Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die WL Grant-gedenklesing: ʼn Feestelike verjaarsdaggeleentheid

Gepubliseer op: 7 November 2022

Die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia het op 3 November 2022 die tweede WL Grant-gedenklesing in die Hemingways-lokaal by Leriba in Centurion, aangebied. Die gedenklesing het deel gevorm van die banket vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskappe en Kuns (SAAWK) se jaarlikse studentesimposium in die natuurwetenskappe.

Die WL Grant-gedenklesing het eerstens ten doel om erkenning te verleen aan een van die grootste ingenieurs en wetenskaplikes wat nog ooit uit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap bodem gekom het, naamlik dr. Walter Lawrence Grant. Tweedens het die geleentheid ten doel om as inspirasie en motivering te dien vir ons hedendaagse wetenskaplikes. Grant het gedemonstreer dat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes, dikwels onder moeilike omstandighede, tog kan uitstyg om mee te ding met die bestes in die wêreld.

Anders as ander gedenklesings wat normaalweg as formele geleenthede aangebied word, is die tweede lesing gekenmerk deur ʼn feestelike atmosfeer waar verjaarsdae gevier is. Grant sou vanjaar sy 100ste verjaarsdag gevier het, terwyl Akademia se tiende verjaarsdag ook vanjaar gevier word. Daarom is daar besluit om vanjaar ʼn oorsig te gee oor Grant se lewensverhaal.

Die gedenklesing, met die titel “Doen jou bes en Hy doen die res – ʼn Besinning oor die lewe en nalatenskap van dr. Walter Lawrence (Wally) Grant”, is op ʼn gepaste wyse deur Barend Uys, kleinseun van Grant en hoof van interkulturele samewerking by AfriForum, aangebied.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, het as voorsitter van die geleentheid opgetree, en het ook die gaste bederf met twee heerlike vleispotjies wat hyself met groot sorg vir die geleentheid voorberei het.

Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by AfriForum, het ʼn huldeblyk gelewer aan sy oupa, dr. WL Grant (regs), se lewe.