Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se navorsingsweek vir personeel skep geleentheid vir uitbou van navorsing

Gepubliseer op: 10 November 2022

Akademia se navorsingsweek wat vanaf 7-11 November by Leriba in Centurion plaasgevind het was nog ʼn hoogtepunt tydens die instelling se tiende jaar van klasgee. Die navorsingsweek is ʼn inisiatief wat deur die Navorsingsontwikkelings- en ondersteuningskomitee (NOOK), ʼn subkomitee van die navorsingskomitee, gereël word. Die doel van die week is om personeel binne Akademia se navorsingsvaardighede te ontwikkel en tyd te skep in ʼn oorvol kalender om op hul eie navorsing te fokus.

Volgens Salomien Boshoff, dosent in Ondernemingsbestuur en aan die stuur van die NOOK-komitee, moet Akademia, soos enige hoëronderwysinstelling sy navorsingsvoetspoor verdiep en uitbrei. “Hierdie week skep ʼn geleentheid waar gesoute navorsers tyd kan spandeer aan hul eie navorsing en jong academici kan leer by meesters uit verskeie velde.”

Boshoff noem dat Akademia se navorsing ʼn direkte invloed op die breër gemeenskap het. “Hoe meer ons binne ons navorsing verdiep, hoe beter kan ons studente toerus en die gemeenskap binne ons navorsingsvelde dien.”

Die week het afgeskop met die jaarlikse opvoedingsideaalgesprek wat deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof, gefasiliteer is waar vier kenners hul gedagtes kom deel het oor Mattias Desmet se boek The Psychology of Totalitarianism. Die res van die week het verskeie interessante gesprekke ingehou, onder andere die besonderse lesing van dr. Willem Gravvet, departementshoof van Publiek- en Prosesreg by Akademia, oor die Woke-kultuur en die implikasies daarvan op navorsing.

Nog interessante gesprekke is gelei deur Karien Brits, Akademia se taalpraktisyn, oor die instelling se uitgewery, en prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, en dr. Celia Booyse, bestuurder van programontwikkeling en gehalteversekering, oor die betekenis van navorsing en Akademia se navorsingsvoetspoor. Die onderskeie fakulteite het ook rondetafelgesprekke gehou oor hul navorsingsidees vir 2023. Akademia se navorsers is ook ondertussen gedurende die week besig om in stilte te werk aan hul navorsing in ʼn aparte lokaal waar hulle dit op die laaste dag van die navorsingsweek kon voorlê aan die gehoor.

Prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe en voorsitter van die navorsingskomitee, noem dat Akademia verskeie navorsingsaksies in die pyplyn het, vanaf verskeie konferensies binne die fakulteite, tot werkswinkels vir akademici en ook die NOOK-komitee se gereelde byeenkomste, bekend as NavorsingsVrydag. “Navorsing is onlosmaaklik deel van Akademia en ons doel is om navorsing uit te bou deur akademici te help met die nodige middele en tyd.”

Volgens Duvenage is Akademia se navorsing uniek weens die sterk verhouding tussen klasgee, gemeenskapsdiens en navorsing. “Ons staan nie weg van ons gemeenskap nie, ons is in interaksie met die gemeenskap en daarom kan baie navorsingsprojekte ook binne die gemeenskap gedoen word maar met groot implikasies vir meer as net onsself. Dit is wat Akademia anders maak,” sluit hy af.

Akademia se jaarlikse Navorsingsweek het plaasgevind vanaf 7-11 November by Leriba in Centurion.
Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, het die opvoedingsideaalgesprek gefasiliteer as afskopaksie vir die jaarlikse Navorsingsweek.