Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Fontie deel haar ervaring van Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

Gepubliseer op: 7 November 2022

Akademia is ʼn trotse vennoot in die jaarlikse Entrepreneur van die Jaar-kompetisie van AfriForum Sakenetwerk waar geleenthede geskep word vir jong entrepreneurs. Nie net het Akademia se BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie-wenner, Carami van der Vyver, deurgedring na die finaal van die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie nie, maar tien van Akademia se dosente het ook hierdie jaar opleiding gebied aan al die entrepreneurs wat ingeskryf het vir dié kompetisie. Die finaal van dié kompetisie het op 29 September in George plaasgevind.

Volgens Van der Vyver het Akademia se opleiding en die BCom (Ondernemingbsbestuur): Sakeplankompetisie haar hele lewe verander. “Deur net ʼn sakeplan op te stel vir my besigheid, Heart of Courage, het ek reeds so baie geleer,” vertel sy. Nadat Van der Vyver as wenner van die Sakeplankompetisie aangewys is, het sy deurgedring na die finaal van die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie waar sy en ander kandidate blootstelling in die besigheidswêreld gekry het.

Daar was baie netwerkgeleenthede en daarom kon Van der Vyver ook baie leer by die ander deelnemers en hul besighede. “Nadat ek as wenner van Akademia se Sakeplankompetisie aangewys is, was ek so opgewonde om deel te wees daarvan en van die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Ek het so baie by dié kompetisie geleer,” se sy. “Ek het by elke deelnemer van die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie iets geleer – van hoe hulle hul finansies doen tot verpakking van idees.”

Van der Vyver vertel dat sy selfs al die nuwe idees en voorstelle neergeskryf het, want sy was bang dat sy die waardevolle inligting sou vergeet. Sy het baie goeie advies ontvang by die kompetisie soos hoe om haar teikenmark presies te identifiseer. “Ek is iemand wat hou van besig wees en fokus op tien goed op dieselfde tyd. In besigheid is dit belangrik om op een ding te fokus en dit perfek reg te kry en dan jou fokus na die volgende aspek te verskuif. Ek het geleer om altyd my hart te volg,” sê sy.

Volgens haar is sulke kompetisies en blootstelling absoluut noodsaaklik vir jongmense en toekomstige entrepreneurs. “Ek het geleer van handelsmerke en hoe om jou besigheid te beskerm,” vertel sy verder. Die belangrikste les wat sy by die kompetisie geleer het en wat sy glo ander ook moet begryp en leer is dat “werklik enige iets moontlik is as jy lief is vir wat jy doen en ʼn passie daarvoor het”.

Van der Vyver moedig ander studente en jongmense aan om vir sulke kompetisies in te skryf. “Die kompetisie was een van die wonderlikste ervarings van my lewe. Daar was so baie netwerksgeleenthede en slim besigheidskenners. Die kennis wat ek opgedoen het met die kompetisie is nou deel van my besigheid se grootste bates,” sluit sy af.

Die Entrepreneur van die Jaar-wenner is gedurende ʼn glansfunksie in George aangekondig wat deur die finaliste en organiseerders bygewoon is.
Carami van der Vyver, BCom (Ondernemingsbestuur)-student by Akademia het op 1 September die instelling se sakeplankompetisie gewen en het deurgedring na die finaal van die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie.