Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia stel ereleerstoel in veiligheidstudies bekend

Dr. Heinrich Matthee, bekende politieke en veiligheidsake-ontleder, is op Dinsdag 28 Maart bekendgestel as die eerste bekleër van die ereleerstoel in veiligheidstudies vir die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia. Matthee het tydens ʼn bekendstellingsfunksie by Leriba in Centurion ook sy eerste toespraak met die titel “Verkenners en besluitnemers in politieke wisselordes” gelewer.

Matthee het 25 jaar se ervaring as ʼn ontleder van politieke en veiligheidsake vir organisasies in die Midde-Ooste en Afrika. Hy is tans ʼn nieresidensiële navorser by die Emirate Sentrum vir Beleid in Abu Dhabi, Verenigde Arabiese Emirate en buitengewone professor by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Hy het ʼn DPhil magna cum laude in politieke wetenskap van die Universiteit van Marburg, Duitsland, en is die skrywer van etlike publikasies oor kultuurpolitiek, geopolitiek en veiligheidsake in Suid-Afrika, die Midde-Ooste en Europa.

Die ereleerstoel in veiligheidstudies is Akademia se derde ereleerstoel. Die NP van Wyk-Louw-ereleersotel in kultuurkritiek, beklee deur Carel Boshoff, en die ereleerstoel in onderwysleierskap, beklee deur dr. Pierre Edwards, is voorheen bekendgemaak.

Prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, het tydens die funksie vir Matthee, ampsbekleërs van die Solidariteit Beweging, Akademia-personeel en vriende van die instelling verwelkom. Hy het ook die belangrikheid van die ereleerstoel en die veld van veiligheidstudies beklemtoon.

Volgens prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia, is een van die belangrikste kenmerke van ʼn professor ʼn bepaalde gesag. Hy noem dat die professor vanweë hierdie gesag bo die gemiddelde uitgestyg het en aan studente ʼn voorbeeld gestel het waarna hul kon oplewe.

Goosen noem dat Akademia vandag steeds verbind is tot die idee van gesag en in besonder tot die gesaghebbende professor. “Hierdie verbintenis vind onder meer uitdrukking in ons verbintenis tot die amp van die ereprofessor, dit wil sê tot daardie persoon wat op ʼn selfs nog meer deurleefde wyse as die professor dinge soos waarheid, wysheid en ervaring verteenwoordig,” sê Goosen. “By Akademia word daar na hierdie persoon as ʼn ereleerstoel-bekleër verwys.”

Verder sê Goosen dat dit vir Akademia ʼn groot voorreg is om ʼn ereleerstoel in veiligheidstudies in te stel. “Ons is diep dankbaar dat dr. Matthee, die eerste bekleër van hierdie erestoel, die eienskappe van deurleefde waarheid, wysheid, insig en ervaring op ʼn uitnemende wyse beliggaam. Eeue van gesaghebbende professore uit die ou universiteitswese sou ʼn hartlike kopknik aan hierdie aanstelling verleen het. Akademia is verheug daaroor.”

Alida Kok, departementshoof van Sosiale Wetenskappe, noem dat die ereleerstoel in veiligheidstudies die akademiese werk wat Akademia doen op ʼn goeie koers plaas. “Ons begin projekte in die ereleerstoel wat gaan bydra tot die diepte van ons departement en dit gee ook aan ons en die publiek die blootstelling oor veiligheidstudies sodat ons die veiligheidsituasie in ons streek kan bestudeer en verwerk.”

Die ereleerstoel het verskeie doelwitte wat hulle binne drie jaar wil bereik. Hierdie doelwitte sluit in:

  • Die ontwikkeling en aanbieding van ʼn toekomstige honneursmodule in gemeenskap en veiligheidstudies.
  • Die ontwikkeling en aanbieding van ʼn kortkursus in veiligheidstudies.
  • Die ontwikkeling en aanbieding van werkswinkels in veiligheidstudies.
  • Die aanstelling van ʼn navorsingsgenoot onder die ereleerstoel by Akademia.
  • Om ondersoek in te stel oor die totstandkoming van ʼn instituut vir veiligheid- en toekomsstudies by Akademia.
  • Om navorsing oor en opleiding in onderhandeling en mediasie in die gemeenskap te doen.

Matthee se eerste toespraak kan beskryf word as ʼn kaleidoskoop van veiligheidsake. Dit het verskillende aspekte hanteer soos die internasionale kennisgemeenskap, ʼn oop visier vir perspektiewe, veiligheidsekonomie, wapenmagte, diplomasie en gemeenskapsveiligheid. Sy toespraak het gekyk na hoe daar gedink kan word oor Afrikaanse veiligheidstudies en ook hoekom dit belangrik is.

Voorts het Matthee sy ervarings gedeel as ontleder van veiligheidsake en politiek in verskeie dele van die wêreld. “In Afrika het ons egter te doen met verskeie jong staatsordes en meer as 2 000 kultuurgroepe. Die denke oor veiligheid in Afrika verskil dus baie van Westerse denke daaroor. Ek glo dat ons by Akademia ʼn denkskool moet skep om veiligheidstudies te bedink en uit te bou vanuit ʼn Afrika-perspektief.”

Matthee noem dat hy werklik dankbaar is om die eerste bekleër van die ereleerstoel van veiligheidstudies by Akademia te wees. “Die amp wat ek ontvang het, is nie ʼn troon nie, maar ʼn taak. Ons gaan kyk na ons bronne en houdings van ons leefordes. Wie dít versorg en beskerm, skep lewe,” het hy afgesluit.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof, dr. Heinrich Matthee, bekleër van die ereleerstoel vir veiligheidstudies, prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe en Alida Kok, departementshoof van Sosiale Wetenskappe.