Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Tien wenke vir ʼn veiliger en gesonder werksplek

Gepubliseer op: 26 April 2022

Een van die positiewe gevolge van Covid-19 is die bevordering van veiligheid en gesondheid in en om die werksplek dwarsoor die wêreld. Die pandemie het die belangrikheid van samewerking beklemtoon en versterk tussen afdelings soos fasiliteitebestuur, menslike hulpbronne en beroepsgesondheid en veiligheidverteenwoordigers. Voorts het die pandemie ʼn groot verantwoordelikheid geplaas op werknemers dwarsoor die wêreld, nie net vir hul eie veiligheid nie, maar ook vir hul kollegas se veiligheid.

Daar was verskeie vereistes waaraan werkgewers en werknemers moes voldoen om die ekonomie aan die gang te hou en die gereelde aanpassings het dit aansienlik moeiliker gemaak vir bogenoemde afdelings om te alle tye die beste praktyke te implementeer. Te danke aan die goeie leiding, soos deur die vakbond Solidariteit wat gereeld nuwe voorstelle gemaak het vir die veilige terugkeer van werknemers, kon organisasies steeds voortgaan om hul werksaamhede, waar moontlik, binne die regulasies en riglyne uit te voer.

Met die oog op Wêrelddag vir Veiligheid en Gesondheid by die Werk, wat op 28 April gevier word, het Akademia se operasionele span ʼn paar wenke saamgestel om jou werksplek veiliger en gesonder te maak:

  1. Vereenselwig jouself met die noodprotokolle en nooduitgange in jou direkte werksomgewing.
  2. Vind uit wie jou noodhulp- en BGV- (beroepsgesondheid en veiligheid) beampte in jou kantoor of afdeling is. Bogenoemde personeel se besonderhede kan gewoonlik in jou naaste gemeenskaplike area en/of kombuis gevind word.
  3. Hou altyd belangrike noodnommers, soos vir die polisie, ambulans of brandweer, byderhand vir enige noodgevalle by die werk.
  4. Rapporteer onmiddellik alle insidente aan ʼn noodhulpbeampte, selfs ʼn eenvoudige papiersny kan ernstige mediese risiko’s inhou.
  5. Rapporteer enige insidente onmiddellik aan jou BGV-beampte of ʼn opersasionele beampte om te verhoed dat ʼn soortgelyke of selfs meer ernstige insident plaasvind.
  6. Bied ʼn helpende hand aan nuwe kollegas en verseker dat hul gemaklik is met algemene veiligheidsriglyne en -protokolle.
  7. Hou jou werkspasie, kantoor en lessenaar skoon en netjies en verseker dat daar ʼn onbelemmerde uitgang uit jou kantoor is indien nood dit sou vereis.
  8. Verseker dat jou kantoor of onmiddellike omgewing goed geventileer is en dat genoegsame vars lug beskikbaar is. Dit het ʼn groot impak op jou algehele gesondheid.
  9. Beperk skermtyd en vat gereelde kort breke wanneer skermtyd genoodsaak word. Dit is belangrik om jou gedagtes vars te hou en ook vir algehele gesondheid.
  10. Goeie ergonomiese beginsels kan gevolg word. Deur jou rekenaarskerm se hoogte te verstel en hulpbronne soos ʼn ergonomiese verstelbare staande lessenaar en stoel aan te skaf kan jou help om jou liggaam in ʼn neutrale posisie te hou.

 

Deur hierdie basiese beginsels toe te pas sal jy jou werksomgewing verder help beveilig en bou jy saam aan ʼn gesonder en veilige toekoms vir almal.

Henry van Zyl is ʼn operasionele beampte by Akademia