Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Só oorbrug Akademia die vaardigheidsgaping

Gepubliseer op: 17 Julie 2023

Op Wêreldjeugvaardigheidsdag, wat op 15 Julie gevier word, val die fokus opnuut op die belangrikheid van vaardigheidsontwikkeling vir die jeug. Gedagtig aan dié belangrike onderwerp word die vraag geopper: Wat doen Akademia om sy studente vir die uitdagende, en snelveranderende arbeidsmag voor te berei? Méér nog, wat doen die instelling om die sogenaamde vaardigheidsgaping vir sy studente te oorbrug?

Dr. Mandie Dubery, ʼn maatskaplike werker verbonde aan Akademia se Studentesake-afdeling, meen die tyd is lank reeds verby dat boekekennis alleen ʼn student se suksesvolle toetrede tot die arbeidsmark sal verseker. “Dit is belangrik dat ons studente volrond ontwikkel word en daarom nie net akademiese en vakspesifieke inhoud bemeester nie, maar ook oor die nodige sagte vaardighede beskik om hom-/haarself van die vele kandidate te onderskei wat tot die werksmag toetree,” verduidelik Dubery.

Volgens Dubery speel die ontwikkeling van ʼn student se sagte vaardighede, in samewerking met sy/haar akademiese en tegniese vaardighede, ʼn belangrike rol as dit kom by die suksesvolle oorbrugging van die vaardigheidsgaping. Hierdie gaping is tans nie net in Suid-Afrika ʼn uitdaging vir werkgewers nie, maar verskaf wêreldwyd vir keuringskomitees hoofbrekens. Dié vaardigheidsgaping verwys na die verskil tussen die vaardighede en bevoegdhede wat deur werkgewers vereis word en die vaardighede waaroor werksoekers beskik.

Sagte vaardighede sluit onder meer in:

  • Goeie kommunikasievermoëns en luistervaardighede.
  • Die vermoë om doeltreffend en effektief in spanverband te kan werk.
  • ʼn Positiewe en gesonde benadering tot konflik en kritiek.
  • Die sensitiwiteit om verskillende perspektiewe met empatie te kan benader.
  • Die bekwaamheid om ander te motiveer deur leierskap, motivering, diensbaarheid en inspirasie.
  • Die vermoë om kritiese denke te ontwikkel ten einde goed gefundeerde argumente en gevolgtrekkings te maak.
  • Die identifisering van uitdagings en die gepaardgaande vermoë om alternatiewe oplossings te oorweeg.
  • Uitvoerbare besluitneming.
  • Veerkragtigheid te midde van veranderinge en ontberings.
  • Goeie selfkennis om swak- en sterkpunte te kan identifiseer om sodoende groei te bewerkstellig.
  • Die toepassing van effektiewe tydsbestuur ten opsigte van produktiwiteit en selfsorg.

Dubery verduidelik dat Akademia dit ten doel het om volronde studente die ontwikkel. Hierdie ontwikkeling vind plaas op ʼn akademiese én sosiale vlak. “Dit is vir ons belangrik dat ons studente oor die nodige vaardighede beskik om met selfvertroue, ʼn diepe sensitiwiteit én kennis hul toetrede tot die werksmag te maak,” sê Dubery. Sy voeg by dat die Kuns van Studentwees-program studente help om dié groei te bewerkstellig. “Deur dié unieke program, wat eie aan Akademia is, word elke student die geleentheid gegun om sy/haar potensiaal te bereik, en terselfdertyd te baat by die uitbreiding van hul selfkennis en -insig,” verduidelik sy.

Die gebeure wat buite die klaskamer plaasvind vorm voorts ʼn integrale deel van die opleidings- en opvoedingservaring van ʼn Akademia-student. Dubery vertel dat die instelling daartoe verbind is om studente op te voed wat nie net in verskillende deelaspekte van die werklikheid opgelei is nie, maar wat ook deur ʼn begrip van die geheel (of vir die onderlinge samehang tussen die dele) gekenmerk word. Volgens die klassieke universiteite beskik sodanige studente nie net oor gespesialiseerde kennis nie, maar betree hulle so ook die lewenslange weg van wysheid.

Die buitemuurse studentelewe aan Akademia word dus gerig deur die vormingsideaal wat die instelling vir sy studente nastreef. Die studentelewe aan Akademia ondersteun deugde soos karaktervorming, integriteit, wysheid, vriendskap en die sin vir gemeenskap, wat weer die instelling se verbintenis tot opvoeding en vorming ondersteun en versterk.

Dr. Mandie Dubery meen dat die ontwikkeling van ʼn student se sagte vaardighede, in samewerking met sy/haar akademiese en tegniese vaardighede ʼn groot rol speel in die oorbrugging van die vaardigheidsgaping.