Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Afrikaanse filosoof in “internasionale” gedenkbundel vereer

Gepubliseer op: 25 Junie 2020

Akademia het onlangse nóg ʼn eerste prestasie bereik in die publikasie van haar eerste oorspronklike boek, Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen. Akademia Uitgewery het reeds in 2018 ʼn Afrikaanse weergawe (uit die Grieks vertaal deur dr. Piet Boshoff) van Plato se verdediging van Sokrates – wat beskou word as een van dié hoekstene van Westerse filosofie – uitgegee.

Prof. Danie Goosen word beskou as een van dié vooraanstaande lewende Afrikaanse filosofiese denkers. In sy latere werk hou hy homself veral besig met die rol en toekoms van die Afrikaners, asook die lewenskragtige konsep van gemeenskap. In hierdie bundel word daar hulde gebring aan dié hedendaagse denkleier, en word die ryke invloed van Goosen se intellektuele arbeid op prominente plaaslike akademici en gemeenskapsleiers illustreer.

Dit dalk juis verskeidenheid vooraanstaande gemeenskapsdenkers vanuit sowel die Afrikaanse wêreld as uit Europa en die VSA wat hier beduidend is van watter diep spore Goosen getrap het. ʼn Treffende voorbeeld is die bydrae van Alain de Benoist, Franse filosoof en “hoofideoloog” van die hedendaagse rewolusionêr-konserwatiewe gedagte. Waar De Benoist aanvanklik ’n groot invloed op Goosen uitoefen, is dit tekenend dat Goosen se werk ook ʼn wederkerige invloed op De Benoist het, soos vergestalt in die hoofstuk oor die denke van Carl Schmitt wat hy tot die bundel bydra.

Ander internasionale bydraers sluit in John Milbank (emeritusprofessor aan die Universiteit van Nottingham), R.R. Reno (redakteur van die Christelike vaktydskrif First Things), Graham Ward (Regius Professor aan die Universiteit van Oxford), en Ad Verbrugge (Nederlandse filosoof verbonde aan die Vrije Universiteit Amsterdam). In hierdie opsig kan Knooppunte tereg beskou word as een van die mees betekenisvolle “internasionale” gedenkbundels wat in ʼn lang tyd deur ’n Afrikaanse uitgewer gepubliseer word.

Plaaslike medewerkers hoef egter geensins terug te staan vir hulle oorsese genote nie, en sluit prominente akademici en gemeenskapsleiers soos prof. Pieter Duvenage, prof. Kobus Krüger, prof. Hermann Giliomee, prof. Marinus Schoeman, Flip Buys en dr. Dirk Hermann in. Die bundel staan onder redaksie van prof. Koos Malan, prof. Johann Rossouw en dr. Carel Boshoff, wat almal ook hoofstukke bydra.

Die boek word tematies verdeel in persoonlike beskouings en die agtergrond van Goosen se lewe, sy bemoeienis met politieke teologie, sy verdieping in politieke filosofie, en sy hantering van die konsepte “gemeenskap” en “identiteit”. Alhoewel Goosen homself al ʼn geruime tyd op hierdie onderwerpe toespits, is veral sy werk oor gemeenskap en identiteit vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap meer belangrik as ooit in lig van die globale – maar veral plaaslike – sosiale en politieke ontwrigting wat Covid-19 steeds tot gevolg het.

Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen is te koop op Die Winkel en by Protea Boekwinkel se hooftak in Pretoria.

Klik hier vir ʼn uittreksel van die boek.

ʼn Digitale boekbekenstelling vind Donderdag 25 Junie om 19:00 op Akademia se Facebook-blad plaas. Kyk dit regstreeks hier.

 

PrysR350 (huidige promosieprys van R300)
FormaatSagteband
ISBN978-0-620-85856-4
Bladsytelling507
OnderwerpAktueel, filosofie, huldigingsbundel
PublikasiedatumJunie 2020