Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-studentelewe gedy met die bekendstelling van bykomende koshuisverblyf

Gepubliseer op: 27 Januarie 2024

Akademia het op Saterdag 27 Januarie te midde van groot opgewondenheid die deure na twee splinternuwe koshuise vir Akademia-studente oopgeswaai. Huis Dahlia en Huis Magalies sal voortaan die tuiste wees van onderskeidelik 88 dames- en 56 manstudente wat voltyds by dié instelling se kampus in Centurion studeer. Die instelling se twee ander koshuise, Huis Strelitzia en Huis Hennops, is in 2022 geopen.

Huis Dahlia, wat na die bekende Dahlia-sierblom vernoem is, simboliseer elegansie, innerlike krag, verandering, kreatiwiteit en waardigheid. Inwoners van dié koshuis koester die geleenthede wat ʼn nuwe begin inhou, word gekenmerk aan hul vriendelikheid, ʼn genadebesef en ʼn toewyding aan die skone. Dié koshuis is slegs 950 m vanaf die Gerhardstraat-kampus geleë. Douard en Minette d’Assonville tree op as koshuisouers, terwyl Marzé Becker, primaria, tesame met haar verkose huiskomitee, as studenteleier die voortou sal neem.

Gedagtig aan die simboliese standvastigheid en sterkte wat ʼn bergreeks veronderstel, is Huis Magalies ʼn trotse manskoshuis wat verbind is tot integriteit, broederskap en eerlikheid. Dié koshuisperseel is ongeveer 2,5 km vanaf die Gerhardstraat-kampus. Kobie en Adrienne Krause is die koshuisouers van Huis Magalies, terwyl Stephan Bekker as primarius verkies is. Bekker word in sy leierskapsrol deur lede van die huiskomitee ondersteun.

Senior studente is reeds vanaf middel-Januarie besig om by hierdie nuwe koshuise hul intrek te neem. Blinkoog eerstejaarstudente sal na afloop van die eerstejaarskamp hul nuwe koshuistuiste betree. In die geval van Huis Dahlia bestaan die verblyf uit eenhede met twee enkelkamers, ʼn kombuis en ʼn badkamer. Huis Magalies beskik oor dubbelkamers met aangrensende badkamers. Gedeelde kombuis-, was- en opdrooggeriewe is ook beskikbaar.

Volgens Heleen Coetzee, hoof van Studentesake, span hierdie nuwe koshuise die kroon op Akademia se groeiende studentegemeenskap. “Om in ʼn koshuis te woon, bied aan Fonties ʼn eerstehandse ervaring en aktiewe deelname aan Akademia se dinamiese studentelewe. Die koshuisverblyf is op só ʼn manier ontwerp dat dit ʼn ontspanne en sosiale omgewing bied, maar terselfdertyd ʼn gunstige omgewing bied wat bevorderlik is vir studie,” sê Coetzee.

Coetzee noem verder dat die nuwe koshuisverblyf, tesame met die reeds bestaande koshuisverblyf – Huis Strelitzia (dames) en Huis Hennops (mans), ʼn groot bydra lewer tot die uitbouing van ʼn gesonde en ondersteunende studentelewe vir Akademia-studente. Hierdie uitbouing vind plaas by wyse van die vestiging van nuwe koshuistradisies, deelname aan opwindende koshuisaksies en ander buitemuurse aktiwiteite.

“Akademia se studentegemeenskap gaan van krag tot krag en spreek van die instelling se onverskrokke verbintenis tot die daarstelling van ʼn gehalte studente-ervaring waartydens studente in totaliteit beskou, respekteer en ontwikkel word. Die uiteinde van hierdie nougesette roepingsideaal is om Fonties voor te berei om as trotse ambassadeurs hul toetrede tot die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap te maak,” verduidelik Coetzee.

Sy spreek ten slotte die wens uit dat die ervaring van elke student se koshuislewe vir hom/haar onvergeetlike herinneringe sal inhou, lewenslange vriendskappe sal kweek en bowenal hul menswees sal verryk.

Voornemende studente kan in Akademia se studieaansoekproses, wat vir die 2024-studiejaar op 9 Februarie sluit, aandui of hulle in studenteverblyf belangstel. Stuur ʼn e-pos na koshuisverblyf@akademia.ac.za vir meer inligting oor die koshuisverblyf.

 

Huis Dahlia, wat na die bekende Dahlia-sierblom vernoem is, simboliseer elegansie, innerlike krag, verandering, kreatiwiteit en waardigheid.
Gedagtig aan die simboliese standvastigheid en sterkte wat ʼn bergreeks veronderstel, is Huis Magalies ʼn trotse manskoshuis wat verbind is tot integriteit, broederskap en eerlikheid.