Search
Close this search box.

Akademia-kundige: Só raak internasionale bankkrisis Suid-Afrika

Geskryf deur dr. Sandra Adendorff, dosent in Ekonomie en Internasionale Handel by Akademia.

Gepubliseer op: 29 Junie 2023

Die ineenstorting van ʼn aantal banke in Amerika en Europa vroeër vanjaar het méér tot gevolg gehad as bloot die grootste bankkrisis sedert 2008. Hierdie ineenstorting, wat grotendeels geïnisieer is deur die mislukking van die Silicon Valley Bank (SVB), het voorts die kwesbaarheid van finansiële instellings, veral binne ʼn omgewing van stygende rentekoerse, aan die lig gebring.

Dit laat die egter vraag onstaan: Hoe veilig is Suid-Afrikaners se geld in die bank? Waarom vind sulke krisisse plaas en wat kan gedoen word om dit te keer?

Suid-Afrika het ʼn gesofistikeerde finansiële stelsel – om die waarheid te sê, een van die bestes ter wêreld. Die Reserwebank plaas finansiële instellings onder streng toesighouding, en daar bestaan ʼn menigte regulasies waaraan banke moet voldoen. Die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor (FSR) is op 21 Augustus 2017 onderteken, en word as ʼn belangrike mylpaal op die reis na ‘n veiliger en regverdiger finansiële stelsel tot die diens van alle landsburgers beskou.

Wat veroorsaak ʼn bankkrisis?

Bankmislukkings kan aan verskeie oorsake toegeskryf word. Kortliks kom dit daarop neer dat die risiko nie korrek voorsien is nie, en die bank nie voldoende kapitaal het om die uitvloei van deposito’s en beleggings te kan verskans nie. Ondoeltreffende bestuur speel soms ook ʼn rol, asook ʼn aantal eksterne faktore.

Suid-Afrikaanse banke het die vorige bankkrisis van 2007-08 baie goed weerstaan weens die feit dat ons banke beter gereguleer was as hul Amerikaanse eweknieë, wat nie al die internasionale regulering (soos voorgeskryf deur die Bank for International Settlements (BIS) Basel III) toegepas het nie.

Plaaslik sluit toepaslike regulering die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse depositoversekeringskema (Korporasie vir Depositoversekering (CoDI)) op 28 Januarie 2022 in. Die rol van die depositoversekeringskema (DIS) is om te verseker dat ʼn bankmislukking nie die kwesbaarste kliënte beïnvloed nie. Persoonlike deposito’s van tot R100 000 word dus deur dié entiteit beskerm. Dit is egter belangrik om die goue reël te onthou om nie al jou eiers in een mandjie te plaas nie.

Plaaslike banke verkeer onder druk

Indien ons die finansiële media volg, raak ons egter bekommerd. Omstandighede is baie stram, wat beteken dat banke onder geweldige druk verkeer. Probleme wat tot hierdie druk aanleiding gee, sluit in:

  • Wisselvallige kragvoorsiening wat ekonomiese groei tot twee persentasiepunte verlaag.
  • Verswakte logistiek in die pad- en spoorvervoernetwerke wat nie doeltreffend aangespreek word nie.
  • Lae ekonomiese groei en hoë vlakke van werkloosheid wat die moontlikheid van sosiale onrus vergroot.
  • Internasionale diplomatieke spanning.
  • Verswakte diplomatieke betrekkinge, insluitend die moontlikheid van sekondêre sanksies wat Suid-Afrika duur te staan sal kom, veral as ons van die internasionale betaalstelsel SWIFT afgesny word. Die grootste multilaterale handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VSA, naamlik AGOA, word ook bedreig, wat die land ekonomies kan knak.
  • Suid-Afrika se betrokkenheid by geldwassery, wat tot gevolg gehad het dat het die Internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF), wat oor geldwassery en finansiering van terrorisme toesig hou, Suid-Afrika in Februarie 2023 op die internasionale Gryslys geplaas het.
  • Die toenemende staatskuld wat ʼn bron van bekommernis bly en die finansiering daarvan wat baie problematies is, aangesien buitelanders nie meer belangstel om ons staatseffekte te koop nie. Plaaslike beleggers is ook nie baie gretig na die duurder staatseffekte nie. Die Reserwebank en ander finansiële instellings word deur wetgewing beperk om nie te veel staatskuld op te neem nie, wat ʼn aansienlike probleem kan word. Die kapitaaluitvloei en verminderde diepte in finansiële markte en likwiditeit is kommerwekkend.
  • Hoë vlakke van rentekoerse wat weens verhoogde inflasiedruk genoodsaak word en die skuldbetalings van huishoudings problematies maak. Wanbetalings van lenings in die banksektor verteenwoordig voorts ʼn daadwerklike risiko.
 

Die probleem met Suid-Afrikaanse banke is dus oorwegend plaaslik, met omstandighede wat toenemend druk op die ekonomie en dus ook op ons bankinstellings plaas. Banke se kliënte sukkel om kop bo water te hou en skuldvlakke het astronomies toegeneem. Kliënte wend hul gevolglik toenemend tot krediet ten einde in die omgewing van hoër lewenskoste te oorleef.

Suid-Afrikaners se totale leningsaldo’s beloop ʼn verbysterende R2,3 triljoen volgens die navorsingsresultate van Debt Rescue. Daar is ook groterwordende druk op die bankstelsel vanweë kliente wat sukkel om lenings met toenemende rentekoste terug te betaal. Banke maak voorsiening vir slegte skuld, maar hierdie omgewing word nou deur voortslepende uitdagings gekenmerk wat dit problematies maak veral vir banke wat grotendeels verbruikerskrediet toestaan sonder enige sekuriteit.

Wat kan ons doen?

Dit bly elke Suid-Afrikaner se eie verantwoordelikheid om sy/haar finansies effektief en verantwoordelik te bestuur. Monitor jou beleggings self en moet nie te veel op ander vertrou nie. Wees ook bedag op skemas wat wonderlike opbrengste belowe, want ongelukkig is piramideskemas en bedrog aan die orde van die dag.

Die Reserwebank monitor die finansiële stabiliteit van finansiële instellings en doen gereeld strestoetsing wat hul help om probleme proaktief aan te spreek.

Laastens hoop en bid ons dat die negatiewe geopolitieke probleme spoedig tot ʼn einde sal kom en dat die toetrede van die privaatsektor ons in staat sal stel om die Suid-Afrikaanse ekonomie vir die toekomstige geslag te bou. Terwyl ons treur oor die toestande wat versleg, moet ons steeds positief probeer bly oor die toekoms.

Indien jy inflasie en rentekoerse graag beter wil verstaan, klik gerus hier vir meer oor die Ekonomiese beleid-kortkursus van Akademia et al. Hierdie kortkursus bied aan individue en voornemende sakelui die geleentheid om die ekonomiese omgewing wat ʼn impak op sakebedrywighede het, te verken.

Dr. Sandra Adendorff is van mening dat Suid-Afrikaners hul finansiële sake met omsigtigheid en verantwoordbaarheid moet bestuur.