Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia groet een van sy groot pioniere, Paul Vogel

Gepubliseer op: 6 Desember 2022

Paul Vogel het in 2016 by Akademia begin werk en was die afgelope sewe jaar deel van die instelling se pionierswerk. Sy hand kan direk gesien word in die groei en sukses wat oor die laaste paar jaar bereik is. Hy begin egter vanaf volgende jaar ʼn nuwe avontuur en sluit dus sy hoofstuk by Akademia af. Die kommunikasiespan het met hom gesels oor sy tyd by Akademia.

Hoe het jou pad by Akademia begin?

Ek het in 2016 by AfriForum gewerk as bestuurder van Menslike Hulpbronne. Ek is toe genader om aansoek te doen vir die operasionele bestuurspos by Akademia. Eers het ek nie belanggestel nie, omdat ek my werk baie geniet het. Ek onthou goed dat ek vir my vrou gesê het as hul weer adverteer en my nader sal ek dit oorweeg. Dit gebeur toe inderdaad so. Ek begin toe Meimaand 2016 by Akademia. Ek onthou dat ek vir my eerste gesprek Von Willich-kantore toe is en dat Helena (die besturende direkteur se persoonlike assistent) vir middagete by ontvangs was. Dit was doodstil en ek het haar gevra of dit altyd so stil by Akademia was. Niemand het rondgeloop of selfs gepraat nie. Ek het maar gedink dis die akademiese atmosfeer wat Akademia wil skep. Ek glo ons kon dit wel oor tyd aanpas om steeds ʼn vinnige tempo te handhaaf met ʼn rustige atmosfeer en kultuur. Toe ek begin het, was ons so 40 personeel in totaal by Akademia en ek was alleen in my eie span. Dit was seker die lekkerste span waarin ek ooit was (of so het ek gedink!).

Watter rol het jy by Akademia oor die jare vervul?

Kortliks moes ons die enjin aan die gang sit en hou. Ons moes in ʼn groot mate inisiatief neem en nuwe geleenthede soek en ontwikkel. En baie keer moes ek doen wat niemand wou of kon doen nie tot daar iemand aangestel is om dit te doen.

Wat van die idee van Akademia het jou destyds opgewonde gemaak?

Ek glo steeds in die idee dat daar ʼn Christelike Afrikaanse universiteit vir ons en ons kleinkinders moet, mag en kan wees! Dit is nie meer net ʼn droom nie, dit is ʼn werklikheid. Om die regte verskil in studente se lewens te maak is wat saak maak.

Watter institusionele groei het jy tydens jou reis by Akademia ervaar wat jou opgewonde maak?

Akademia het vanaf fase een na fase twee beweeg wat meer mense en studente behels. Daarvoor is meer prosesse, struktuur, ensovoorts nodig. Om die verandering en aanpassings te implementeer, personeel en studente saam te neem en om volhoubaar te groei was ʼn heerlike uitdaging. Dit gee my baie energie!

Hoe beskryf jy jou ervaring gedurende jou betrokkenheid by Akademia?

As ek drie woorde moet gee: Genade, dankbaarheid en pret! As ek een woord kan gebruik – hoendervleis!

Wat is jou gunstelingherinnering by Akademia?

Sjoe, ek het baie. Ek sal nie net een kan uitlig nie. Hoogtepunte was die “rebranding”, 10jaar-fees, dankbaarheid dat ek verder kon studeer, elke nuwe kwalifikasie se uitrol, studentelewe implementering, eerstejaarskampe, #Netmatrieks-boot, koshuise se begin en ontwikkeling, Gerhardstraatkampus se opening, Leriba se opening en dan natuurlik elke goeie aanstelling wat kliphard verder saambou aan Akademia en ʼn beter toekoms!

Hoe het jy groei by Akademia oor die jare ervaar?

Van slegs 40 personeel na 150, van 650 studente na om en by 2 500. Van ʼn span met slegs myself na byna 50. Van agt kwalifikasies na sewentien. Van een halwe perseel na ʼn kampus, kantoor en koshuisfasiliteite.

Wat was een of twee van jou grootste oomblikke by Akademia?

As ek een moet uitlig (daar is eintlik duisende), sal ek sê die eerste keer toe ek daar op die koppie staan en uitkyk oor die grond van die toekomstige kampus. So in my geestesoog kon ek sien hoe die kampus gebou word en eendag gaan wemel vol studente en personeel. Absolute hoendervleis.

Wat maak Akademia in jou opinie uniek?

Die opvoedingsideaal en die vorming van ons gemeenskap deur roepingsgedrewe personeel.

Wat is volgende vir jou in die pyplyn?

Die bou van ʼn Christelike en Afrikaanse samelewing waar ons ten volle vry en veilig kan wees. Meer spesifiek deur steeds studenteopleiding en -opvoeding.

Wat is een van die grootste struikelblokke wat jy gedurende jou reis by Akademia oorkom het en hoe het jy dit oorkom?

Ek moes leer hoe mens iets wat reeds goed werk kan verbeter. Dit is nie een groot aspek wat ʼn verskil maak nie dit is al die duisend klein goed wat op die ou einde ʼn groot volhoubare verskil maak. Kommunikasie is altyd belangrik, intern en ekstern. Ek moes leer hoe om beter en meer te kommunikeer en om energie uit die klein dingetjies te kry om die momentum te behou vir die groot goed.

Waarom sou jy sê het Akademia ʼn blink toekoms?

As dit wat Akademia doen ʼn geloofsdaad bly, is daar ʼn hoopvolle toekoms. Alles net genade!

Vertel vir ons ʼn oulike staaltjie van jou tyd by Akademia?

Sjoe, ek het baie, maar ek sal nooit vergeet hoe ons inligtingsessies by sentrums gaan hou het om voornemende studente te werf en dit dan daarna gekombineer het met ʼn studentekuier nie. Ons personeelvergaderings (toe ons nog aansienlik minder was) het temas gehad en afdelings het beurte gemaak om dit aan te bied. Nog ʼn lekker staaltjie was die AV-band wat opgetree het. Ek onthou ook die bekendstellingsfunksie van ons nuwe handelsmerk en die kuier bo op die dak van die gebou op Gerhardstraatkampus ná die funksie was ʼn hoogtepunt.

Wat is jou wens vir Akademia?

Mag Akademia ʼn nog groter verskil in ons samelewing en gemeenskap maak, alles in vertroue op God en alleen uit sy genade.

Akademia wens vir Paul Vogel ʼn opwindende loopbaanreis vol positiwiteit en voorspoed toe. Mag die Here sy pad gelyk maak en aan hom die wysheid en vaardighede gee om sy nuwe avontuur suksesvol aan te pak.

Paul Vogel, voormalige bedryfshoof van Akademia, sluit vanjaar sy hoofstuk by dié instelling af om ʼn nuwe avontuur aan te pak.