Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia open deure van nuut-ingerigte voltydse kampus

Gepubliseer op: 26 Februarie 2021

Die Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling Akademia het op Vrydag 26 Februarie haar splinternuwe kampusaanbod aanlyn bekendgestel. Studente sal bedags voltyds op ʼn veilige en vriendelike kampus in Centurion kan klas draf, terwyl hulle aan ʼn verrykende studentelewe deelneem. Hierdie eerste studente gaan baanbrekers wees in die vestiging van tradisies, en kan hulle verwag om wêreldgehalte onderrig in hulle moedertaal te ontvang.

Die nuus van die nuwe kampus is verlede jaar Junie aangekondig, en sedertdien het die instelling met die kampusinrigting gewoeker. Akademia maak gereed om op 15 Maart ongeveer 250 eerstejaarstudente vir hulle oriëntering te verwelkom. Aansoeke om op hierdie spoggerige kampus te studeer is nog oop tot 2 Maart om 12:00.

Akademia is sedert 2012 bekend vir haar suksesvolle nauurse onderrigleermodel wat verskeie studierigtings in Afrikaans deur die gebruik van gevorderde tegnologie aanbied. Hierdie model, met byna 2 000 studente, groei ook teen ʼn snelle pas en word elke jaar met nuwe kwalifikasies aangevul.

“Die behoefte aan ʼn Afrikaanse universiteit waar studente voltyds kan klas draf en aan ʼn gesonde studentelewe deelneem, het die afgelope jare sterk toegeneem,” meen Paul Vogel, operasionele hoof van Akademia. “Akademia is gereed om hierdie behoefte aan te spreek, en ons glo dat hierdie geskiedkundige gebeurtenis hoop skep vir voornemende studente wat ʼn gehalte kwalifikasie in Afrikaans wil voltooi.”

Die kampus is sentraal in Centurion geleë, binne loopafstand vanaf die Gautrein-stasie en ʼn inkopiesentrum. Dit is ingerig met hoëspoedinternet, ʼn biblioteek, kafeteria, studenteverblyf, sewe klaskamerlokale, sekuriteit en ʼn lieflike ouditorium. ʼn Propvol studentekalender word beplan om te verseker dat hierdie studente aan ʼn opwindende studentelewe kan deelneem. Studente sal aan aktiwiteite soos ʼn eerstejaarskamp, gholfkompetisies, debatvoering, aksiesport, pretstappe, dramaklasse, ʼn erfenisvereniging en ʼn damestee kan deelneem ¬– om maar net ʼn paar te noem.

Ses kwalifikasies word tans op Centurion-kampus aangebied:
•    BA (Kommunikasie en Joernalistiek)
•    BCom (Ekonomie en Regte)
•    BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)
•    BCom (Ondernemingsbestuur)
•    BSc (Wiskundige Wetenskappe)
•    BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)

Akademia se akademiese personeel is reeds in die proses om die kampusaanbod uit te brei om aan die behoefte vir selfs meer kwalifikasies te voldoen. ʼn Deeglike ontwikkelingsproses word gevolg wat akkreditasie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opvoeding se Raad op Hoër Onderwys insluit.

“By Akademia strewe ons daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar hart en denke gevorm word vir ʼn betekenisvolle en vrye toekoms,” sê Vogel. “Daarom sal studente, ongeag die model wat hulle kies, nie net boekkennis ontvang nie, maar werklik gevorm word in hulle menswees sodat hulle die werksplek as opgevoede graduandi kan betree. Akademia het uitnemende akademici en ondersteuningspersoneel aan boord om hierdie opvoedingsideaal met kurrikula en studenteaktiwiteite te vervleg.”

Vir meer inligting oor Akademia, besoek www.akademia.ac.za, e-pos navrae@akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp aan 0861 222 888.

Kyk die video oor hoe hulle studentwees op hierdie kampus ervaar het hier.