonds ook as die goud- en buitelandse valuta-gebeurlikheidsrekening bekend staan en dat dit tans ʼn balans van meer as R500 miljard het. Oorkoepelend is die doel van hierdie rekening om die land se goud- en valutareserwes teen wisselkoersrisiko te beskerm. Die plan is om geld uit dié rekening te gebruik om die land se leningsbehoeftes by internasionale instellings, soos die Wêreldbank, te verminder en sal oor ʼn tydperk van twee jaar plaasvind. Volgens die minister sal dié ingryping ʼn verlaging van tot R30 miljard in rentekoste alleen bewerkstellig. Die bekommernis is dat indien hierdie fondse nie gebruik word om skuld te delg nie, maar eerder aangewend word om algemene uitgawes te dek, dit ʼn wesenlike negatiewe impak op die ekonomie sal hê.

Op haar beurt meen Kok dat daar klem gelê moet word op die toenemende belangrikheid van samewerking tussen die staat en die privaatsektor. Sy het ook aangedui dat dit duidelik is uit die begroting dat fiskale besnoeiing veral op plaaslike regeringsvlak ʼn werklikheid is. Hierdie besnoeiing moet volgens Kok selfs verder in terme van magsetels afgewentel word.

Janse van Rensburg het in sy repliek verduidelik dat geen belastingverhogings vir individue aangekondig is nie, en dat geen inflasieverwante aanpassings aan die onderskeie belastingkerwe, -drempels en -kortings gemaak is nie. Nóg ʼn aspek waarop hy gefokus het, was die onveranderde status van mediese belastingkrediete.

Kennedy meen op haar beurt dat ten spyte daarvan dat die regering homself daarvan weerhou het om drastiese belastingaankondigings te maak, belastingpligtige Suid-Afrikaners hulself deeglik moet vergewis van hul regte. Terwyl belastingkerwe nie aangepas is nie sal belastingbetalers in werklikheid meer belasting moet betaal as gevolg van salarisverhogings aan die hand van verhoogde inflasie wat hulle in ʼn hoër kerwe sal plaas.

Sy het ook na die praktyk van belastingvermyding verwys wat met verantwoordelike regspleging gepaard gaan. Wanneer die belastingpligtige belasting vermy, bly hy/sy binne die wet deur minder belasting te betaal. Dit word gedoen deur gebruik te maak van al die wettige maatreëls tot sy/haar beskikking. In diesulke geval stem die belastingbetaler se verklaarde inkomste met werklike syfers ooreen, word die betaalbare belasting verminder, en word ʼn buitensporige belastingaanslag vermy deur niks meer belasting te betaal as wat die wet vereis nie. Sy het egter gewaarsku dat belastingontduiking ʼn strafbare oortreding is.

Volgens Lubbe, wat in sy hoedanigheid as ʼn bewese entrepreneur insette gelewer het, is dit belangrik om te midde van kommer en onsekerheid op geleenthede te fokus. Hy het verduidelik dat dit nie in wese die regering se verantwoordelikheid is om werk te skep nie, maar om eerder ʼn gunstige omgewing vir maatskappye te skep waarbinne groei kan plaasvind.

Ander gesprekspunte het onder meer die verhoging van die Covid-19-toelaag, die aksynsverhoging, die onveranderde brandstofheffing en die addisionele geld wat toegewys is vir die huidige jaar se salarisverhogings van staatsamptenare.

Akademia bied verskeie programme in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan waarmee studente ʼn loopbaan kan volg in die finansiële en ekonomiese wêreld. Vir meer inligting, besoek Akademia se webblad hier.

Rika Nieuwoudt, dr. Sandra Adendorff en Nikki Kennedy het Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe tydens die begrotingsredegesprek verteenwoordig.
Die kundiges wat aan die paneelgesprek deelgeneem het, was van links: Joachim Lubbe, Alida Kok, Pieter Janse van Rensburg, dr. Sandra Adendorff en Nikki Kennedy.
Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia, het gaste by die begrotingsredegesprek verwelkom. Hierdie geleentheid is vanjaar vir die derde agtereenvolgende keer aangebied.
Mariska Wannenburg, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe, het ʼn oorsig van die begrotingsrede gegee, waarna die paneelgesprek plaasgevind het.