Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia koop die woord Fontie in die WAT

Akademia het onlangs die woord “Fontie” in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) aangekoop. Studente wat aan hierdie instelling studeer word Fonties genoem. Die eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, beteken fontes ook fonteine as dit vrylik vertaal word. “Om ons studente Fonties te noem is dus nie bloot net ʼn afleiding van die naam van die instelling nie, maar dit dra ook betekenis,” noem Visser. “Soos goeie fonteine standhoudende skoon water gee aan die omgewing daarvan, is die ideaal dat Akademia-studente (Fonties) só sal wees vir hul gemeenskap.”

Die aankoop van die woord “Fontie” het gevolg nadat die navorsingsverslag van die #Studentelewe-veldtog bekendgestel is. Die doel van die verslag was om te bepaal wat die elemente van ʼn gesonde studentelewe is wat jongmense tydens hulle studies vorm en om te bepaal hoe die studentelewe van ʼn Afrikaanse universiteit behoort te lyk. “Ons het uit die verslag gesien hoe ʼn goeie studentelewe vir ons Fonties moet lyk. Ons is opgewonde om hierdie studentelewe en unieke studentegemeenskap verder uit te bou waar elkeen sy of haar volle potensiaal kan bereik.”

Visser vertel dat Akademia nooit sonder studente, en die vertroue wat hulle in die instelling plaas, sou bestaan nie. “Met die aankoop van die woord Fontie wil Akademia weer wys hoe belangrik ons studente vir ons is,” sê Visser. “Ons wil ook in Afrikaans terugploeg deur woorde in die WAT te koop sodat die taal kan groei en gedy,” sluit hy af.

Fontie is die agste woord wat Akademia besit nadat die woorde universiteit, alumni, dekaan, pionierswerk, studentelewe, koshuis en kortkursus reeds aangekoop is. Indien jy ʼn bydrae tot Akademia se groeiende studentelewe wil maak, klik hier. Akademia – waar denke en hart gevorm word!

Studente wat aan Akademia studeer word Fonties genoem – afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes.