Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Studentesimposium in die natuurwetenskappe ʼn reusesukses

Gepubliseer op: 7 November 2022

Op 3 en 4 November vanjaar het die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia as gasheer opgetree vir die 21ste jaarlikse studentesimposium vir die natuurwetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK). Die simposium het by Leriba in Centurion plaasgevind.

Die simposium, wat deur prof. Rudi Pretorius (van die SAAWK en Unisa) georganiseer is, is deur nagenoeg 80 afgevaardigdes bygewoon, vir wie daar dertien plakkate en 24 mondelinge referate aangebied is. Aanbieders van die meeste Suid-Afrikaanse universiteite het deelgeneem. Spesiale pryse is ná afloop van die simposium aan verskeie aanbieders oorhandig, en volgens die beoordelaars was al die aanbiedings van uitstaande natuurwetenskaplike gehalte.

Die simposiumbanket het op 3 November plaasgevind en het saamgeval met die WL Grant-gedenklesing. Prof. Oppel Greeff, voorsitter van die SAAWK, het gedurende die geleentheid ʼn inspirerende boodskap aan die afgevaardigdes oorgedra. Die gesellige atmosfeer is aangevul deur twee heerlike vleispotjies wat as ete bedien is.

Van Akademia se kant af het prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, gedurende die eerste gesprekforumsessie ʼn lesing aangebied met die titel: “Die betekenis van navorsing in die natuurwetenskappe”. Hier is veral klem gelê op gebeure wat aanleiding gegee het tot die geboorte van die natuurwetenskappe gedurende die wetenskaplike revolusie, asook die wetenskaplike metode wat daaruit voortgevloei het. In die tweede gesprekforumsessie het dr. Celia Booyse, bestuurder van programontwikkeling en gehalteversekering by Akademia, ʼn lesing aangebied oor prosesdenke, en veral oor hoe alternatiewe vaardighede, soos byvoorbeeld kunsverwante uitdrukkings en denke, ingespan kan word om die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde beter te kan begryp.

Alhoewel die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia nog relatief jonk is, en daarom nog nie nagraadse kwalifikasies aanbied nie, het die simposium vir Akademia die geleentheid gebied om in te skakel by die groter Afrikaanssprekende universitêre natuurwetenskapnetwerk.

Prof. Hannes Rautenbach (dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia) en prof. Rudi Pretorius (simposiumorganiseerder van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns – SAAWK) by die 21ste jaarlikse studentesimposium vir die natuurwetenskappe.