Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia rol opwindende aanlyn inisiatief uit vir nauurse afstandstudente

Gepubliseer op: 6 Desember 2022

Akademia het vanjaar ʼn opwindende inisiatief afgeskop om vir Fonties op die nauurse afstandsmodel ʼn platform te skep waar hul met mekaar kan sosialiseer en vriendskappe kan kweek. Hierdie inisiatief, die A-gemeenskap, help ook om Akademia se opvoedingsideaal oor te dra deur die studente se menswees te help vorm.

Volgens Abigail Fourie, koördineerder van die A-gemeenskap, is hierdie inisiatief belangrik vir Akademia vir verskeie redes. “Ons wil vir die nauurse afstandstudente, ongeag waar hulle hulself bevind, ʼn gemeenskap skep en aan hul die geleentheid bied om deel van Akademia se studentelewe en ondersteuningsnetwerk te vorm.”

Die A-gemeenskap het in Julie vanjaar afgeskop met sewentien nauurse afstandstudente wat daaraan deelgeneem het. Weens die afstand wat daar tussen die studente is, het alle sessies aanlyn plaasgevind, behalwe vir die jaarlikse afsluiting wat in persoon was vir die wat dit wel kon bywoon. Die sewentien studente was in twee streke, Namibië asook die Oos-Rand, ingedeel en almal was eerstejaars. Die ouderdomme van hierdie studente het gewissel vanaf 19 tot 45 met ʼn wye verskeidenheid van beroepe wat voorgekom het.

Die aanlyn sessies vind gereeld plaas en sluit die volgende pret-aktiwiteite in:

  • Bingo-aande
  • Vasvra-aande
  • Aanlyn bordspeletjies
  • Kenmekaar-aktiwiteite
  • Koffiegeleenthede

 

Die A-gemeenskap van 2022 het werklik ʼn familie gevorm met studente wat van heinde en verre gekom het om mekaar by vanjaar se direkteursdinee in Centurion te kon ontmoet. Van hierdie studente is ook verkies as 2023 se sentrumkoördineerders wat beteken dat hul weer as fasiliteerders van 2023 se A-gemeenskap sal dien.

Zuré van Tonder, ʼn eerstejaar-BCom (Ondernemingsbestuur)-student by Akademia, was een van die eerste studente wat deel gevorm het van die A-gemeenskap. “Die A-gemeenskap is ʼn baie aangename ervaring waarby ander eerstejaars beslis kan baat. Die sessies is verfrissend en dit gee ons ʼn breek met goeie geselskap. Ons kan ook ervarings met mekaar deel, goed of sleg, en mekaar ondersteun,” noem sy.

Nog een van die A-gemeenskapslede is Mientjie Boonzaier, ʼn eerstejaar-BCom (Bestuursrekeningkunde)-student en mamma van twee. Sy werk ook voldag, maar het steeds elke sessie van die A-gemeenskap tydens 2022 bygewoon. “Deur die sessies van die A-gemeenskap by te woon besef mens dat jy nie net ʼn studentenommer by Akademia is nie. Mens voel dat mens meer deel is van die studentesamelewing en dat jy nuwe vriendskappe kan maak. Ek beveel dit vir enige e-leerstudent aan om betrokke te raak.”

Die A-gemeenskap sal vanaf 2023 bestaan uit alle eerstejaarstudente in die nauurse afstandsmodel, ongeag of hul deel van die studiesentrums vorm of via e-leer studeer. Die sentrumkoördineerders en toesighouers van Akademia se landswye netwerk van studiesentrums sal as fasiliteerders van die A-gemeenskap optree in 2023. Die A-gemeenskap sal ook uit kleiner groepe bestaan wat ingedeel sal word volgens streek en studierigting.

Fourie glo dat die A-gemeenskap sal bly groei en dat alle nauurse afstandsmodel-Fonties hiervan sal wil deel vorm. “Ek glo dat dit bekend sal word as deel van die nauurse studente se oriënteringstydperk en dat dit volstoom sal voortleef,” sê Fourie. “

“Die A-gemeenskap het begin as ʼn idee op ʼn bord. Ná baie beplanning en vergaderings het hierdie idee in ʼn realiteit verander. Om deel te wees hiervan is werklik ʼn belewenis,” vertel Fourie. “Die A-gemeenskap bied ondersteuning en ʼn gemaklike omgewing om te ontspan en vir ʼn oomblik te vergeet van al jou studiestres. Dit bied aan nauurse afstandstudente die geleentheid om deel te word van Akademia se studentefamilie,” sluit Fourie af.

Van die studente wat deel gevorm het van 2022 se A-gemeenskap tydens ʼn aanlyn sessie asook by die afsluitingsgeleentheid.