Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia help inlig oor die belangrikheid van vakkeuses by aanlyn vakkeuse-aand

Gepubliseer op: 26 April 2022

Vakkeuses in graad 9 hoef nie vreesaanjaend te wees nie. Akademia bied vanjaar weer ʼn vakkeuse-aand op Woensdag 4 Mei vanaf 18:30 tot 20:00 aan om skoliere met die nodige kennis toe te rus oor die belangrikheid van vakkeuses. Die sessie word aanlyn aangebied wat beteken dat jy en jou gesin vanuit die gemak van jou eie huis hierdie spesiale geleentheid kan bywoon.

Die propvol program sluit gesprekke in oor watter vakke benodig word vir toelating tot sekere studierigtings en hoe om persoonlikheid-, aanleg- en belangstellingstoetse in ag te neem om hierdie belangrike besluite te kan neem. Daar sal ook geleentheid wees vir skoliere en ouers om vrae aan die einde van die sessie te vra wat deur die paneel van kundiges beantwoord sal word om sodoende enige laaste onsekerhede uit die weg te ruim. As ekstra toegevoegde waarde, kry elke skolier wat die aand bywoon ook ʼn digitale vakkeusebegeleidingsgids.

Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder van die skolemark by Akademia, noem dat Akademia as akademiese instelling die erns van die besluit van vakkeuses beslis verstaan. “Hierdie keuse het ʼn direkte invloed op ʼn skolier se toekomstige studiemoontlikhede en dus selfs sy loopbaanopsies. Jou keuse van vakke kan baie deure oopmaak, maar kan dit jou ook om elke hoek en draai fnuik.”

Omdat Akademia in diens van die gemeenskap wil optree en waarde wil toevoeg tot die lewens van alle skoliere, het hul besluit om ʼn vakkeuse-aand aan te bied. “Graad 9-leerders en hul ouers het ondersteuning nodig en moet toegerus word met die nodige kennis om groot besluite met sekerheid te kan maak. Dit is ʼn bekostigbare en waardevolle manier om leerders en ouers met die daardie kennis toe te rus,” noem Pretorius.

Die volgende uitgesoekte kundiges het jare se ondervinding in hul spesialisvelde en gaan skoliere tydens die vakkeuse-aand toespreek:

 

“Indien jy die eerste stap in die regte rigting wil neem om jou toekomsdrome ʼn kans op realiteit te gee, is die vakkeuse-aand ʼn moet. Die aand sal jou help om ʼn ingeligte en weldeurdagte besluit te kan maak ten opsigte van watter vakke om te neem en watter geleenthede dit in die toekoms sal ontsluit,” sluit Pretorius af.

Indien jy onseker is oor jou of jou kind se vakkeuses, maak seker dat jy hierdie waardevolle sessie bywoon. Registrasies is reeds oop en die koste beloop R50 per gesin. Waarvoor wag jy? Klik hier om om jou virtuele sitplek te bespreek.