Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Wysigings aan artikel 18A-kwitansies: Só beïnvloed dit belastingaftrekbaarheid

Gepubliseer op: 10 Julie 2023

Geskryf deur Nicolene Steenkamp, dosent in Rekeningkundige Wetenskappe by Akademia.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het nuwe vereistes aangekondig ten opsigte van artikel 18A-sertifikate. Dié nuwe vereistes is vanaf 1 Maart 2023 van krag. Dit is belangrik om hiervan kennis te neem, want indien daar nie aan die nuwe (sowel as bestaande) vereistes voldoen word nie, kan SAID ʼn skenking as ʼn belastingaftrekking verbied.

Die wysigings aan die vereistes wat op geldige artikel 18A-belastingkwitansies moet verskyn, is in die Staatskoerant (no. 48104) op 24 Februarie 2023 gepubliseer, en is van toepassing op alle skenkings wat op en ná 1 Maart 2023 gemaak is.

Belastingbetalers wat ʼn skenking maak aan ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie (OWO) ontvang ʼn belastingvoordeel en as sodanig kan ʼn gedeelte van die skenkingswaarde afgetrek word van die skenker se belasbare inkomste. Daar is wel ʼn beperking aan dié aftrekkingswaarde. Die toelaatbare aftrekking word beperk tot tien persent van die belastingbetaler se belasbare inkomste vóór die skenkingsaftrekking in ag geneem is.

Hierdie berekening lyk in die praktyk soos volg: Johan skenk R26 000 aan ʼn OWO. Sy belasbare inkomste vóór die skenkingsaftrekking wat in ag geneem word, is R200 000. Die skenking kan gevolglik afgetrek word van sy belasbare inkomste, maar is beperk tot R20 000 (R200 000 x 10%). Johan kan daarom sy belasting uitwerk op R180 000 (R200 000 – R20 000). Die R6 000 wat nie toegelaat word as ʼn aftrekking nie kan in die volgende belastingjaar afgetrek word en sodoende verloor Johan nie hierdie voordeel nie.

Volgens die Inkomstebelastingwet moet ʼn OWO ʼn geldige artikel 18A-belastingkwitansie aan ʼn skenker uitreik. Hierdie belastingkwitansie dien as stawende dokumentasie wanneer die skenker sy/haar belastingopgawe indien.

Tot en met 28 Februarie 2023 was die volgende vereistes gestel vir ʼn geldige artikel 18A-belastingkwitansie:

  • Die naam, adres, kontakbesonderhede en verwysingsnommer van die OWO.
  • Die naam en adres van die skenker.
  • Die datum waarop die skenking ontvang is.
  • Die bedrag of aard van die skenking indien dit nie in kontant was nie.
  • Bevestiging dat die skenking uitsluitlik vir die doel van die OWO aangewend sal word.

Bykomend tot dié vereistes, kragtens die gewysigde artikel 18A(2)(a) van die Inkomstebelastingwet, moet die volgende inligting nou ook op ʼn belastingkwitansie verskyn:

  • Die skenker se aard (persoon, maatskappy, trust, ens.).
  • Die skenker se identifikasietipe asook die land van uitreiking.
  • Identifikasie- of registrasienommer van die skenker.
  • Inkomstebelastingverwysingsnommer van die skenker (indien beskikbaar).
  • Kontaknommer van die skenker.
  • Elektroniese posadres van die skenker.
  • ʼn Unieke kwitansienommer.
  • Die handelsnaam van die skenker (indien dit verskil van die geregistreerde naam).

Dit is belangrik dat OWO’s én skenkers hulself deeglik van hierdie wysigings moet vergewis. Akademia reik graag ʼn artikel 18A-sertifkaat uit wat aan die nuwe vereistes voldoen wanneer daar ʼn skenking aan die Akademia-skenkingsfonds gemaak word. Vir meer inligting, klik hier.

Nicolene Steenkamp maan OWO’s en skenkers om kennis te neem van die nuwe bykomende vereistes vir geldige artikel 18A-belastingkwitansies.