Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia – ʼn antwoord op plasingsdilemma in hoër onderwys

Gepubliseer op: 24 Januarie 2024

Die Suid-Afrikaanse matriekklas van 2023 het hulself uitstekend van hul taak gekwyt deur die beste slaagpersentasie tot nog toe, 82,9%, te behaal. Wat hierdie prestasie nog méér merkwaardig maak is dat die meeste kandidate tot nóg toe in die geskiedenis van die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS)-eksamen met universiteitsvrystelling geslaag het. Laasgenoemde kandidate kwalifiseer vir toelating tot Baccalaureus-studie aan universiteite.

Hierdie goeie resultate span die kroon op twaalf jaar se harde werk, en die opgewondenheid loop hoog om by ʼn hoëronderwysinstelling aan te sluit om in welke spesialisveld ook al te begin studeer. Die realiteit is egter dat derduisende voornemende studente, desondanks hul goeie matriekresultate, nie vanjaar hul studiedrome sal kan realiseer nie. As gevolg van die hoë volume aansoeke by openbare universiteite is aansoekprosesse reeds gesluit en word daar geen voorsiening gemaak vir sogenaamde inloopaansoekers nie.

Akademia bied ʼn pasgemaakte antwoord vir diesulke studente. Nie net sluit dié instelling se aansoeke vir voorgraadse studie eers op 9 Februarie nie, die aansoekproses vind ook aanlyn plaas. Voornemende studente kan dié proses vanuit die gemak van hul leefvertrek voltooi en hoef daarom nie enige lang toue aan te durf óf die langpad te trotseer in die hoop om beskikbare geleenthede op te spoor nie.

Hierbenewens word voornemende studente voor ʼn keuse van twee dinamiese onderrigleermodelle geplaas. Die nauurse afstandsmodel bied ʼn gerieflike klasrooster en is pasgemaak vir skoolverlaters wat graag wil studeer én tegelykertyd wil werk of ander belangstellings najaag. Hierdie opsie verteenwoordig vir hierdie studente die beste van twee wêrelde. Dit stel studente in staat om werkservaring op te doen, ʼn salaris te verdien en só tot hul eie studiekoste by te dra óf hulself tot ander belangstellings, soos byvoorbeeld sport of entrepreneurskap, verder te ontwikkel. Klasse vir dié model word nauurs by ʼn sentrum of aanlyn via die e-leeropsie aangebied.

Indien jy eerder aan ʼn voltydse klaservaring wil deelneem, het jy alternatiewelik die opsie om jou studie by Akademia se kampus in Centurion aan te pak. Dié kampus is ʼn miernes van bedrywighede en studente wat die voltydse kampusmodel volg, geniet ʼn bruisende georganiseerde studentelewe terwyl daar bedags klasgedraf word. Boonop is daar ook nog plek vir aansoeke vir koshuisverblyf.

As dit kom by die instelling se akademiese aanbod, kan voornemende studente tussen verskeie studierigtings oor vyf dinamiese fakulteite kies. Hierdie fakulteite sluit in: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid.

In die geval waar ʼn voornemende student se matriekpunte teen alle verwagting nie goed genoeg is om hom/haar toelating tot die studieprogram van hulle keuse te gee nie, bied Akademia ook ʼn oplossing vir ʼn volwaardige kwalifikasie wat deure open na verdere studie. Liana van Rooy, registrateur by Akademia, verduidelik dat wanneer ʼn voornemende student by ʼn hoëronderwysinstelling inskryf dit wys is om eers vas te stel watter verskillende roetes die student by sy uiteindelike loopbaandoelwit kan uitbring. In die geval van Akademia se rekeningkunde-programme, byvoorbeeld, het studente wat volgens hul NSS-uitslae nie toelating tot graadstudie het nie, óf nie die minimum persentasie vir wiskunde behaal het nie, dit oorweeg om die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde te volg. Hierdie is ʼn eenjaarprogram wat as toelating tot die BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-program kan dien. Die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie is nóg ʼn voorbeeld van ʼn opsie wat tot toelating tot toekomstige graadstudie by Akademia kan lei. Beide hierdie programme word via die nauurse afstandsmodel aangebied.

Akademia strewe daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar beide die denke en die hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms. Dit beteken dat die instelling geroepe is om nie net studente met hoogstaande kennis en wysheid toe te rus nie, maar werklik ʼn verskil te maak deur afgeronde en gevormde afgestudeerde studente te lewer wat ʼn betekenisvolle bydrae sal lewer in die gemeenskappe waarin hulle hulleself bevind.

Indien jy nog kopkrap oor moontlike studie in 2024, besoek vandag nog Akademia se webblad. Jy kan ook ʼn afspraak maak met ʼn vriendelike studentewerwer deur ʼn konsultasiesessie aanlyn te bespreek of ʼn e-pos na navrae@akademia.ac.za te stuur. Akademia, jou loopbaanreis begin hier!

Akademia bied ʼn akademiese tuiste waar beide die denke en die hart gevorm word. Studente kan hul studie óf via die voltydse kampusmodel óf die nauurse afstandsmodel aanpak.