Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia huisves boekversameling van baanbrekertaalhistorikus

Gepubliseer op: 26 Junie 2023

Akademia droom daarvan om ʼn wêreldklas- Afrikaanse universiteit te bou en een van die belangrike boustene hiervan is die opbou en uitbreiding van die instelling se mediasentrum. Die sentrum, wat reeds die versamelde werke van onder meer Joost van den Vondel, N. P. van Wyk Louw en dr. Natie van Vuuren huisves, het onlangs ʼn verdere hupstoot gekry ná ʼn uitsonderlike skenking deur prof. Edith Raidt.

Hierdie skenking, ter waarde van R1,5 miljoen, bestaan uit ongeveer 800 publikasies.

Raidt (91) word wêreldwyd erken as een van die mees gerekende Afrikaanse taalkundiges nóg. Deur haar magdom uitsette (talle boeke, meer as 80 artikels, as studieleier van voor- en nagraadse studente, en kongresoptredes) het sy haar gevestig as ʼn leier in haar veld en iemand wat ware baanbrekerswerk verrig het. Dit is veral die gehalte van haar navorsing en haar standaardpublikasies oor die geskiedenis van Afrikaans wat aan haar hierdie erkenning besorg het.

Lianda Coetzer, Akademia se bibliotekaris, beskryf dié skenking as ʼn “ongelooflike bruidskat”. Sy verduidelik dat met die toevoeging van die kwalifikasie BA (Taalstudie) wat vir Akademia in die vooruitsig gestel word, hierdie uitgebreide versameling van onskatbare belang is. Die versameling sluit standaardbronne oor die Afrikaanse taalkunde, en in die besonder van die ouer bronne waarin die taal se ontwikkeling weerspieël word, in.

Die skenking spreek nie net van groot finansiële waarde nie, maar ook van ʼn diepe simboliese betekenis. “Dit is vir Akademia ʼn riem onder die hart dat iemand van Raidt se statuur haar versameling aan ons toevertrou. Dit dui op haar geloof in wat die instelling namens Afrikaans kan vermag,” het Coetzer verder gesê.

Op haar beurt meen Raidt dat Akademia, as ʼn trotse Afrikaanse instelling, ʼn passie het om toe te sien dat die voortbestaan van die taal beskerm word. Sy voeg by dat die instelling ook, soos syself, die droom koester om die generasies van vandag én môre trots eienaarskap van die taal te laat neem.

Die versameling kan by die mediasentrum op die Centurion-kampus deur Akademia-studente en -personeel bestudeer word.

Meer oor prof. Raidt

Prof. Wannie Carstens, afgetrede Afrikaanse taalkundige en vriend van Akademia, som Raidt se taalloopbaan soos volg op:

As ʼn toegewyde akademikus het die kwaliteit van Raidt se werk beduidend bygedra tot die ontginning van nuwe kennis oor die komplekse verlede van Afrikaans, in die besonder oor die ontwikkeling van die struktuur van die taal. Sy het egter daardeur nie net gehelp om die verlede oop te sluit nie, maar in hierdie proses ook ʼn korps lojale oudstudente (onder wie proff. Ernst Kotzé, Jac Conradie, en Roy Pheiffer) opgebou wat haar werk oor jare voortgesit het.

Danksy haar, weet ons vandag soveel meer as vantevore van Afrikaans en daarvoor moet ons haar oneindig dankbaar wees. Hoewel Raidt in 1954 as Duitssprekende na Suid-Afrika gekom het om ʼn onderwyseres te word, het sy haar in die 40 jaar daarna eerder as ʼn besondere kundige oor Afrikaans gevestig. Dit was Duits se verlies en Afrikaans se wins.

Haar aanvanklike akademiese fokus was op die Afrikaanse letterkunde, maar onder die leiding van die gerekende taalhistorikus prof. J. du P. Scholtz het sy een van Afrikaans se grootste kenners oor die historiese Afrikaanse taalkunde geword. Dit word weerspieël in haar talle gesaghebbende boeke oor die herkoms en ontwikkeling van Afrikaans. Deur haar besondere navorsing oor die rol van vrouetaal in die ontwikkeling van Afrikaans het sy voorts daartoe bygedra dat hierdie belangrike aspek ook die nodige wetenskaplike aandag gekry het.

Raidt se boek Afrikaans en sy Europese verlede was vir geslagte lank studente se handboek oor die herkoms van Afrikaans. Net so het haar boek Einführung in Geschichte und Struktur des Afrikaans as bron gedien wat talle buitelandse ondersoekers aangemoedig het om verdere navorsing oor die struktuur en geskiedenis van die taal te onderneem.

In die rede tydens die toeken van ʼn eredoktorsgraad deur die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMU) in 2000 is Raidt heel geregverdig die lof toegeswaai as “een van daardie seldsame geleerdes wat eiehandig ’n hele tradisie van navorsing geïnspireer het”.

Gedurende haar loopbaan het sy verskeie akademiese poste gevul aan onder meer die UK en die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Raidt het voorts haar rol as akademikus uitgeleef, onder meer as redakteur (vir 25 jaar) van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Tydskrif vir Geesteswetenskappe, in talle redaksierade, deur lidmaatskap van verskeie akademiese organisasies, en deur haar betrokkenheid by universiteitsbestuur. Sy het ook wye erkenning, nasionaal en internasionaal, vir haar werk geniet en was die ontvanger van drie eredoktorsgrade.

*Danksy onbaatsugtige skenkings van hofverslae en boeke, soos dié van prof. Raidt, kan Akademia sy mediasentrum met waardevolle versamelings vul. Lees hier meer oor hoe jy betrokke kan raak.

Prof. Edith Raidt (91) word wêreldwyd erken as een van die mees gerekende Afrikaanse taalkundiges nóg.
Lianda Coetzer, Akademia se bibliotekaris, tussen die meer as 800 publikasies wat deel vorm van prof. Raidt se versameling.