Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Jou persoonlike handelsmerk en sosialemedia: bou só jou digitale reputasie

Geskryf deur dr. Hélanie Jonker, dosent in Kommunikasiebestuur by Akademia.

Gepubliseer op: 30 Junie 2023

Internasionale Sosialemediadag word vanjaar op 29 Junie gevier en bied aan alle sosialemediaverbruikers opnuut die geleentheid om krities na te dink oor die kwessie van digitale reputasiebestuur.

Indien ʼn potensiële werkgewer of kliënt jou naam in die Google-soekenjin sou voer, watter indruk sal hul kry van die soekresultate? Jou LinkedIn- en sosialemedia-profiele sal waarskynlik gevind word, gevolg deur enige nuusartikels met jou naam of enige ander webtuistes wat jou noem. Hierdie soekresultate is daarom eintlik die somtotaal van jou aanlyn reputasie en dit beïnvloed jou persoonlike handelsmerk.

ʼn Persoonlike handelsmerk is die bewuste pogings wat ʼn individu gebruik om persoonlike eienskappe op so ʼn manier te vertoon dat geloofwaardigheid verhoog word en openbare persepsie positief beïnvloed sal word. Dit is ʼn mite om te dink dat ʼn persoonlike handelsmerk slegs van toepassing is op beroemde smaakmakers, oftewel influencers, soos Kim Kardashian, bekende persoonlikhede of politici soos oudpresident Barack Obama.

Of jy nou ʼn student, dosent, kantoorwerker, entrepreneur, ontwerper of prokureur is, jou persoonlike handelsmerk kan jou help om uit te staan bo die res en blootstelling gee aan wonderlike en nuwe geleenthede. Boonop maak slimfone en gebruikersvriendelike sosialemediaplatforms dit deesdae maklik om aanlyn-sigbaarheid te verhoog en jou persoonlike handelsmerk moeiteloos te bestuur.

Voor jy egter wegspring om ʼn persoonlike handelsmerk vir jouself te skep, is dit belangrik om eers strategies te dink oor ʼn paar aspekte.

Eerstens, moet jy besin oor jou eie uniekheid: jou vaardighede, talente, kennisvlakke en karakter. Besin oor jou persoonlike waardes en dit wat vir jou belangrik is. Skryf ʼn kort en bondige handelsmerkverklaring waarin jy ʼn boeiende storie oor jouself vertel: wie jy is, wat jy doen, jou passies en talente. Jou persoonlike handelsmerkverklaring kan nie gebaseer wees op ʼn fiktiewe beeld nie, maar moet jou unieke menswees reflekteer. Maak gebruik van interessante teks, kwaliteit foto’s en video’s om jouself bekend te stel. Onthou: jou kleredrag en voorkoms is deel van jou persoonlike handelsmerk, so maak seker dat jy netjies en professioneel vertoon op digitale foto’s.

Tweedens moet jy bepaal wie jou belangegroepe is met wie jy graag in aanraking wil kom. Indien jou fokus is om die aandag te trek van potensiële werkgewers of korporatiewe vennote is dit belangrik dat jy jou vaardighede en vermoëns strategies uitwys. Onthou ook dat die beeld van jouself, wat aanlyn gekommunikeer word, moet ooreenstem met wie jy werklik is. Deesdae word daar ʼn hoë premie geplaas op egtheid om die valsheid wat dikwels op sosialemediaplatforms geskep word, teen te werk. Navorsing toon dat werkgewers dikwels potensiële kandidate vir poste oorsien, op grond van hul sosialemediaplasings. Redes wat aangevoer word sluit in die plaas van onvanpaste inligting, sensasionele foto’s of video’s, diskriminerende kommentaar en oneerlikheid oor kwalifikasies. Maak dus seker dat daardie vrypostige partytjiefoto’s, nie per abuis op sosiale media beland nie!

ʼn Ander belangrike aspek wat in gedagte gehou moet word, is dat digitale inhoud op so ʼn manier aangebied moet word dat dit gebruikers “uitlok” om meer van jou te wil weet, jou te onthou en met jou te wil skakel. Ons almal is bekend met die uitdrukking dat eerste indrukke blywend is. Voor die koms van digitale platforms, was eerste ontmoetings gekenmerk deur ʼn vriendelike groet, hartlike handdruk en breë glimlag. Kommunikasiekundiges is dit eens dat persoonlike kontak steeds die beste vorm van kommunikasie is, want nie net kan verbale kommunikasie (spraak) gehoor word nie, maar nieverbale kommunikasie soos gesigsuitdrukkings en handgebare kan waargeneem word. Die kans vir misverstande is dus minder en die geleenthede om ware verbintenisse te vorm is beter.

