Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

’n Vrou is gebou om te hóú

Gepubliseer op: 3 Julie 2020

Daniëlla du Preez is ʼn dosent in Bestuursrekeningkunde by Akademia. Maar sy is ook besig met haar meestersgraad, swanger én was alleen verantwoordelik vir hulle klein seuntjie terwyl haar man as gevolg van Covid-19-inperkingsmaatreëls in die buiteland vasgekeer was.

“Kobus het vir die afgelope 15 maande in Zambië gewerk en hy kon net elke agt weke huis toe kom. Hy is op 1 Maart terug werk toe na ʼn blaaskans saam met my en klein JP. Met die inperkingsregulasies kon hy eers op 11 Junie weer by ons uitkom,” vertel sy.

Hierdie omstandighede het daartoe gelei dat Du Preez as werkende vrou en tydelike enkelouer ʼn hele paar balle in die lug moes hou. Sy het boonop ʼn week voordat die inperkingstyd in werking getree het uitgevind dat hulle binne ʼn maand uit hul huurhuis moes trek.

“Ek het na ʼn paar plekke gaan kyk en omdat die rentekoers gunstig is kon ons nou ons eie plek bekostig, so ek het huis gekoop sonder dat Kobus die eiendom hoegenaamd gesien het. Een genade wat die inperking my bewys het, is dat ons nie op daardie stadium kon trek nie.”

Du Preez se vierjarige JP kon ook nie meer kleuterskool toe gaan nie. “Van net mamma wees moes ek vinnig aanpas om 24/7 juffrou, mamma en maatjie vir hom te wees. Weens die inperking moes ek ook vinnig my nuwe take as tuinier en skoonmaker baasraak.”

As voltydse dosent by Akademia het sy gelukkig nog werk gehad, anders as baie ander mense. “Die grootste genade was dat ek steeds ʼn inkomste kon verdien, so die finansiële bekommernis wat duisende mense ervaar, het ek gelukkig vrygespring. Die feit dat ek steeds my werk – my passie – daagliks kon uitleef was ʼn reddingsboei tydens hierdie storm. Die empatie wat my kollegas en lynbestuurders by Akademia het, is regtig besonders en skaars.”

Du Preez se werk is inderdaad haar passie en trots. Daarvan getuig Surica Victor, een van haar Bloemfontein-studente.

“Vir ʼn 45-jarige eerstejaar BCom (Bestuursrekeningkunde)-student, wat vir die eerste keer in haar lewe tersiêre studies aanpak, is ses modules en ʼn eerste semester ʼn skrikwekkende, uitdagende en opwindende nuwe lewenservaring. Voeg die Covid-19-pandemie by die mengsel en dit ontaard in chaos. Wat ʼn voorreg as ʼn dosent soos Daniëlla du Preez in dié uitsonderlike tyd jou pad kruis. Sy verduidelik begrippe prakties en verstaanbaar en is altyd gereed om navrae tydig te beantwoord. Dosente van haar kaliber, wat bereid is om die ekstra myl vir studente te loop, is dun gesaai en sy het ʼn reuseverskil in my lewe en toekoms gemaak.”

Sunette van Lingen vertel ook van die passie waarmee Du Preez haar werk aanpak. “Ek het na skool my Nasionale Diploma in Interne Ouditkunde verwerf, met die vakke Koste­rekeningkunde en Bestuursrekeningkunde as deel van die kwalifikasie. Toe ek verlede jaar by Akademia inskryf en sien ek het dieselfde module, was ek bietjie moedeloos, aangesien ek nie die vak verstaan het nie en op genade deurgekom het. Dankie tog vir Daniëlla, sy verduidelik Bestuursrekeningkunde sodat ek dit ná al die jare uiteindelik verstaan! Sy het ʼn passie vir haar module! Sy doen ekstra moeite met moeilike onderwerpe en maak ekstra video-opnames om dit te verduidelik. Nog elke keer wat ek ʼn vraag aan haar gerig het, het sy flink geantwoord en uit haar pad gegaan om my te help.”

Du Preez het dus baie van haar tyd aan haar werk bestee, en wanneer sy nie besig daarmee was nie, het sy agter die boeke ingeskuif om haar meestersgraad in hoër onderwys te voltooi. “Ons is boonop geseënd om ons tweede bondel liefde te verwag, so tussen alles deur moes ek myself en hierdie klein wonderwerk ook goed versorg.”

Wat vir haar die swaarste was, is die feit dat daar net nie genoeg ure in ʼn dag is om by alles uit te kom nie. By tye moes sy net aanvaar dat sy nie alles gedoen gaan kry nie. Tog het sy met baie gebede hierdie moeilike tyd oorleef en geleer om te midde van konstante onderbrekings te werk, te studeer en te lewe.

“Die wete dat ek nie alleen is nie, het my staande gehou. Almal is in die Covid-19-storm, maar almal se boot lyk anders. Ek hou vas aan die geloof dat die storm een of ander tyd móét rustiger raak,” sê sy.

Vir ander mense wat groot uitdagings in die gesig staar danksy die Covid-19-pandemie, is Du Preez se raad om elke dag net die een voet voor die ander te sit, op jou knieë te bly en die beste te doen wat jy kan.

“Dis oukei om slegte dae te ervaar. Wonder bo wonder skyn die son weer more en jy gaan weer beter voel en nuwe moed en krag kry. Alles wat op jou lewenspad met jou gebeur, kan jy hanteer,” sê sy.

Links na regs: Daniëlla, JP en Kobus du Preez, met die tuiskoms toe Kobus na drie weke se probeer by sy familie kon aansluit nadat hy vir werk in Zambië was.
Links na regs: JP, Kobus en Daniëlla du Preez in Desember 2019 tydens ʼn besoek aan Zambië.