Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Fonties trap speel-speel diep spore in die gemeenskap

Gepubliseer op: 22 Februarie 2024

Speel-speel-aktiwiteite is soveel méér as net kinderspeletjies – dit is as’t ware die sleutel tot kreatiwiteit en help kinders om waardevolle vaardighede vir die toekoms te ontwikkel. Met dié belangrike ontwikkelingstaak in gedagte het Akademia se studente vanjaar by wyse van die Spore-projek opnuut die instelling se verbondenheid tot die gemeenskap prakties uitgeleef. Dié projek, ʼn geesteskind van die studenteraad (SR), het aan eerstejaar-Fonties die geleentheid gebied om op ʼn pret, maar praktiese wyse, na kwesbare gemeenskappe uit te reik.

Volgens Hanri Noëth, die SR-lid gemoeid met gemeenskapsprojekte, was dié projek een van die hoogtepunte op vanjaar se eerstejaarsoriënteringsprogram. “Akademia is ʼn gemeenskapsinstelling en dit was vir ons belangrik om die nuwe groep eerstejaars prakties aan die waardes van geloof, hoop en liefde bekend te stel,” verduidelik Noëth. Sy voeg by dat die projek voorts, getrou aan die instelling se visie, Fonties se denke en hart aangeraak en help vorm het.

“Dit is vir ons belangrik dat Fonties gedurende hul studies hulself met oorgawe in die gemeenskap sal uitlééf as verskilmakers. Om dié rede is dit belangrik om, simbolies gesproke, spore na te laat. Hierdie spore simboliseer nie net ʼn Fontie se reis na volwassewording nie, maar ook sy/haar strewe om ʼn roepingsgedrewe rentmeester te wees vir ʼn hoopvolle toekoms,” sê Noëth. Sy voeg by dat die spore wat nagelaat word ook wys op ʼn gemeenskap wat hande vat en saam vorentoe beweeg.

Tydens die tweeweeklange oriënteringsprogram is elk van Akademia se ses koshuise, in sleepverband (ʼn dames- en manskoshuis as ʼn span), daarmee getaak om elk ʼn speelhuisie te bou. Hierdie huisies is aan Solidariteit Helpende Hand geskenk wat dit aan die Ons Plek– opvoedkundige gemeenskapsprojek oorhandig is. Volgens Noëth versinnebeeld die speelhuisies ʼn veilige en vrye omgewing waarbinne kinders teuels aan hul verbeelding kan gee. “Hierdie speelhuisies verteenwoordig die handewerk van Akademia se eerstejaar-Fonties, maar vir elke kind wat hierby baat vind, verteenwoordig dit ʼn wêreld propvol moontlikheid en opwinding,” sê Noëth. Ná ʼn deeglike beoordelingsproses, wat insette van onder meer studenteleiers, dosente van die Fakulteit Opvoedkunde én die se jong kindersbehels het, is Huis Dahlia en Huis Hennops as die wenners aangekondig.

Die pret en betrokkenheid het egter nie hier gestop nie. Die koshuise het ook elk ʼn uitreikgeleentheid na die Jakaranda Kinderhuis, die San Michele-tehuis vir persone met gestremdhede en die Cappies-ouetehuis onderneem. Studente het tydens dié besoeke heerlik saam met die inwoners gekuier, groentetuine aangeplant en die onderskeie terreine verfraai en skoongemaak.

Noëth spreek die hoop uit dat die Spore-projek nog lank sal voortleef in die harte van Fonties en dat dit van krag tot krag sal gaan. “Die opgewondenheid en passie waarmee die studente dié projek aangepak het, sal ons nog vir lank bybly,” sê Noëth en voeg by dat die spore wat in 2024 getrap is, die weg sal baan vir selfs ʼn groter poging in 2025.

Winkel-winkel word vir ure in dié speelhuisie gespeel.
Jong brandweermanne sal dié speelhuisie terdeë geniet!
Die onderskeie speelhuisies is deeglik geïnspekteer en dié jong beoordelaars is dit eens: dié speelhuisies gaan vir ure se genot sorg.