Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde-student baan sy weg na geoktrooieerde bestuursrekenmeester

Gepubliseer op: 15 November 2022

Otto de Vries, ʼn nauurse afstandstudent by Akademia glo dat die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde goeie voorbereiding is om die strategiese vlak van die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (CIMA)-kwalifikasie te slaag. Hy sien die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde as die volgende tree om uiteindelik die kwalifikasie van ʼn geoktrooieerde bestuursrekenmeester agter sy naam te kan sit.

Die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde rus studente toe met insig in die wêreld van finansiële bestuur vanuit ʼn korporatiewe en individuele perspektief, met die klem op die verbetering van besluitneming in ʼn mededingende omgewing. Die kwalifikasie is bedoel om toelating tot die eksamens op strategiese vlak van CIMA te vergemaklik en om uiteindelik as geoktrooieerde bestuursrekenmeesters te kwalifiseer.

De Vries werk tans as rekenmeester en finansiële bestuurder en wou nog altyd ʼn geoktrooieerde bestuursrekenmeester word. “Ek het deur die prospektus van die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde gelees en die kwalifikasie baie aanloklik gevind,” vertel hy.

Volgens De Vries sal die kwalifikasie hom in sy loopbaan vorentoe help. “As rekenmeesters is ons geneig om te rapporteer op historiese gebeurtenisse, maar die kwalifikasie forseer jou om na die toekoms te kyk vir potensiële strategieë en risiko’s asook jou beplanning en oorwegings in verskillende industrieë,” sê hy. De Vries glo ook dat die kwalifikasie beslis in sy guns sal tel wanneer hy aansoek doen vir ʼn meer senior posisie.

De Vries is ʼn pa en man en meen dat die nauurse afstandsmodel hom soos ʼn handskoen pas. Hy vertel ook dat die kwalifikasie meer as net gewone boekhouding en belasting is en beslis nie eentonig is nie. “Die kwalifikasieinhoud fokus op bestuur, die dosente is uitstekend en die studiemateriaal is van hoë gehalte, plus dit is alles in Afrikaans.”

Sy grootste uitdaging tydens sy studie was die beurtkragskedule. “Dit gaan maar alles oor beplanning en om wat belangrik is te prioritiseer. Natuurlik het my werk eerste gekom, maar as jy die regte ingesteldheid het oor die kwalifikasie, sal jy beide werk en studie kan maak werk,” sluit hy af.

Indien jy belangstel in die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde by Akademia, klik gerus hier vir meer inligting. Studieaansoeke vir 2023 sluit op 20 Januarie 2023. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

Otto de Vries is ʼn nauurse afstandstudent by Akademia, wat die kennis wat hy tydens sy Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde opdoen daagliks prakties toepas in sy werksomgewing.