Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die sielkundige impak van beurtkrag op skoolleerders

Gepubliseer op: 7 Julie 2023

Geskryf deur dr. Nic de Jager, dosent in Opvoedkunde by Akademia.

Daar is nog nie naastenby genoeg akademiese navorsing gedoen oor die sielkundige newe-effekte wat beurtkrag op Suid-Afrikaanse laer- en hoërskoolleerders uitoefen nie. SADAG (The South African Depression and Anxiety Group) het onlangs ʼn studie gedoen wat wel aandag spits op die verband tussen beurtkrag en toenemende gevalle van depressie, onderprestasie en selfs gedagtes van selfdood onder ons jongmense. Vroeër het navorsers soos Matsheta en Sefoka en MCCain ook ʼn beroep op onderwysers gedoen om die jeug emosioneel by te staan in hierdie tyd van kragarmoede.

Dan is daar die warboel van statistiese opnames, staatsberigte en ander amptelike dokumente wat poog om die verhoogde frekwensie van kragonderbrekings te interpreteer, en te kwantifiseer (Stats SA; Presidensie RSA; Wes-Kaapse Regering). Laasgenoemde rig egter nie veel uit nie, as ons aanvaar dat dit nou die tyd is om te luister na die pleidooi van miljoene kinders wat hul huiswerk, projekte, eksamenvoorbereiding en so meer in die donker of by kerslig moet doen.

ʼn Artikel deur BusinessTech (2023) toon dat 523 maatskappye sedert Januarie 2023 hul deure moes toemaak vanweë stygende dieselpryse om hul kragopwekkers aan die gang te hou. Beurtkrag word ook aan toenemende gedragsafwykings en misdaad gekoppel, met ʼn piek in padwoede en huisinbrake oor die demografiese groepe heen, volgens ʼn artikel op Business Live.

Die vraag wat nóú onstaan is: As beurtkrag dit aan ons as volwassenes kan doen, wat kan dit aan die kind in sy vormingsjare doen? Alhoewel die 2022-matriekslaagsyfer met 3,7% verbeter het teenoor die vorige jaar, getuig onderwysers ál meer van chroniese afwesigheid onder hul leerders, dissiplineprobleme, laatkommery, onvoltooide huiswerk, druiping van toetse en eksamens, beplande leerervarings wat glad nie kan vergestalt nie, en oor die algemeen ʼn gevoel van hopeloosheid in die klaskamer.

Sulke verskynsels kan grotendeels aan die huidige “kragkrisis” toegeskryf word, volgens ʼn onlangse studie. Nog steeds is daar ʼn verwagting dat dit die kind se verantwoordelikheid is om kop bo water te hou wanneer daar nie die fasiliteit ‒ dit wil sê elektrisiteit ‒ is om te lees, skryf, tik of teken nie. Bygesê, dit is dikwels in die laatmiddagure wanneer die meeste van hierdie kurrikulêre take uitgevoer moet word, en met sonsondergang raak dit al moeiliker.

Sonpanele, dieselkragopwekkers, die sogenaamde wisselrigters (inverters), en meer “groen” of “ekovriendelike” bronne van elektrisiteit is gonswoorde wat as’t ware deel van ons tydsgees geword het. Vir die bevoorregtes kan dit wel verligting bied, maar hierdie innovasies bly onbekostigbaar vir die meerderheid van die plaaslike bevolking, volgens ʼn artikel in die Daily Maverick.

Die blote verskynsel van beurtkrag, soos dit tans daar uitsien, is ʼn ingewikkelde kwessie met talle sosio-ekonomiese en politieke inslae, en een wat nie oornag opgelos gaan word nie. Daar bestaan nie ʼn wonderkuur vir hierdie uitdaging wat ons tans in die gesig staar nie. Die onus rus egter by ons ‒ die ouers, die onderwysers, die vormers ‒ om alternatiewe tegnologieë so sinvol en volhoubaar as moontlik in te span, en die nodige emosionele steun te bied sodat hulle nie moed verloor in hierdie tye van donkerte nie. Of dit nou ʼn kers, selfoonflits of herlaaibare lamp is, sal daar altyd ʼn lig aan die einde van die tonnel wees, en dit is ʼn hoopgedagte wat ons by elke kind moet koester.

Dr. Nic de Jager is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia.