Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-alumnus jaag passie vir navorsing na

Gepubliseer op: 6 Julie 2023

Akademia-alumnus, Karel Engelbrecht, het in 2022 die Nagraadse Diploma in Belasting aangepak om sy kennis en begrip te verskerp ten einde die kliënte by sy rekeningkundigepraktyk beter te adviseur. Min het hy geweet dat dié besluit hom op ʼn nuwe en opwindende studieavontuur as navorser sou lei, en dat hy sy eerste navorsingsartikel by ʼn internasionale konferensie sou dien.

Engelbrecht se artikel, “Solar photovoltaic panels tax incentive: Is the tax incentive the right choice?” is opgeneem in die 2023-konferensieverrigtinge van die International Conference of Accounting and Business (iCab) wat aan die einde van Junie vanjaar in Suid-Afrika aangebied is. Dié konferensie is in samewerking deur die Alcorn State Universiteit, die Salem State Universiteit (Bertlon Besigheidskool) en die Universiteit van Johannesburg (UJ) aangebied.

Die doel van die konferensie was om navorsers vanuit verskillende rekeningkunde- en ondernemingsbestuursvelde bymekaar te bring om gedagtes uit te ruil, veral met betrekking tot die vierde industriële rewolusie. “Die aanvaarding en insluiting van my artikel in die konferensieverrigtinge was vir my ʼn baie groot oomblik. Die proses was ook baie opwindend, vanaf die oomblik dat ek in kennis gestel is dat die abstrak aanvaar is, die skryf van die manuskrip én uiteindelik die insluiting daarvan in die konferensiebundel,” sê Engelbrecht.

As Engelbrecht terugkyk op sy akademiese reis, is hy vol lof vir die tyd wat hy by Akademia spandeer het. Hy vertel dat die nauurse afstandsmodel hom die vryheid gebied het om sy studies vanuit die gemak van sy eie studeerkamer te volg, terwyl hy ook onverpoosd tyd met sy gesin kon spandeer én sy buitemuurse aktiwiteite kon volhou. Engelbrecht is ʼn kranige perderuiter en die aanpasbare nauurse studieprogram het hom toegelaat om dié sportsoort steeds voluit te beoefen.

Hy vertel dat die navorsingsmodule in die Nagraadse Diploma in Belasting sy eerste kennismaking met navorsing was. Hy onthou nog goed hoe hy vir Tho-Marie Stolz, een van Akademia se akademiese leerondersteuners, gesê het dat rekenmeesters nie navorsers is nie. Die res is soos hulle sê, geskiedenis. Die navorsingsgogga het behoorlik gebyt, en volgens Engelbrecht het hy instinktief gewéét dat hy nog dieper in dié dissipline wil delf.

“Akademia het my toegerus om my akademiese vlerke te sprei en in die proses het ek, as individu en in my professionele hoedanigheid, ongelooflik baie gegroei. Danksy die kundige en toegewyde dosente én die ondersteunende studieomgewing kon ek met selfvertroue my akademiese passie ontdek en ek volg nou ʼn meestersgraadkwalifikasie na – iets wat ek nooit andersins sou oorweeg het nie,” sê Engelbrecht en voeg by dat hy nou boonop drome van ʼn doktorsgraad koester.

Dit is vir Akademia ʼn riem onder die hart om te sien hoe sy oudstudente hul drome najaag en méér nog hoe hulle die etos van lewenslange leer omarm. Ons hou Engelbrecht se blink toekoms met afwagting dop.

Karel Engelbrecht is passievol oor navorsing en droom daarvan om binne die volgende paar jaar ʼn doktorsgraad te behaal.