Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student vir oorsese reis gekies

Gepubliseer op: 28 Junie 2017

Lauré de Jager, wat BCom Ondernemingsbestuur aan Akademia studeer, is een van slegs dertien studente van universiteite landwyd wat gekies is om die Jongerenprojek studiereis na Nederland en België van 28 Junie tot 19 Julie 2017 mee te maak.

Die Jongerenprojek (JP) vind sedert 1976 jaarliks plaas. Die program roteer om die beurt – een jaar bring deelnemers uit Nederland en België besoek aan Suid-Afrika en Namibië, waarna ’n ander groep Suid-Afrikaners en Namibiërs die daaropvolgende jaar in die Lae Lande ontvang word. Een van die toerleiers, Gerdus Senekal, verduidelik dat die JP in kern ’n uitruilprogram is waardeur daar gepoog word om deelnemers ’n begrip te gee van die onderliggende verhouding wat daar tussen die Lae Lande en Suid-Afrika bestaan – soos in die besonder vergestalt word in die taalbande wat Nederlands met Afrikaans deel.

“Die hoop is om ’n wedersydse begrip en waardering vir die Europese en Suid-Afrikaanse kulture te ontwikkel, omdat deelnemers deur hulle sustertale relatief maklik kan kommunikeer en sodoende mekaar se wêrelde – en die gedeelde geskiedenis daarvan – kan ontdek,” sê hy.

Kandidate wat vir dié uitruilprogram wou kwalifiseer, moes by ’n tersiêre instelling geregistreer wees en reeds hul tweede studiejaar geslaag het. Lauré het aansoek gedoen om deel van die Jongerenprojek te wees sodat sy ʼn ander land geografies, kultureel en maatskaplik kan verken. As derdejaarstudent in BCom Ondernemingsbestuur wil sy ʼn beter begrip van die onderliggende verhouding tussen Suid- Afrika en die Lae Lande vorm.

“Hierdie studente-uitruilprogram sal vir my ʼn wedersydse begrip en waardering vir die Europese en Suider-Afrikaanse kulture gee. Ek wil graag ʼn beter begrip van die Lae Lande se ekonomie, politiek, letterkunde en regstelsel vorm, omdat hierdie aspekte ook verband hou met my studierigting. Ek wil ook meer oor Afrikaans leer en dieper in die kultuurverskille delf.”

Die toer is ongeveer drie weke lank, waarvan nege dae in België en twaalf dae in Nederland deurgebring gaan word. Die toergroep lê besoek af by Nederlandse universiteite, museums en selfs die parlement. Hulle gaan ook gesprekke met vakbonde voer, ʼn speurtog deur Nederland doen en lesings bywoon.

Die toer beloof om leersaam én pret te wees. Aan die leersame kant kan Lauré nie wag om aan internasionale sake en ondernemingsbestuur blootgestel te word nie, sodat sy ʼn beter begrip kan vorm van hoe sake op ʼn internasionale platform gedoen word. Aan die pret kant sien sy uit daarna om by gasouers en in koshuise te bly en om die ander lande se kos te proe. “Ek verjaar op die toer, so ek is so bevoorreg genoeg om my 21ste verjaardag in België te kan vier.”

Lauré beplan om min goed in te pak sodat sy baie kan terugbring. Tog het sy ʼn lysie van noodsaaklikhede gemaak om in te pak. Boaan die lysie is haar tandeborsel, sodat sy nie in Nederland R400 vir ʼn nuwe een hoef te betaal nie. ʼn Internasionale kragprop is ook van kardinale belang, en haar selfoon. “Verder moet ek net my paspoort, ʼn paar kledingstukke, Euro’s en my sin vir humor onthou!”

Lauré gaan hierdie geleentheid om te leer en haar vaardighede en algemene kennis uit te brei aangryp, want, sê sy, “niemand kan ervaring van ʼn mens kan weg vat nie.”