Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Taalpraktisyns is die onbesonge kampioene van ʼn moedertaal

Gepubliseer op: 20 Februarie 2024

Geskryf deur Karien Brits en Sarita Blignaut, taalpraktisyns by Akademia.

Taalpraktisyns is kampioene wat taalfiks bly en ander toerus om met selfvertroue hulle moedertaal te gebruik. Hulle rus hulleself daagliks toe om aan moedertaalsprekers die bes moontlike tekste te bied. ʼn Taalpraktisyn is die persoon wat aande sal wakker lê en wonder wat die regte woord sal wees om die betekenis van byvoorbeeld ʼn Engelse woord oor te dra. Hulle wil aan hulle lesers dieselfde gevoel oordra as wat die brontaalskrywer in gedagte gehad het.

Taalpraktykwerk is dus nie net ʼn lukrake oefening waar taalpraktisyns gelei word deur wat mooi lyk en klink nie. Volgens Wannie Carstens in sy bekende boek Norme vir Afrikaans word taalpraktisyns gereeld gekonfronteer met normatiewe kwessies. Taalnorme gaan nie net oor wat reg of verkeerd is nie, maar ook oor wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Taalpraktisyns moet aan die hand van hierdie reëls hulle keuses motiveer. Soos wat tale verander, verander die voorskrifte ook en daarom moet hulle op die hoogte bly van die heersende norme.

Taalpraktisyns hou hulle besig met die toegepaste taalkunde en hulle wil praktiese oplossings vir taalprobleme vind. Hulle kollegas, die deskriptiewe taalkundiges, is nie besig met taalreëls nie, maar hulle stel belang in hoe taal die taal gebruik word. Normatiewe taalkundiges neig na die voorskriftelike in hoe taal behoort gebruik te word terwyl deskriptiewe taalkundiges beskryf hoe taal wel gebruik word. Daar is ʼn wisselwerking tussen hierdie benaderings en daarom is ʼn taalpraktisyn ook ʼn lewenslange leerder.

Soos wat reëls en wette belangrik is vir goeie orde en ʼn veilige samelewing is taalnorme ook belangrik vir veilige en goeie kommunikasie. Volgens Carstens is die kennis van taalnorme belangrik vir intergroepverhoudinge en dit bied ook insig in die sosiale funksionering van ʼn gemeenskap. Norme is dus belangrik vir gesonde kommunikasie sodat mense van dwarsoor die wêreld mekaar kan verstaan. Dit beteken dat ʼn algemene taal (of standaardtaal) gebruik word sodat die sprekers van verskillende dialekte mekaar kan verstaan.

ʼn Ander belangrike saak is terminologie en dit laat taalpraktisyns ook dikwels kopkrap. Terminologie vorm ʼn kerndeel van ʼn taalpraktisyn se werk. Daarom is dit so belangrik dat elke moedertaal oor ʼn ryk terminologieversameling beskik. Dit beteken dat die juiste woord op die juiste plek gebruik word om die boodskap so helder as moontlik oor te dra.

Woordeboeke en taalgidse is ʼn taalpraktisyn se beste vriend en jy sal hulle meestal met hulle neus in ʼn boek of op ʼn aanlyn naslaanbron vind. Om die waarheid te sê is taalpraktisyns nuuskierige wesens wat amper enige iets lees waarop hulle, hulle hande kan lê, en op hierdie manier brei hulle ook hulle eie woordeskat uit.

Gebruik Moedertaalmaand om die taalpraktisyn in jou lewe te bedank, want agter elke woord wat hulle gebruik lê ure se harde taalwerk.

Taalpraktisyns is kampioene wat taalfiks bly en ander toerus om met selfvertroue hulle moedertaal te gebruik. Dit is die siening van Karien Brits en Sarita Blignaut, taalpraktisyns by Akademia.