Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Terug na die toekoms met onderwysleierskap by Akademia-simposium

Gepubliseer op: 25 April 2022

Die Fakulteit Opvoedkunde het op 13 April 2022 by koshuis@Leriba ʼn onderwysleierskapsimposium aangebied met die tema “Terug na die toekoms”. Kenners op die gebied het die lesse wat hulle uit die verlede geleer het met ander onderwysleiers gedeel. Marthinus Visser, die besturende direkteur van Akademia, het die leiers by die simposium verwelkom met die volgende woorde: “Die aanstelling van topmense lei tot topresultate.” In sy toespraak het hy sy leierskaplesse gedeel wat hy by Akademia geleer het. “ʼn Mens pak iets soos Akademia nie alleen aan nie. Dit is spanwerk. Dit is daarom belangrik dat die regte mense aangestel moet word, al verg dit tyd en moeite.”

Prof. Danie Goosen, die akademiese hoof, het in sy aanbieding oor leierskap en die rol van idees gepraat. “Die Weste is in ʼn kultuurkrisis, maar as teenvoeter staan opleiding en opvoeding sentraal by Akademia.” Hy noem verder dat instellings soos Akademia forums is waar karakter met die oog op deelname in die gemeenskap gevorm word, want leierskap is nou broodnodig. “Leierskap vereis dat die leier ʼn grondige analise van die eise van die tyd moet maak. Leiers het insig nodig om te verstaan waarmee hulle gekonfronteer word. Hulle moet begrond kan antwoord op die eise van die tyd.”

Dr. Pierre Edwards, voormalige skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool, het in sy aanbieding ʼn historiese perspektief op onderwysleierskap gebied. Hy het in sy terugblik by 1992 begin en na die politieke woelinge verwys. “Die instelling van Model C-skole was ʼn skokaankondiging in daardie tyd, maar wat rampspoedig gelyk het, het positief uitgewerk,” sê hy. Edwards vertel verder dat hy geweldig positief oor die Afrikaanse skoolgemeenskap bly.

Dr. Louis Swanepoel, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie, het in sy aanbieding, “Skoolleierskap se skuiwende grense – uitdagende voorreg!” by Edwards aangesluit en gewys hoe die onderwyslandskap ná 1994 verander het. Hy het veral gefokus op die hertaksering van die eienskappe van skoolleierskap. “Die groot verskil tussen amptenare en leiers is dat leiers nie net die dinge reg doen nie, maar ook die regte dinge doen.” Leiers moet volgens hom groter klem plaas op die vestiging van ʼn effektiewe organisasiekultuur in skole. Dit sal ‘n groot behoefte aan die heropleiding van onderwysleiers tot gevolg hê ten einde hulle toe te rus met die nodige vaardighede. “Leiers is leergierig. Hulle het dalk nie nou oplossings nie, maar hulle gaan soek dit. Almal in die skoolstelsel moet leiers in eie reg wees en daar moet ʼn wil wees om voortreflikheid te bereik.”

Prof. Irma Eloff, voormalige dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit van Pretoria, het ʼn internasionale blik gebied op lesse uit die onderwysleierskap in die hoër onderwys. Die eerste les is dat ou kundigheid nie verlore moet raak nie, ons moet soms teruggaan na ou gebruike. Tweedens hoef ons nie altyd mee te ding nie – samewerking is baie belangriker. In aansluiting daarby is daar derdens ʼn ongesonde klem op matriekuitslae. Vierdens lei goeie onderwys tot verhoogde lewenskwaliteit en daarom moet die topstudente gewerf word om onderwysers te word.

Dr. Jaco Deacon, hoof- uitvoerende beampte van FEDSAS, se tema was “En die leier vra, hoekom?” Hy het by Swanepoel aangesluit oor die belangrikheid dat leiers die regte dinge moet doen. Volgens Deacon moet ons eers die regte mense, mense met karakter, aan boord kry. “Hierdie leiers vra nie hoe goed gedoen moet word nie, maar hulle is dapper genoeg om te vra hoekom goed gedoen moet word.”

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging, het as laatste spreker sy lesse van visionêre leiers gedeel. Hy moedig leiers aan om die biografieë van ander leiers en ook oor die geskiedenis te lees, want in die woorde van Thomas Sowell is die verlede die beste gids wat ons het vir die toekoms. Hy glo ook dat ʼn leier diegene om hom help om sterre te word en hierdie leiers, volgens GK Chesterton, veg uit liefde en nie uit haat nie.

Akademia sien uit na die volgende simposium wat deur die Fakulteit Opvoedkunde aangebied gaan word om sodoende meer by kenners te leer oor die gebied van onderwys.

Indien jy die simposium misgeloop het, kyk dit hier.

Akademia se dosente in die Fakulteit Opvoedkunde het die simposium bygewoon en saam gesels oor die verskil wat die verlede in hedendaagse onderwysleierskap gemaak het.
Dr. Pierre Edwards, voormalige skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool, het in sy aanbieding ʼn historiese perspektief op die onderwysleierskap gebied.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, se toespraak het gehandel oor lesse van visionêre leiers uit die verlede.