Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig

Gepubliseer op: 10 Augustus 2022

Op 14 Augustus 2022 vier Suid-Afrika Afrikaanse Taaldag. Dr. Annelise de Vries, dosent in Opvoedkunde by Akademia, het onlangs op Pretoria FM se Skuins voor Pouse oor die noodsaaklikheid en voordele van moedertaalonderrig gesels.

Moedertaalonderrig is volgens De Vries “die taal wat jy eerste geleer het, die taal wat jy die beste verstaan en die taal wat jy die meeste gebruik om jou menswees uit te druk”. Sy het ook moedertaal as belangrik vir ʼn kind se algehele ontwikkeling benadruk.

De Vries, ʼn kenner op die gebied van taalontwikkeling, noem dat dit uit politieke kringe blyk dat daar ʼn onwilligheid oor die daadwerklike implementering van moedertaalonderrig van basiese tot tersiêre onderrig heers. “Die waarde van moedertaalonderrig word egter tog erken met die instelling van die taalkompensasiebeleid.” Sy vertel ook dat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, onlangs tydens haar begrotingsrede die toegang tot moedertaalonderrig in hoër grade eerder as slegs aanvangsonderrig in Suid-Afrika bepleit het.

“Tans kan Suid-Afrikaanse leerders slegs tot in graad 3 in hulle moedertale onderrig ontvang, waarna hulle dan moet oorslaan na Engels of Afrikaans. Die departement vir basiese onderwys het in 2013 ʼn strategie bekendgemaak waar 2 584 skole geïdentifiseer is om die taalaanbod uit te brei,” het de Vries gedurende haar gesprek op Skuins voor Pouse gesê.

Volgens haar vaar leerders wat onderrig ontvang in die taal waarin hulle die vaardigste is die beste omdat hulle die hoër-orde-vrae begryp. “Leerders wat hul moedertaal onder die knie het, leer Engels soveel makliker aan en hierdie veeltaligheid dra juis by tot beter begrip van ander tale,” meen De Vries. Sy sê verder dat basiese konsepte wat die boustene vir latere doeltreffende leer vorm, die heel beste deur moedertaalonderrig vasgelê word.

“’n Persoon wat hom/haar goed kan uitdruk, is meer selfversekerd. ’n Kind wat twee tale magtig is, het nog meer selfvertroue, aangesien die beheersing van twee tale voordelig is in ’n multikulturele land soos Suid-Afrika; in die werksplek en op sosiale vlak,” sê De Vries.

Volgens haar is moedertaalonderrig ook voordelig vir enige gemeenskap. Sy noem dat dit vir die breë gemeenskap voordele soos verskerpte sosiale kohesie, wedersydse erkenning vir mekaar en die uitlewing van die filosofie “eenheid in verskeidenheid” inhou. “Ons kan ook nie van die positiewe finansiële impak vergeet nie, wat ʼn sterker ekonomie en beter maatskaplike omstandighede tot gevolg het,” sê De Vries.

Sy het verder klem gelê op die feit dat Engelse moedertaalsprekers (met enkele uitsonderings vir Afrikaanse moedertaalsprekers) die enigste groep in Suid-Afrika is wat die reg tot moedertaalonderrig op tersiêre vlak kan geniet. “Daarom is die uitbreiding van privaat instellings soos Akademia, Sol-Tech en Aros belangrik, aangesien die instellings pro-moedertaalonderrig is. Daar is ook ander instellings in Suid-Afrika nodig wat hul vir die onderrig van ander moedertale op tersiêre vlak beywer,” sluit De Vries af.

“Moedertaalonderrig is noodsaaklik vir enige kind om ten volle optimaal te ontwikkel,” so het dr. Annelise de Vries, dosent in Opvoedkunde by Akademia, onlangs op Pretoria FM se Skuins voor Pouse-program gesê.