Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Volledige registrasie amptelik aan Akademia toegeken

Gepubliseer op: 14 Junie 2017

Akademia is volledig as hoëronderwysinstansie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) geregistreer, nadat daar oor ʼn tydperk van ses jaar alle voorwaardes nagekom is en aan alle vereistes voldoen is.

Met Akademia se oprigting het die DHET voorwaardelike registrasie as hoëronderwys­instansie aan Akademia toegeken. Ná ʼn omvattende gehaltebeheerproses het die instansie op 30 Mei 2017 kennis van die DHET ontvang dat volledige registrasie as hoëronderwys­instansie amptelik toegeken is.

Dr Paul Steyn, Akademia se provoos, verduidelik dat voorwaardelike registrasie bloot beteken het dat Akademia eers aan die DHET moes bewys lewer dat die instansie volhoubaar programme van hoë akademiese gehalte kan aanbied. Ten minste een kohort van studente in die langste kwalifikasie moes hulle studies suksesvol voltooi, sonder enige onderbreking in dienslewering.

“Akademia dien jaarliks ʼn jaarverslag in, wat ʼn vorm van ouditering van ons finansiële status en dienslewering aan studente is, asook ons volhoubaarheid met betrekking tot regs­vereistes soos deur die Wet op Hoër Onderwys gestel aandui. Volledige registrasie impliseer dus geen statusverandering nie – ons moet steeds voortgaan om aan al die jaarlikse wetlike vereistes te voldoen – dit stel studente en ondersteuners bloot gerus dat Akademia van meet af ʼn hoë standaard handhaaf,” sê Steyn.

Piet le Roux, akademiese hoof, sê Akademia beskou die finale registrasie by die departement as ’n belangrike bousteen in sy ontwikkelingsplanne.

“Die finale registrasie is vir Akademia ’n belangrike mylpaal op sy ontwikkelingspad. Dit baan die weg na verdere, belangrike vorme van erkenning waaraan reeds hard gewerk word, insluitende internasionale uitruil en samewerking, sowel as professionele en bedryfsonderskrywings van kwalifikasies. In ’n globale, mededingende ekonomie en onderwysomgewing is sulke bykomende erkennings – en die vertroue van sy ondersteuningsgemeenskap – onmisbaar vir Akademia om homself en sy alumni te onderskei,” sê Le Roux.

Kyk na ‘n video oor die volledige registrasie.