Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-studente draf nou ook klas by die Leriba-kampus in Centurion

Gepubliseer op: 12 Februarie 2024

Akademia begin die 2024- akademiese jaar op ʼn hoë noot met die bekendmaking van nóg ʼn kampusperseel in Centurion. Die Leriba-kampus is ʼn waardevolle toevoeging tot die instelling se bestaande Gerhardstraat-kampus, en voltydse studente sal vanaf 12 Februarie hier klasdraf.Volgens Liana van Rooy, Akademia se registrateur, het die Raad op Hoër Onderwys en Departement van Hoër Onderwys en Opleiding goedkeuring gegee dat dié perseel voortaan ook gebruik mag word om akademiese klasse aan te bied. Dié perseel huisves reeds die Centurion-sentrum vir nauurse afstandstudente én twee manskoshuise, Huis Hennops en Huis Magalies.

Die boomryke terrein skep ʼn veilige en ontspanne omgewing, terwyl die goed versorgde tuine en lowergroen grasperke ideaal is vir geriefsbreke tussen klasse. Voeg hierby geriewe soos ʼn eetsaal, ʼn kafeteria, ʼn mediasentrum én Akademia se koffiewinkel, Sowel As, en dit is eens dié kampus is ʼn plek waar denke sowel as die hart gevorm sal word

Die kampus is sentraal in Centurion geleë, met onder meer die Gautreinstasie en ʼn gerieflike inkopiesentrum in die omtrek. Verder sal sewe lesingslokale wat 460 sitplekke kan akkommodeer die groei in voltydse studentegetalle absorbeer.

“Die ingebruikneming van ʼn tweede kampusperseel is genoodsaak deur Akademia se groeiende studentegetalle en stel die instelling in staat om van krag tot krag te gaan,” sê Van Rooy. Sy voeg by dat hierdie uitbreiding die instelling se verbondenheid tot akademiese uitnemendheid weerspieël. “ʼn Groot deel van die aanbied van gehalte hoër onderwys is om te voldoen aan die vereistes en riglyne wat bepaal word deur regulerende liggame soos die Raad op Hoër Onderwys, die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, en diesulke instansies.”

Volgens Van Rooy sal die volgende programme vanuit die Fakulteit Opvoedkunde en die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Leriba-kampus aangebied word: BEd (Grondslagfase-onderwys), BEd (Intermediêre Fase-onderwys), BSc (Rekenaarwetenskappe) en BSc (Wiskundige Wetenskappe). Die ander akademiese programme sal by die Gerhardstraat-kampus (ongeveer 1.2 km vanaf die Leriba-kampus) aangebied word.

“Akademia is in ʼn bevoorregte posisie om so ʼn pragtige perseel te kan benut. Die ruimte van die nuwe kampus skep ook vir ons die geleentheid om verskeie opwindende studente-aksies hier te kan aanbied,” sluit Van Rooy af. “Ons is vreeslik opgewonde om te sien hoe ons studente op hierdie pragtige kampus gaan floreer.”

Liana van Rooy en Marthinus Visser het die lintknipplegtigheid behartig.
Fonties sal voortaan tussen klasse heerlik kan sosialiseer by die verskeie ontspanningsareas wat die Leriba-kampus bied.
Akademia se koffiewinkel, Sowel As, word vanaf die Leriba-kampus bedryf.