Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Woon Akademia se eerste inligtingsessie oor studie vir 2023 by

Gepubliseer op: 5 Desember 2022

Of jy nou wag vir jou matriekuitslae of ʼn nuwejaarvoorneme het om te studeer, daar is nog tyd om studie in 2023 ʼn werklikheid te maak. Akademia bied daarom op Woensdag 18 Januarie 2023 ʼn inligtingsessie aan oor studie in 2023 vanaf 18:00-19:00. Hierdie inligtingsessie kan aanlyn in die gerief van jou eie huis of kantoor bygewoon word.

Tydens die inligtingsessie sal jy meer kan uitvind oor die volgende:

  • ʼn Oorsig van Akademia.
  • Wat kan ek studeer?
  • Hoe werk die klasbywoning?
  • Hoe werk die aansoekproses?
  • ʼn Vraag-en-antwoord-sessie om enige knellende vrae te beantwoord.

 

Die inligtingsessie sal beide onderrigleermodelle by Akademia bespreek en dus handel oor ʼn verskeidenheid studierigtings oor verskeie fakulteite waarvan voornemende studente kan kies.

Die nauurse afstandsmodel is ideaal vir studente wat werk, of ander belangstellings nastreef terwyl hulle studeer. Studente op hierdie model het die keuse om vir klasbywoning by ʼn nabygeleë studiesentrum aan te sluit, of om bloot via e-leer vanaf enige plek in die wêreld te studeer. Akademia bied ook ʼn bruisende e-leergemeenskap aan vir voornemende studente, aangesien die groter meerderheid van Akademia se studente (oftewel Fonties) op die nauurse afstandsmodel studeer.

Die voltydse kampusmodel is ideaal vir skoolverlaters wat voltyds wil studeer en deelneem aan ʼn aktiewe studentelewe. Studente woon bedags verpligte kontaksessies op die Centurion-kampus by. Die kampusmodel word ingerig met onder andere ʼn kafeteria, kliëntedienssentrum, ʼn biblioteek, asook verskeie studenteondersteuningsinisiatiewe. Boonop is daar ʼn koshuisverblyf vir studente, met ʼn daghuisopsie vir dagstudente.

Eerstejaarstudente aan Akademia, ongeag van die onderrigleermodel waarop hul studeer, kan deelneem aan verskeie opwindende studenteaksies. Een van hierdie aksies is die eerstejaarskamp waar jy jou lewenslange vriendskappe kan kweek met jou medestudente, meer kan leer oor Akademia en ook van jou studenteleiers en Akademia-personeel kan ontmoet.

Nuwe Fonties kry ook toegang tot die waardetoevoegende Kuns van Studentwees-kursus wat hul voorberei om werkstukke aan te pak, om basiese rekenaarvaardighede onder die knie te kry, asook die ontwikkeling van taal-, skryf-, en navorsingsvaardighede om ʼn suksesvolle akademiese reis aan te pak.

Aansoeke vir voorgraadse studie op beide onderrigleermodelle sluit eers 31 Januarie 2023. Kom vind meer uit oor jou studiemoontlikhede vir 2023. Klik hier om jou virtuele sitplek te bespreek of maak hier ʼn afspraak vir konsultasie met een van ons vriendelike studentewerwers.