Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se 2024-eerstejaarskamp – grootste en beste nóg

Gepubliseer op: 26 Januarie 2024

Ver oor die berge lê daar ʼn ander land, of in die geval, anderkant die rivier lê die grootste avontuur! Vanaf 23-26 Januarie het 317 Akademia-eerstejaars, 51 senior Fonties en 20 personeellede by The Mighty Apies River Venue buite Pretoria saamgekom vir die instelling se grootste eerstejaarskamp nóg.

Dié eerstejaarskamp met die tema “verbonde tot ʼn gebalanseerde studentelewe,” is die eerste tree vir talle Fonties op hul studiereis waar hulle blootgestel word aan die Akademia-kultuur en waardes. Die kamp bied ook ʼn voorsmaak van wat dit beteken om ʼn student by Akademia te wees. “Om deel te word van Akademia se studentelewe beteken dat jy deel word van ʼn gemeenskap van omgee, behoort, trots en tradisies,” sê Heleen Coetzee, hoof: Studentesake.

Voor die vertrek na die kampterrein het die eerstejaars saamgekom by die Leriba-kampus in Centurion en was hulle getaak om hul plek in ʼn groter legkaart te vind. “Die eerstejaarskamp is vol uitdagings en onbekende mense en dis waar die vriendskapsvorming begin,” sê Aloné Arnoldi, senior ambassadeur wat tans BA (Kommunikasie en Joernalistiek) by Akademia studeer. Eerstejaars het vinnig kragte saamgespan en met die aankoms van elke nuwe Fontie is ʼn stuk van die legkaart voltooi. Die voltooide legkaarte het die groepe onthul waarin studente die aktiwiteite op die kamp moes voltooi.

By die kampterrein het ʼn propvol program met groot avonture op die eerstejaars gewag. Elk van die 35 groepe het die geleentheid gekry om as eenheid hul identiteit te vorm. Kreatiewe kampkrete en -vlae het tydens aktiwiteite die Fontie-gees hoog gehou.

Intellektuele sessies gelei deur Paul Smit (konsultant: Strategiese ontwikkeling) en Heleen Coetzee het studente uitgenooi om saam te praat oor leierskap, identiteit en hoe om jou vryheid as student te bestuur. “By Akademia is ons trots daarop dat ons daarna streef om studente in totaliteit (denke én hart) te ontwikkel tot volronde jongmense wat hulle plek in die gemeenskap kan volstaan”, sê Coetzee.

ʼn Tromslaansessie het die ritme van die eerstejaars op die proef gestel en aktiwiteite soos boogskiet, boeresport, hindernisbane, minute-to-win-it-speletjies en zipline is met groot opgewondenheid aangepak. Niks kon die gees van die Fonties stuit nie, nie eers ʼn onverwagse reënbui nie!

Een van die kamphoogtepunte is die splinternuwe Fontie-stemme wat vir die eerste keer uit volle bors saam die Akademia-universiteitslied gesing het. Franco Prinsloo, koordirigent van die Akademia-koor, het met ʼn klavier die studente begelei. Die tweede aand is om die kampvuur afgesluit saam met sêr-afrigter, MJ Nel. Nel beskryf tydens sy vertoning die geleentheid as een van sy jaarlikse hoogtepunte.

Op die laaste aand van die kamp is daar ʼn afsluitingsdinee en in die gees van skrikkeljaar het damestudente moed bymekaar geskaap en die manstudente gevra om hul na die dinee te vergesel. Die geleentheid het beslis vir groot opwinding gesorg!

Die tasse is vroeg op Vrydagoggend gepak en die pad terug aangepak om hulle akademiese reise eersdaags aan te pak. Lewenslange vriendskappe is gevorm, nuwe vaardighede is aangeleer en herinneringe is gemaak wat vir lank nog om die kombuistafel gedeel gaan word.

Indien jy nog in 2024 ʼn eerstejaar by Akademia wil wees, kan jy tot 9 Februarie aansoek doen. Vir meer inligting, besoek www.akademia.ac.za. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

Dit eerstejaarstudente span kragte saam om legkaarte te voltooi en hul groepe vir die kamp te ontmoet.
Eerstejaars se ritme word op die proef gestel tydens ʼn tromslaansessie.
Dag twee begin vroegoggend met ʼn streksessie.
Niks kon die energie en opwinding van die eerstejaars stuit nie.
Lewenslange vriendskappe is by die eerstejaarskamp gevorm.
Eerstejaars, seniors en personeel kuier en sing saam met MJ Nel om die kampvuur.