Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Wiskundige Wetenskappe – ’n trotse nuwe dagbreek vir Akademia

Gepubliseer op: 30 Junie 2020

Wiskunde is ʼn uitsonderlike vak omdat dit ʼn rol speel in baie uiteenlopende dissiplines, soos sosiale wetenskappe, ekonomiese kwessies en ingenieurswese. Só sê prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die nuutgestigte Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia. Hierdie fakulteit bied van 2021 af ʼn nuwe BSc (Wiskundige Wetenskappe)-graad by die Centurion-kampus aan.

“ʼn Goeie kennis van wiskunde hou ook talle voordele op ander lewensterreine in,” verduidelik Rautenbach. “Dit help ʼn mens om beter te redeneer en besluite teen mekaar op te weeg, dit bevorder kreatiwiteit en innovasie, en versterk ook abstrakte en ruimtelike denke. Verder verbeter dit probleemoplossingsvaardighede en effektiewe kommunikasie.”

Wiskunde bied dus baie meer as net ʼn klomp stellings en formules, sê Rautenbach. Daarom is ʼn goeie kennis van wiskunde ook deel van die toelatingsvereistes vir verskeie ander studierigtings en selfs ʼn intreevereiste vir etlike beroepe.

Die nuwe BSc (Wiskundige Wetenskappe) by Akademia is amptelik deur die Suid-Afrikaanse Raad op Hoër Onderwys goedgekeur en bestaan uit drie strome, naamlik wiskunde, toegepaste wiskunde en wiskundige statistiek. In die eerste- en tweede studiejare word voornemende studente aan al drie hierdie strome blootgestel, terwyl daar in die derde studiejaar gekies kan word om in twee van hierdie strome te spesialiseer. Daarbenewens word studente ook in die eerste studiejaar aan fisika en die rekenaarwetenskappe blootgestel.

Buiten die teoretiese kennis in wiskunde, streef Akademia daarna om ondersteunend die addisionele waardes wat wiskunde tot ʼn mens se lewensprofiel toevoeg, te bevorder. Volgens Rautenbach is daar drie maniere waarop die instelling beoog om dit doen. “Eerstens word ingewikkelde wiskundige konsepte, wat op sigself ʼn eiesoortige taal is, in die moedertaal Afrikaans aangebied. Tweedens sal studente aan studenteaktiwiteite en groepsgesprekke blootgestel word, met die doel om die dieperliggende waardes van wiskunde in denkpatrone uit te lig. Derdens sal die studente voorberei word om hulle kennis effektief na buite te kan kommunikeer in die wêreldtale wat daarvoor voorsiening maak.”

Met voltooiing van die BSc (Wiskundige Wetenskappe)-graad sal ʼn student goed toegerus wees om die beroepswêreld op verskeie terreine te betree. Hier is sewe moontlike beroepe wat alumnus met ʼn graad in BSc (Wiskundige Wetenskappe) kan oorweeg.

  1. Onderwys: Daar is ʼn groot behoefte aan wiskundeonderwysers of lektore op beide die basiese en hoëronderwysvlakke.
  2. Navorsing: As formele wetenskap kan wiskunde, toegepaste wiskunde en wiskundige statistiek van groot ondersteunende rol speel in verskeie navorsingsvelde.
  3. Finansiële beplanning: Die bankwese, versekering en die algemene finansiële markte is ingewikkeld en vereis gereelde analises en selfs voorspellings.
  4. Groot data: Groot hoeveelhede data op verskeie terreine word teen ʼn toenemende tempo ingesamel en moet tot bruikbare inligting verwerk word.
  5. Wiskundige modellering: In ons moderne samelewing word vereis dat ingewikkelde geïntegreerde prosesse verstaan en voorspel word, waarvoor modelle gebruik word.
  6. Nuwe beroepe in die Vierde Nywerheidsrevolusie (4IR): In die 4IR gaan aspekte soos kunsmatige intelligensie en elektroniese besluitneming ʼn groterwordende rol begin speel.
  7. Bestuur: Die addisionele waardes wat wiskunde toevoeg tot ʼn mens se lewensprofiel gee aanleiding tot goeie besluitnemings- en bestuursvaardighede.

 

Aansoeke vir studies in 2021 is reeds oop. Besoek www.akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888 vir meer inligting.