Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Sakeplankompetisie-wenner van 2022 floreer as jong entrepreneur

Gepubliseer op: 10 Julie 2023

Carami van der Vyver, het in 2022 met die eerste prys weg gestap by Akademia se BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie. Haar besigheidsplan was geskoei op haar besigheid, Hearts of Courage, wat sportsielkundesessies en gesondheidsprogramme aanbied en oor ʼn eie klerereeks vir perderuiters beskik.

Nou, tien maande ná die kompetisie, het haar besigheid eksponensieel gegroei en het die besigheid selfs ʼn eie webtuiste wat deur die Sakeplankompetisie-wenners van 2021, Customsites, gebou is. Op die webtuiste kan kliënte meer inligting vind oor al die verskillende funksies van die besigheid, asook produkte aankoop. “Ons het ongelooflik gegroei sedert die finaal van die sakeplankompetisie en ons produkte en dienste het sedertdien aansienlik uitgebrei. Ons het selfs onlangs ʼn webinaar aangebied oor belangrike vaardighede in sportsielkunde.”

Van der Vyver noem dat die sakeplankompetisie vir jong entrepreneurs die geleentheid bied om hul droombesigheid ʼn realiteit te maak. “Jong entrepreneurs moet honger wees vir kennis en vaardighede om van hul besigheid ʼn sukses te maak en dit is presies wat die sakeplankompetisie my gebied het – ʼn geleentheid om te leer hoe ʼn sakeplan moet lyk en ʼn kans om by ware kenners in die sakewêreld te leer,” noem sy. “Die sakeplankompetisie leer jou so baie van jouself en gee vir jou meer selfvertroue in jouself en in jou besigheid.”

Die sakeplankompetisie het Van der Vyver gehelp om op elke aspek van haar besigheid te fokus en sodoende sukses te verseker. “Die besigheidsafrigters en beoordelaars het waardevolle insette gegee wat ek in my besigheid kon implementeer. Hulle het my ook geleer dat mens nie net produkte of dienste verkoop nie, maar jou hele handelsmerk en die storie daar agter.”

Monique Visser, programkoördineerder van die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie by Akademia, noem dat sy dankbaar is om die groei van die afgelope paar jaar se sakeplankompetisie-wenners te kan dophou. “Ons kan deur die wenners se suksesvolle besighede sien dat die sakeplankompetisie die ideale platform is om jong entrepreneurs met passie te help kweek.”

As ʼn derdejaarstudent in BCom (Ondernemingsbestuur) vind Van der Vyver dit baie waardevol om klas te kan bywoon en dit direk op haar besigheid te kan toepas. “Daar word gereeld nuwe besigheidstrategieë en -beginsels met ons in die klas gedeel wat ek in my besigheid kan toepas – vanaf bemarking tot finansies,” sê sy. Akademia se nauurse afstandsmodel, vanweë die gerieflike rooster, bied haar ook die geleentheid om steeds genoeg tyd aan haar besigheid, studie en persoonlike lewe te bestee.

Van der Vyver het die prysgeld wat sy in 2022 gewen het in haar besigheid teruggeploeg deur bates, soos ʼn skootrekenaar en kamera, vir haar besigheid aan te koop. “Ek het geweet dat die prysgeld beslis waarde moet bydra tot Hearts of Courage. Die skootrekenaar en kamera is ideaal om ʼn aanlyn besigheid te bedryf, asook te bemark,” noem sy. Daar is ook van die prysgeld gebruik om Van der Vyver se entrepreneurskapsvaardighede verder te slyp deur haar in te skryf vir verskeie kursusse oor besigheid en aanlyn verkope.

Alhoewel beurtkrag ʼn groot struikelblok vir verskeie entrepreneurs en klein besighede in Suid-Afrika is, laat Van der Vyver haar nie daardeur onderkry nie. Hearts of Courage moes ʼn manier vind om steeds in hul kliënt se behoeftes te voorsien wanneer beurtkrag regstreekse sessies onderbreek of verhoed het. “Ons het besluit om kursusse saam te stel met videomateriaal sodat ons kliënte steeds waardevolle inligting kan ontvang en kyk wanneer hulle nie deur beurtkrag geaffekteer word nie.”

Sy moedig BCom (Ondernemingsbestuur)-studente by Akademia aan om in te skryf vir die sakeplankompetisie wat eersdaags afskop. “Die sakeplankompetisie is ook nie net voordelig vir die topdriedeelnemers nie – dit is waardevol vir elke deelnemer om jou sakeplan uit te werk en jou plan van aksie te formuleer. Om net deel te neem sal jou besigheid ʼn groot hupstoot gee.”

Haar raad aan toekomstige deelnemers van die sakeplankompetisie is om nie in jou besigheidsidee, of jouself, te twyfel nie al is dit ʼn eerste in sy soort. “Mens moet werklik passievol wees oor jou sakeplan en besigheid om ʼn sukses daarvan te maak. Gee jou beste en wees voorbereid in elke aspek van jou sakeplan.”

Van der Vyver droom daarvan om binne vyf jaar een van die topplatforms vir perderuiters te wees vir gesondheidprogramme en sportsielkundekursusse. Om hierdie droom te realiseer is sy reeds besig om haar netwerke en klerereeks uit te bou. “Ek sien uit om meer kliënte te bereik, selfs vanuit die buiteland. Ek hoop om ook eersdaags nuwe afrigters aan te stel en my besigheid aanlyn sowel as in persoon uit te brei.”

Van der Vyver beklemtoon dat sy opreg dankbaar is vir die geleentheid om as wenner van die sakeplankompetisie ʼn bydrae tot haar gemeenskap kan maak. “Die sakeplankompetisie het vir my en my besigheid só baie deure oopgemaak. Dié kompetisie is lewensveranderend,” sluit sy af.

Indien jy meer wil uitvind oor Hearts of Courage, kan jy hul webblad of aanlyn winkel besoek of selfs ʼn e-pos stuur na business@heartsofcourage.co.za.

Hearts of Courage se sakeplan het aan Carami van der Vyver die eerste plek besorg by Akademia se sakeplankompetisie van 2022.