Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die belastingseisoen is amper hier: Gaan só te werk

Geskryf deur Nicolene Steenkamp, ʼn dosent in Rekeningkundige Wetenskappe by Akademia.

Gepubliseer op: 29 Junie 2023

Die 18de-eeuse Amerikaanse denker Benjamin Franklin het per geleentheid gesê dat daar slegs twee dinge in die wêreld is waarvan ons seker kan wees, naamlik die dood en belasting. Meer as 300 jaar ná sy dood bly albei steeds ewe onvermydelik en op 7 Julie vanjaar kom klop Jan Taks weer by Suid-Afrikaners aan.

Kennis is mag, en gegewe dat nie almal van ons belastingspesialiste is nie, kan genoegsame en verstaanbare inligting die spreekwoordelike angel uit jou belastingervaring haal. Hiermee ʼn kort samevatting van inligting soos dit van toepassing is op individue wat slegs ʼn salaris verdien en nie ʼn addisionele stroom van inkomste geniet nie.

Die Suid-Afrikaanse belastingjaar strek van 1 Maart tot 28/29 Februarie in die daaropvolgende jaar en alle toepaslike inkomste en uitgawes tydens hierdie tydperk moet vir die betrokke belastingjaar aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verklaar word. As daar dus van die 2023-belastingaanslag gepraat word, sal die tydperk wat vir belastingbetalers ter sprake is, van 1 Maart 2022 tot 28 Februarie 2023 duur.

Indien ʼn individu nie ʼn voorlopige belastingbetaler is nie, dit wil sê slegs ʼn salaris/vergoeding verdien, strek die belastingseisoen van 7 Julie 2023 tot 23 Oktober 2023. Vir voorlopige belastingbetalers, dit wil sê diegene wat ʼn ander inkomste benewens ʼn salaris of ʼn toelaag verdien, strek die seisoen van 7 Julie 2023 tot 24 Januarie 2024.

As dit by die indiening van belastingopgawes kom, kan die volgende wenke nuttig wees:

  • Belangrike dokumentasie

Die volgende dokumentasie is van belang, en belastingbetalers moet vroegtydig sorg dat hulle dié dokumente van die verantwoordbare partye ontvang:

– IRP5/IT3(a): Hierdie dokument ontvang jy van jou werkgewer. Die dokument weerspieël jou totale inkomste, soos van jou werkgewer ontvang, asook die hoeveelheid belasting wat jy reeds deur die jaar aan die SAID betaal het.

– Mediesefondssertifikaat: Indien jy aan ʼn mediesefondsskema behoort, die hooflid is en self die maandelikse bydraes aan die fonds betaal, sal jou mediesediensteverskaffer vir jou ʼn mediesefondssertifikaat stuur. Hierdie sertifikaat toon al die bydraes wat jy tot die fonds gelewer het.

– Uittreefondssertifikaat: Indien jy aan ʼn uittreefonds behoort en maandeliks ʼn bydrae tot dié fonds lewer, sal jy ʼn sertifikaat ontvang wat jou totale bydraes vir die jaar aandui.

– IT3(b): Indien jy by ʼn finansiëlediensteverskaffer ʼn belegging gemaak het en deur die loop van die jaar rente en dividende daarop ontvang het, sal hierdie dokument die totale rente en dividende aandui wat jy aan SAID moet verklaar.

– IT3(c): Indien jy by ʼn finansiëlediensteverskaffer ʼn belegging gemaak het en enige kapitaalwins gemaak of -verlies gely het, sal hierdie dokument die totale kapitaalwins of -verlies toon wat aan SAID verklaar moet word.

– Reistoelaag-logboek: Indien jy ʼn reistoelaag van jou werkgewer ontvang, moet jy ʼn logboek as stawende dokumentasie as deel van jou SAID-opgawe indien. Die doel van dié logboek is om die totale kilometers wat deur die loop van die jaar afgelê is, te verklaar. Om so ʼn logboek op te stel, is ʼn tydsame, maar noodsaaklike proses. Die SAID is baie streng oor die formaat van so ʼn logboek en het ʼn formaat saamgestel wat belastingbetalers moet gebruik. Klik hier om die voorgeskrewe formaat te besigtig.

  • Geoutomatiseerde aanslag

Individue wat ʼn geoutomatiseerde aanslag ontvang, sal per SMS of e-pos in kennis gestel word. Hierdie kennisgewing sal tussen 1 Julie 2023 en 7 Julie 2023 ontvang word. ʼn Geoutomatiseerde aanslag beteken dat die SAID reeds jou opgawe namens jou voltooi het met die inligting tot hul beskikking.

Indien jy ʼn kennisgewing in dié verband ontvang, is dit belangrik om seker te maak dat die inligting tot SAID se beskikking korrek is. Vergelyk die inligting op jou opgawe met die ooreenstemmende sertifikate (soos hierbo vermeld) wat jy ontvang het.

Indien jy tevrede is met die opgawe hoef jy niks verder te doen nie. Indien jy met die opgawe verskil, het jy tot en met 23 Oktober 2023 tyd om ʼn gewysigde opgawe in te dien. Let wel: Indien jy nie van ʼn geoutomatiseerde aanslag in kennis gestel word nie, dan moet jy voor 23 Oktober 2023 jou eie opgawe indien.

  • SAID-platforms

Individue kan deur eFiling of deur die SARS MobiApp toegang tot hul geoutomatiseerde aanslae verkry en kan hul opgawes ook via hierdie platforms indien.

  • Vra hier om hulp

Die SAID bied verskeie hulplynplatforms vir belastingbetalers. Gereelde vrae soos: “Hoe registreer ek op eFiling of op die SARS MobiApp?”, “Ek het my gebruikersnaam of wagwoord vergeet,” of “Moet ek ʼn opgawe voltooi?” word hier beantwoord. Besoek gerus die SAID se webblad vir meer inligting.

  • Geregistreerde belastingpraksityns

Indien ʼn individu nie net ʼn salaris trek nie, maar ook meer as een inkomstestroom het, raak ʼn belastingopgawe meer kompleks. Indien dit die geval is, klop gerus by ʼn professionele en geregistreerde belastingpraktisyn aan. Geregistreerde belastingpraktisyne is by magte om advies rakende belastingopgawes te gee en sal waardevolle hulp voorsien.

Nicolene Steenkamp is van mening dat met genoegsame inligting en die regte advies, die 2023-belastingseisoen nie vir jou ʼn kopseer hoef te wees nie.