Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Ontsluit jou toekoms in die media- of kommunikasiebedryf

Gepubliseer op: 29 Junie 2020

In die snel veranderende wêreld waarin ons leef, speel goeie joernalistiek steeds – en toenemend – ʼn uiters belangrike rol. Só vertel dr. Alé Steyn, die programkoördineerder van Akademia se nuwe BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-graad, tydens ʼn gemeenskapsgesprek wat op 23 Junie digitaal deur die gesoute joernalis Freek Robinson gefasiliteer is.

Robinson onthou toe hy nog as jong joernalis vir vier of vyf dae vir ʼn uitsending voorberei het, en harde nuus nog van die Suid-Afrikaanse Persvereniging of Reuters ontvang is op lang velle papier wat gefynkam moes word. “Dit was ʼn baie lang proses en ʼn heel ander wêreld as vandag – en môre,” het hy gesê.

“Die joernalis van die toekoms moet digitaal dink en tred hou met hoe die bedryf en tegnologie verander”, sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. Sy het tydens die gesprek beklemtoon dat dit belangrik is vir jong joernaliste om deeglike kennis van digitale media op te doen.

“Vandag se joernaliste werk nie meer op ʼn spesifieke ‘beat’ nie, maar moet alle tipes stories kan skryf. Hulle moet videokameras en selfone goed kan gebruik, en moet sagteware baasraak om alles te verwerk. Sterk harde nuus moet binne 20 minute vandat dit plaasgevind het gepubliseer kan word, sonder om gehalte in te boet. Joernaliste moet dus op hulle tone bly.”

Al leef ons in die tyd van veranderende tegnologie en robotika kan ʼn joernalis nie met ʼn robot vervang word nie omdat oordeel aan die dag gelê moet word, het dr. Juran van den Heever, uitvoerende hoof van S-Leer, bygevoeg.

“Tog gaan dit al hoe belangriker word om tegnologies by te bly en jouself aanhoudend met nuwe vaardighede te bemagtig,” sê Van den Heever. “Vandag se jongmense word oplei vir beroepe wat nog nie bestaan nie. Ek het byvoorbeeld nooit opleiding in sosiale media gekry nie, maar toe uiteindelik as ʼn sosialemediakoördineerder werk.”

Steyn meen die rol van joernaliste in die samelewing is om sin te maak van al die inligting waarmee die gemeenskap toenemend toegegooi word. Joernaliste moet daardeur sif en betroubare inligting op ’n verteerbare en duidelike wyse aan die publiek weergee om mense te bemagtig. ʼn Joernalis se geloofwaardigheid moet bo alle twyfel wees en om dít reg te kry verg verantwoordelike en etiese optrede.

“Die manier waarop joernaliste werk verander beslis, maar die basiese take bly dieselfde. ʼn Joernalis moet goed kan skryf, betroubare bronne kan gebruik, en goeie verhoudinge met daardie bronne kweek. Hulle moet onderhoude kan voer en krities kan onderskei tussen inligting. Dít is sleutelvaardighede in ʼn joernalis se opleiding.”

Studente wat BA (Kommunikasie en Joernalistiek) by Akademia studeer, sal nie net gelei word om hierdie basiese vaardighede te ontwikkel nie; hulle sal ook goed kan funksioneer in ʼn digitale omgewing en verantwoordelik, sinvol en doelgerig binne bepaalde kontekste met digitale media kan omgaan. “Ons studente word vir die veranderende praktyk opgelei, met ʼn sterk fondament van basiese vaardighede,” sê Steyn.

Die manier waarop joernaliste opgelei word, moet ook by die veranderende wêreld aanpas. ʼn Dosent kan bloot die handboek vir ʼn klas opsom en van verwag word om dit in ʼn toets weer te gee, of studente kan eerder die gebeure in die nuus aan die hand van die teorie bespreek. “Só skep ons ʼn omgewing waarbinne ons aan studente die geleentheid gee om kritiese denkvaardighede te ontwikkel”, sê Steyn. “By Akademia is dit vir ons belangrik dat studente die vaardigheid ontwikkel om probleme raak te sien en op te los. Ons graad rus studente op dié manier toe vir die bedryf.”

Lombaard sê daar is ʼn groot leemte vir ondersoekende joernaliste in Suid-Afrika wat nie net op onmiddellike nuus fokus nie, maar bereid is om dieper te delf. Robinson stem saam en beklemtoon die ondersoekende joernalis se belangrike rol om die regering en ander magshebbers verantwoordelik te hou vir hul besluite en aksies. “Ondersoekende joernalistiek vorm deel van die struktuur van ʼn demokrasie en is daarom onontbeerlik,” sê Robinson.

Steyn glo daar is meer geleenthede as uitdagings vir voornemende joernaliste. “Dis eintlik ʼn baie opwindende tyd as jy bereid is om aan te pas en nuwe vaardighede aan te leer.”

Akademia bied vanaf 2021 BA (Kommunikasie en Joernalistiek) voltyds op die Centurion-kampus aan. Vir meer inligting oor Akademia besoek www.akademia.ac.za, e-pos navrae@akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888.

ʼn Skermskoot uit ʼn regstreekse gemeenskapsgesprek wat op 23 Junie op Akademia se Facebook-blad uitgesaai is. Freek Robinson (regs onder) fasiliteer ʼn paneelbespreking met dr. Alé Steyn, programkoördineerder van BA (Kommunikasie en Joernalistiek) by Akademia (regs bo); dr. Juran van den Heever, uitvoerende hoof van S-Leer (links bo); en Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (links onder).