Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se taalpraktisyn wen ʼn gesogte Kokertoekenning

Gepubliseer op: 6 Desember 2022

Karien Brits, taalpraktisyn en deeltydse dosent by Akademia, het onlangs ʼn Kokertoekenning by die Afrikaanse Taalraad ontvang in die kategorie, Bevordering van Afrikaans. Die spoggeleentheid het plaasgevind op 25 Oktober by Leriba in Centurion. Die Kommunikasiespan by Akademia het haar genomineer vir hierdie toekenning. Die kommunikasiespan het by haar gaan inloer oor haar ervaring.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor dat jy gewen het?

Dit is nogal moeilik om daardie gevoel in woorde vas te vang. Ek dink die beste woord wat dit vir my opsom: aangedaan. Die werk wat ek nog altyd gedoen het, was eintlik ʼn beloning op sigself, maar dit is tog lekker om ʼn kopknik van erkenning te kry.

Waarom is jy so lief vir Afrikaans?

Ek dink dit is omdat my wortels hier in Afrika is. As jy eers ʼn tyd lank in die buiteland gewoon het, weet jy baie goed dat jou wortels nie eintlik in Europa is nie. Daardie tale kan nie die verwondering van reën op die sinkdak of ʼn mooi rooi sonsondergang of die uitgestrekte Vrystaatvlakte soos Afrikaans vasvang nie. Afrikaans is daardie taal wat my Afrikawortels die beste kan verwoord. Dit is die taal wat my aan my voorouers knoop. Die kennis wat so van geslag na geslag oorgedra word, is in my moedertaal.

Waarom lê die bevordering van Afrikaans jou so na aan die hart?

Afrikaans as moedertaal is die taal waarin ons ons beste self kan wees. Dit is die taal waarin ons die beste kan leer. As ons kennis goed in ons moedertaal kan vaslê, kry ons dieper insig, en bou ons aan ʼn gemeenskapwysheid wat goud werd is. Dit is vir my so lekker om te sien as jongmense hulle volle potensiaal bereik. Die grootste geskenk wat ons ons kinders kan gee is moedertaalonderrig. Met my werk wil ek daardie ruimte skep dat ouers weet hulle kinders sal tot op die hoogste moontlike vlak in hulle moedertaal kan studeer. Afrikaans het ook die grondslag gelê vir die aanleer van ander tale waarmee ek ook ander wêrelde en gemeenskappe kon ontdek. Dit is ʼn heerlike wisselwerking van harte en idees danksy goeie moedertaalonderrig.

Wie het jou liefde vir taal geïnspireer?

Ek dink my ouers. My ma was my eerste onderwyser. Sy was ʼn kleuterskooljuffrou en ek onthou dat sy seker gemaak het dat die kleuters mooi Afrikaanse woorde gebruik het. My ma het ook Duits op skool (ʼn doodgewone skool op ʼn klein plattelandse Vrystaatdorpie) gehad en sy was die hoofrede hoekom ek op skool Duits as matriekvak geneem het. My pa was weer ʼn ambagsman wat al die Afrikaanse woorde van die gereedskap geken en gebruik het. Sy bynaam was Fanakalo omdat hy destyds nog op die Vrystaatse myne hierdie taal aangeleer het en ook later toe hy by Sasol begin werk het, bly gebruik het. Ek het gesien wat tale vir my ouers beteken het en dit het beslis my liefde vir taal aangewakker. Ek het ook baie goeie taalonderwysers op skool gehad. Ek dink nog met dankbaarheid terug aan my juffrou, Philna Kloppers, wat Suid-Sotho gegee het. Ons het seker amper elke week mondeling gedoen, maar dit was eintlik konserte in die kleine.

Wat beteken die Kokertoekenning vir jou?

Ek wil dit graag gebruik om ander Afrikaanssprekendes aan te moedig om ʼn verskil in hulle eie kringe te maak. As ek mense bewus kan maak van die onskatbare waarde van moedertaalonderrig en om taal as brug te gebruik, is ek op my gelukkigste.

Waarom is die Kokertoekennings so belangrik?

Dit skep bewustheid dat daar nog baie mense is wat ʼn verskil in en met Afrikaans op verskeie gebiede maak. Ek is bevoorreg om dit in die hoëronderwyslandskap te kan doen, maar daar word op so baie ander vlakke en plekke gewoeker in Afrikaans en die Kokertoekennings maak ons weer bewus daarvan.

Wat lê vir jou voor wat taal betref?

Ek wil voortgaan om mense opgewonde oor die moontlikhede van taal en moedertaalonderrig te maak. Ek wil deur middel van my taalnetwerke geleenthede vir akademici help skep om in Afrikaans te kan bly navorsing doen en klasgee.

Volgens dr. Annelise de Vries, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en dosent by Akademia, verdien Brits die toekenning deur en deur. “Die naam Karien Brits is sinoniem met die bevordering van Afrikaans en ook Afrikaans se posisie met betrekking tot meertaligheid in Suid-Afrika en internasionaal,” sê sy. Sy noem verder dat dit vir die Afrikaanse Taalraad ʼn groot voorreg is om iemand van Brits se kaliber te vereer vir die werk wat sy op ʼn daaglikse basis vir Afrikaans doen. “Die passie en onbaatsugtigheid waarmee sy alle taalverwante projekte aanpak is aansteeklik en sy inspireer mense waar sy kom,” sluit De Vries af.

Akademia is baie trots om Brits as taalpraktisyn en deeltydse dosent by die instelling te hê. Haar bydrae tot die bevordering van Afrikaans en moedertaalonderrig is ʼn riem onder die hart en ons is dankbaar dat sy haar passie by Akademia kan uitleef.

Karien Brits, taalpraktisyn en deeltydse dosent by Akademia, het onlangs ʼn Kokertoekenning by die Afrikaanse Taalraad gewen.