Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Resessies en die keuse van vryheid of manipulasie

Gepubliseer op: 21 Junie 2017

Ná die onlangse aankondiging dat die ekonomie weer eens in ’n resessie verval het, het die sondebokke oudergewoonte ander daarvoor beskuldig. Almal word blameer – van die globale ekonomie tot die Suid-Afrikaanse private sektor.

Ná die onlangse aankondiging dat die ekonomie weer eens in ʼn resessie verval het, het die sondebokke oudergewoonte ander daarvoor beskuldig. Almal word geblameer – van die globale ekonomie tot die Suid-Afrikaanse private sektor.

Om die private sektor die skuld te gee is veral eienaardig, want die aantygings dryf in teen die doel van die individue in die sektor. Die primêre doel van die private sektor is om winste te maksimaliseer en individue doen alles in hulle vermoë om hierdie doel te bereik. As die ekonomiese omgewing van so ʼn aard is dat hulle nie die bepaalde doelwitte kan bereik nie, is daar geen verskuilde motiewe nie.

Die vraag waarom Suid-Afrika homself in ʼn resessie bevind is nie so eenvoudig soos die sondebokke ons sal wil laat glo nie. Die eerste stap is om te bepaal of dit ʼn sikliese resessie of ʼn strukturele resessie is. ʼn Sikliese resessie verwys na ʼn siklus waarin ekonomiese aktiwiteite uitbrei en inkrimp, terwyl ʼn strukturele resessie verwys na groter onderliggende probleme wat in die ekonomie bestaan.

Volgens standaard ekonomiehandboeke is die redes vir resessie baie eenvoudig. Gewoonlik ontstaan ʼn inkrimping as gevolg van ʼn “oorverhitte” ekonomie wat begin “afkoel”. In die fase van die  konjunktuursiklus (sakesiklus) is die oplossing gewoonlik om uitgebreide ekonomiese beleid te implementeer wat die ekonomie aanhits.

ʼn Meer gesofistikeerde weergawe van die teorie rondom die konjunktuursiklus is ontwikkel deur FA Hayek. Hier is die argument dat dit juis die inmenging van die regering en die Reserwebank is wat ʼn onstabiele siklus skep. Hierdie weergawe voer aan dat die afname juis weens die inmenging van die regering en die Reserwebank ontstaan.

Redes hiervoor is dat die regering en Reserwebank slegte beleggings aanspoor wat lei tot ʼn afname in ekonomiese aktiwiteit. Die teorie is gebou rondom die konsep dat rentekoerse kunsmatig bestuur word wat dus die normale gang van die ekonomie ondermyn. Hier word daar verwys na ʼn sikliese resessie wat ontstaan as gevolg van strukturele probleme binne in die ekonomie.

In Suid-Afrika is die dilemma nie dat ons in resessies val nie, maar eerder dat ons nie tot by die “oorverhit”-fase van die siklus vorder nie. Ons ekonomie is soortgelyk aan ʼn student wat deurskraap en sodoende net-net die hereksamen mis. Ons ekonomie het lanklaas op die onderskeidingsvlak gefunksioneer. Hierdie konstante onderprestering is ʼn sterk aanduiding dat strukturele probleme in ons ekonomie bestaan.

Ons staat het al vir ʼn geruime tyd enorme begrotings gehad om te verseker dat die ekonomie nie in ʼn resessie indompel nie. Die probleem met buitensporige begrotings is dat skuldvlakke van die regering aanhoudend toeneem tot op die punt waar dit problematies word. Skuld tot bruto binnelandse produksie het ons risiko vir afgradering vergroot. Daar is gewaarsku dat die toenemende skuldvlakke mettertyd tot ʼn afgradering gaan lei. Die vraag is wanneer dit sou plaasvind.

Die vraag is waarom die staat voel dat hierdie begrotings geregverdig kan word. Een van die gereelde antwoorde is dat dit benodig word om te verseker dat die politieke struktuur wat ons president gebou het, geld nodig het om aan die lewe te bly. Die meer ekonomiese antwoord is dat ekonomiese aktiwiteite al vir ʼn tyd gekrimp het. Dus kon ons hierdie begrotings regverdig, omdat dit as ʼn inspuiting van geld dien om te sorg dat ekonomiese aktiwiteite kan toeneem.

Hierdie verouderde denkwyse, van groot begrotings wanneer die ekonomie afneem, is ’n wêreldbeskouing deur regerings wat glo dat dit hulle verantwoordelikheid is ten opsigte van die welstand van die ekonomie. In ʼn mate is hulle verantwoordelik, maar die benadering is geheel en al verkeerd.

Die staat is slegs daarvoor verantwoordelik om die omgewing te skep sodat die ekonomie kan floreer. Die res hang van die individue van die land af om te verseker dat vooruitgang kan plaasvind.

Ons regering het nog nooit die konsep verstaan nie en wil altyd inmeng ten koste van die individue in die samelewing. Hulle is nie ten gunste van die idee dat mense hulle eie welvaart skep nie, maar wil hul verskuilde, egosentriese agenda op die ekonomie afforseer. Beleid soos swart ekonomiese bemagtiging is niks meer nie as die manipulasie van die samelewing wat die regte omgewing vir ekonomiese vryheid ondermyn.

Dit is juis die vryheid binne die regte omgewing wat nodig is om te verseker dat individue die ekonomie kan ontwikkel. As vryhede in Suid-Afrika bestaan het sou ons regering nie nodig gehad het om groot begrotings te bestuur nie. As die individue werklik vry was sou hulle self kon bepaal hoe die ekonomie ontwikkel. Dit sou nie altyd perfek gewees het nie, maar dit sou aansienlik beter gewees het.

Regerings het dus twee keuses, hulle kan vryheid ondermyn en die samelewing manipuleer sodat dit ʼn weerspieëling word van hulle eie agenda, of hulle kan die samelewing bevry en toekyk hoe welvaart toeneem. Ongelukkig moet daar ’n keuse uitgeoefen word, en ons regering het reeds hulle keuse bekendgemaak.

Deur Edward Blight