Ongelukkig vind min eerste kennismakings deesdae in persoon plaas. Die sitkamer of kantoor het plek gemaak vir die kuberruim. Dit is dan ook nie ongewoon om saam met mense te werk wat jy nog nooit persoonlik ontmoet het nie en daagliks mekaar net op Teams of Zoom te kontak. Juis om hierdie rede is dit so belangrik dat jou virtuele persoonlike handelsmerk deurlopend op so ʼn wyse gekommunikeer word dat dit ʼn positiewe ervaring is wat openhartigheid aanwakker.

Een van die groot voordele van sosiale media is dat dit homself juis verleen tot twee-rigting-kommunikasie. Knoop byvoorbeeld ʼn aanlyn gesprek aan met eweknieë in jou studieveld en bespreek relevante kwessies. Deel jou ervaring en beantwoord vrae in ʼn aanlyn gespreksforum. Reageer op aanlyn boodskappe deur daarvan te hou (like) of dit te deel (retweet of share).

Voorts is dit ook belangrik om die verskillende sosialemediaplatforms wat beskikbaar is, strategies te benut om jou persoonlike handelsmerk te skep en uit te bou. Elke platform het unieke eienskappe wat nuttig gebruik kan word om jou sigbaarheid te verhoog. So is LinkedIn byvoorbeeld ʼn ideale platform vir professionele persone. Facebook se algoritmes is so gestel dat die fokus op mense  wat jy reeds ken. Maak daarom seker dat jou Facebook-plasings gemik is op vriende en familie en dat daar gereeld iets interessants geplaas word. Wissel teksboodskappe af met mooi foto’s en oulike video’s wat aandag sal trek.

Twitter fokus weer op diegene wat jy nog nie ken nie. Die gebruik van hutsmerke verhoog sigbaarheid en kan strategies gebruik word om die aandag te fokus op jou unieke persoonlike handelsmerk. Op Instagram sal jy ʼn groot en uiteenlopende gehoor kan bereik en die analitiese gereedskap maak dit moontlik om jou te help om jou handelsmerkprestasie te meet en te verbeter.

Kenners maan egter dat boodskappe op die verskillende sosialemediaplatforms konsekwent en in dieselfde trant moet wees ten einde ʼn suksesvolle persoonlike handelsmerk te vestig. Belangegroepe moet deurlopend ingelig word van nuwe verwikkelinge ten opsigte van jou persoonlike handelsmerk soos byvoorbeeld ʼn nuwe kortkursus wat jy geslaag het, of ʼn nuwe korporatiewe vennoot saam met wie jy voortaan gaan werk. Dit is ook belangrik dat die inhoud wat gedeel word van goeie gehalte moet wees. Besin mooi en kies ʼn tema waarop jy wil fokus. Dit kan iets wees soos om weekliks ʼn oulike slagspreuk te plaas of ʼn video-skakel te deel van ʼn motiveringspreker wat jy volg.

Een van die suksesvolste, sigbaarste en konstante persoonlike handelsmerke, beide kommersieel en persoonlik, is Oprah Winfrey. Met haar weeklikse televisieprogram, boekklub, tydskrif, talle mediaverskynings en toevallige optredes in kruidenierswinkels en restaurante, is Winfrey deurgaans sigbaar en het sy ʼn ongelooflike sterk handelsmerk wat sy oor ʼn baie lang loopbaan handhaaf.

Laastens is dit belangrik om te onthou dat die persoonlike handelsmerk wat jy skep nie staties is nie, maar plooibaar. Soos wat jou loopbaan ontwikkel en jyself nuwe vaardighede aanleer, kan jou persoonlike handelsmerk dienooreenkomstig verander word. Skeduleer jaarliks ʼn spesifieke tyd wanneer jy jou waardes in oënskou neem en herbesin oor jou doelwitte. Hersien dan jou CV en sosialemediaprofiele. Kry vir jou ʼn sleutelfiguur wie se voorbeeld jy wil navolg en verbeter doelbewus jou persoonlike handelsmerk. Doen moeite met jou persoonlike ontwikkeling en poog deurlopend om nuwe kennis op te doen en vaardighede te ontwikkel.

Dr. Hélanie Jonker meen dat ʼn persoonlike handelsmerk plooibaar moet wees, en daarom voortdurend hersien moet word.