Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Gemiddeld wees, is nie ʼn opsie vir dié Akademia-student nie

Gepubliseer op: 21 Februarie 2024

Akademia-student, Wian Böhme (22), van Mosselbaai glo nie daaraan om bloot gemiddeld te wees nie. Vir dié LLB- finalejaarstudent is daar slegs één dryfveer en dit is om op alle terreine tot sy volle potensiaal en vermoë te presteer.

Getrou aan sy gedrewe aard besig Böhme, wat die LLB-program by wyse van die nauurse afstandsmodel volg – en by die George-sentrum ingeskakel is, homself met verskeie projekte en doelwitte. Hierdie leefwyse skryf hy toe aan ʼn passie vir selfontwikkeling, ʼn onblusbare leergierigheid en die vermoë om risiko sonder vrees aan te pak. Behalwe vir sy studie in die regte, is Böhme ʼn beginner-entrepreneur met sy eie besigheid, is hy betrokke by ʼn familiesaak, stel hy belang in die aandelemark én droom hy daarvan om sy eie regspraktyk op die been te bring.

“Om verder te studeer is ʼn duur saak, en as dit nie vir Akademia se nauurse afstandsmodel was wat my toelaat om voltyds te werk nie, sou ek beslis nie dié geleentheid kon aangryp nie,” sê Böhme. Hy is verder van mening dat dié model hom in staat stel om ook in ander lewensfasette te groei en daarom bydra tot sy volronde ontwikkeling as individu én ʼn professionele besigheidspersoon.

Sy gunstelingmodules is Ondernemingsreg, gevolg deur Konstitusionele Reg, Deliktereg, Ondernemingsbestuur en Filosofie. Böhme is vol lof vir Akademia se akademiese personeel, en sonder veral die volgende dosente uit: dr. FJ Labuschagne (dosent: Privaat- en Handelsreg), Stephan Nel (dosent: Publiek- en Prosesreg), Lichel Helmchen (dosent: Privaat- en Handelsreg) en dr. Alexander Politis (dosent: Privaat- en Handelsreg). “Hierdie dosente is nie net elk ʼn kenner in sy/haar spesialisveld nie, maar rus studente soos myself toe met praktiese vaardighede en kennis wat elke dag in die bedryf toegepas kan word,” sê Böhme.

“Akademia is beslis ʼn studietuiste wat ek vir ander beroepsgedrewe persone sal aanbeveel. Ek voel die gehalte van die nauurse afstandsmodel is van só uitsonderlike aard dat die leerervaring nie vir ʼn oomblik beperk word nie. Inteendeel, die naatlose tegnologiese integrasie maak dit vir my en soveel ander studente van oral oor die land, en selfs die buiteland, moontlik om ongeag ouderdom of afstand, ons studiedrome te verwesenlik,” sê Böhme.

As beginner-entrepreneur het Böhme onlangs sy eenmansaak, MobiClean Mobile Car Wash, op die been gebring. Hy vertel dat die nauurse afstandsmodel hom die vryheid bied om voltyds op sy nuwe besigheid te fokus, terwyl hy terselfdertyd aandag aan sy ander belangstellings kan gee. “Die beste van alles is dat ek terselfdertyd die geleentheid het om myself akademies verder te bekwaam en my regsdroom aktief na te jaag,” sê Böhme.

Die keuse om homself in die regswese te bekwaam was volgens Böhme ʼn natuurlike uitvloeisel van sy ingebore sin vir regverdigheid én sy belangstelling in die besigheidswêreld “As ʼn entrepreneur kan ʼn deeglike regsbegronding my van groot hulp wees in enige denkbare besigheidsrigting, en dit baan vir my die weg om in die toekoms my regspraktyk tot ʼn volwaardige firma uit te brei met takke dwarsoor die land,” verduidelik Böhme wat homself as ʼn doelgerigte dromer beskryf. Böhme laat nie gras onder sy voete groei nie, en is nou reeds vasberade om na die voltooiing van die LLB-program homself verder in die korporatiewe reg te bekwaam en uiteindelik as ʼn advokaat te praktiseer.

Volgens Böhme vind hy inspirasie uit die werke van die antieke filosowe – Sokrates, Plato, Aristoteles, Cicero, Seneca en Marcus Aurelius, en volg hy ʼn Stoïsynse lewensfilosofie. Laasgenoemde beteken dat hy deeglik bewus is van die realiteit waarin hy homself bevind, en dat hy kalm en pragmaties op uitdagings reageer. “Hierdie lewensuitkyk help my om my skeppingsdoel as Christen uit te leef deur doelbewus die skone, die ware en die goeie na te streef,” verduidelik Böhme. Hy voeg by dat tyd ʼn gawe is en dat dit met erns en groot omsigtigheid bestuur moet word. “Dit is vir my belangrik om elke sekonde produktief te gebruik. Ek weet wat ek graag in die lewe wil hê, en dit is my verantwoordelikheid om al die geleenthede wat na my kant toe kom aan te gryp, om te groei en om die beste moontlike weergawe van myself te word. Drome is belangrik, maar dit verg harde werk om dit te realiseer,” sluit Böhme af.

Wian Böhme beskryf homself as ʼn doelgerigte dromer én doener. As finalejaarstudent, wat die LLB-program via die nauurse afstandsmodel voltooi, meen Böhme dat dit belangrik is om elke geleentheid aan te gryp.